Teaterresensie: Waterpas

  • 0

Teks: Wessel Pretorius
Regie: Christiaan Olwagen
Met: Francois Jacobs, Hannah Borthwick, Roeline Daneel, De Klerk Oelofse, Wessel Pretorius.

Waterpas is die nuutste komedie uit die stal van Polony, die Stellenbosse teaterkollektief wat verantwoordelik was vir die suksesvolle N is vir neurose, Tjop en dop en Die lelike eend. Dit was in die Vryfeesprogram beskryf as ’n “’n eksistensiële laslap-komedie” en volgens Beeld het Polony daarmee ’n “Monty Python-tipe” variétévertoning beoog.

Die vertoning begin met Wessel Pretorius wat bieg dat hy in die knyp is: hy het onderneem om ’n teks vir ’n kunstefees op ’n bepaalde datum gereed te hê. Hierdie datum het aangebreek en as gevolg van skrywersblok het hy niks om vir die kunstefees te bied nie. Die “laslap-komedie” wat volg, is dus ’n samevoeging van die kiem van verskeie idees vir teaterstukke wat om een of ander rede nie verwerklik is nie, soos Pretorius se tong-in-die-kies idee van ’n musiekblyspel oor die lewe van Sally Field. Gewoonlik is hierdie tipe aankondiging ’n afleidingsmaneuver: ’n skrywer wat heel bedees verskoning maak vir ’n vertoning wat dan alle verwagtinge oortref. In die geval van Waterpas het ek egter gevoel dat die resultaat van Pretorius se skynbare skrywersblok nié die verwagtinge wat aan die begin van die vertoning geskep word, oortref nie.

Daar is van die sketse wat snaaks is, soos byvoorbeeld die Kortbroekie-crèche wat deur ’n drankverslaafde “Juffrou Heidi” (gespeel deur Roeline Daneel) onderrig word in (onder meer) die sonbriletiket in Kaapstad. So ook Laerskool Hannes Visagie se skoolkonsertopvoerings van bekende films. Die teks is hier en daar satiries van aard wanneer dit die draak steek met die wit middelklas se oningeligtheid oor hulle onmiddellike omgewing. Tog is hierdie satire bra flou en voorspelbaar. Die sketse wat vir “Sus en Daan” (uit die laerskoolleesboekies van die apartsheidsera) uitbeeld – en veral Daan (gespeel deur De Klerk Oelofse) se masturbasietoneel – is onoorspronklik.

Verder kan die skets van twee monogame, homoseksuele swane aanstoot gee. Hoewel Pretorius sy karakter aanvanklik aan die gehoor bekendstel as “’n moffie met net Afrikaans I agter sy naam” en die hele vertoning in ’n baie kamp opvoeringstyl aangebied word (’n silwer fraiinggordyn maak deel van die dekor uit), maak hierdie skets staat op die homofobie van die gehoor. As die twee swane voer Oelofse en Francois Jacobs lomp balletpassies uit op die maat van die kenwysie van Tsjaikowski se ballet Swanemeer. Die twee spelers beweeg telkens nader aan mekaar, soos die spanning en passie tussen die swane opbou. Elke keer nes hulle mekaar wil soen, ruk die spelers weg, asof hulle skielik “onthou” hulle stel swane voor, en beeld dan die soen uit deur middel van hul hande en arms wat die koppe en nekke van die swane voorstel. Die humor hiervan berus grootliks op die moontlikheid van ’n verhoogsoen tussen twee manlike akteurs en die verligting wanneer dit dan slegs met hul hande gesuggereer word. Die aanname is dus dat hoewel die gehoor oopkop genoeg is om ’n komedieskets van twee monogame gay swane te geniet, ’n verhoogsoen tussen twee mans taboe bly. Die swaneskets eindig dan ook op ’n baie stroperige manier en hierdie stroperigheid steek ook elders in die teks kop uit. Binne so ’n postmodernistiese komedie voel dit of die soetsappigheid ’n poging is om dié gehoorlede wat dalk op soek is na ’n meer geslote struktuur, te paai.

Hoewel die spanning en die energie van die vertoning heelwat gedaal het teen die vierde bedryf, was die spel oor die algemeen baie goed. Hierdie akteurs ken die genre van komedie duidelik goed en hulle speel gemaklik saam. Hannah Borthwick is veral vernuftig in die uitbeelding van randfigure of ongemaklike karakters, terwyl Roeline Daneel en Wessel Pretorius se veelsydigheid beïndruk.

Dit is dus jammer dat hierdie energieke, jong teaterkollektief nie hul vorige (uitstekende) produksies kon opvolg met iets skerper en meer opwindend as Waterpas nie.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top