Tel op jou gemôs, djy’s mossie by jou huisie

  • 0

Ek kan dittie vestaanie. Dissie soes ’n mens se ma mensie geleerit om skoon te maak agte jouselfie.

Sondag wassit mos ’n lekke warme dag innie Kaap. Die wind was soe bietjie woes, maa dit hou ’n mens mossie somme vannie beach affie. Wan wie wil dan nou nie jou toontjies lekke innie water drukkie, en dan jou onnerbiene, en dan soe tot onner jou hol, en dan doenie branders mossie res. Te lekke! Ek kan onthou as kind hoe lekke dit was oppie Macassar se strand, mettie gebraaiery, ennie wegstiek agter ienige muurtjie wat djy kan kry, wannie sand hettie gespeel met sweepslattie.

Maa wat my altyd gekry het, was hoe afgesloof ôs se beache altyd was. Die toilets was besmet, ennie mure vannie pools het afgedop, en natuurlik was dit soes mens ’n leeu sien as djy ’n wit mens gewaar. Nie vi wattie, maa mens sien mossie sulke goed op ôs beache nie. Ek het maa altyd gewonner, but hoekô. Oppie Strand se beach wassit ’n anner ding. Daa was dele vannie beach waa die kallids gegan het en dan was daa dele waa die wit mense heeltemal nie geloep hettie. En dan was daa dele waa nettie swat mense ennie kallids geswem het.

Ek was lanklaas daa, maa die foto’s wat ek sien, lyk maa nog steeds dieselle soes ek dinge kan onthou.

Maa vedag gannie vi my rêrig oo die rasse en hoe ôs ôsself volgens kleur opdeelie. En dis glattie mee ’n deliberate keuse soes daai juffrou innie noorde nie. Niee, dis soe ’n unconscious ding wat mens doen. Divide and rule tactics wat soe oppie binnekant van ôs vel ingebrand is. Vedag gat vi my oo hoe môsag mense rêrig is. Ek kan nie praat virrie wit of swat mense nie, wan ek was Sondag tussen ’n bolling kallids op St James beach, ennie vader wiet. In loepende of spoelende water het ôs geswem, maa dit het gelyk soes mens op ’n tiep. Ek was vi tien minute in daai water. Dit was lemoenskille, waatlemoenskille, ’n foam cup wat een of anner leigat opgebriek het en dit net daa innie water gesmyt het. Ampe soes dit mos nou magically gat vedwyn. Ampe soes Harry Potter se Uncle oek daa innie rondte geswem het. Dit was mielestronke en papiere en hierie McDonald’s Heppy Meal-speelgoed.

My bloed het geborrel, wan wat issit dan nou rêrig om net daai vullis in ’n drom in te gat gooi.

Dit het my lat dink oo hoe die storie van hoe môsag kallids en swat mense is, ôs agtevolg vi baie djare al. En dissie om te sê ôs is môsagie. Maa ek het al agtegekô dat as djy as kallid ’n ding in ’n drom gooi, dan issit soes djy staan tien jou mense, wan ommie paaie veil te gemaak het innie veliede was mos sieke oek ’n rebellious act tienoo die apartheidgawement. Wan as dittie dit issie, dan wat issit? Wan djy wôd van kleins af gelee om agte jouself skoon te maak, en as djy dittie gedoen hettie, dan was djy gebliksem. Ek mien vestaan mense nie dat die omgewing oek deel is van hulle huisie?

Nie ‘n wonner die ryk mense van Clifton wil ôsie daa hê nie, wan ôs wietie van ’n plek skoon hou nie. Einlik is ek vekeerd – maak nou nie saak hoe skoon ’n kallid, swat of wit mens djy issie, hulle wil jou anyways nie daa hê nie.

Soe ’n laaste gedagte.

Kan die mense wat soe betoog oorie beache en animal cruelty, oorie regte goed betoog? Daa lê hoekal stukke steaks in hulle yskaste, maa as djy dit byrie slaghuis koep, dan issit mossie animal cruelty nie. Die mense het rêrig tyd vi jokes. En julle juffrouens en menere wat soe die kinners opdeel volgens kleur: gie aire les oo hoe om ’n bietere Suid-Afrikaner te wies in daai tien minute wat djy nou gevat het om daai kinners op te deel. Ek mean maa dis 2019 – wie’t dan nou nog tyd?

Die anne dag op pad Kaap toe mettie Woeste-trein, en die trein is chock-en-block vol. Dis lekke gesellig en mense praat en lag en alles is net lekke. Ek en een vannie trein se securities beginte toe praat oo die geskiedenis vannie land en soe. ’n Lekke gesprekkie vir ’n lang trein trip. Hy sê toe dat die land issie die swattes sinne nie, maa die kallids sinne. Hy gan toe an om te vetel hoe sy voo-ouers uitie weste van Afrika getrek het Kaap toe. Ôs gan toe soe an om te praat van wie is African en wie issie.

Ek vra hom toe of hy kan sien dat die wit mense van Suid-Afrika oek African is. Hy kyk my soe snaaks an. Ek sê toe, maa kyk hulle net, dan sal djy die Boesman, Khoi en Nguni se bloed daa sien sit.

Hy wassie oorreed oo dittie en het somme baie gou die subject ge-change, maa ek bet jou dat as Suid-Afrikaners moes amal gegan het vi ’n DNA, dan sal ôs mee in common het dan wat ôs dink.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top