
Foto verskaf deur die Baxter-teater
The opera singer is tans by die Baxterteater te sien. Op die oog af is hierdie toneelstuk ’n gesprek tussen twee figure – die afgetrede operasanger (vertolk deur Fiona Ramsay) wat aan die einde van haar loopbaan en lewe is, en die jonger joernalis (Owain Rees-Davies) wat naam probeer maak deur profiele van bekendes te skryf.
Die stuk raak egter dieper temas aan, soos die wêreld van roem en die eensaamheid waarmee bekendes dikwels worstel. Verlore liefde en die soeke na liefde kom ook sterk deur, met die treffende reël wat deur Ramsay gelewer word: “Adoration fades, but love is what remains when it goes dark.”
Ramsay lewer deurgaans ’n boeiende vertoning met haar uitrusting en haarstyl wat sterk aan Maria Callas herinner. Die operasanger is egter ’n universele figuur, met geen verwysing na een spesifieke historiese figuur nie.
Rees-Davies lewer ook ’n goeie vertoning as die senuweeagtige joernalis, met ’n onverwagse oomblik van sang wat die gehoor betower met sy stem. Hy lewer ook die laaste woorde van die toneelstuk, en tref die gehoor met ’n oomblik van rou emosie.
Die tussenspel tussen die twee figure is deurgaans interessant – daar is elemente van spanning en jaloesie asook ’n emosionele verbintenis.
The opera singer neem die gehoor op ’n emosionele reis en bied oomblikke van besinning oor die proses van oudword, die stand van roem in ons samelewing en die stryd van vrouens om verskeie rolle in die samelewing in te neem. Die spel tussen die meesterlike Ramsay en die jonger Rees-Davies is boeiend en dit laat die kyker met baie stof tot nadenke wanneer die gordyn finaal gesak het.
The opera singer
Met: Fiona Ramsay, Owain Rees-Davies
Regie en geskryf deur: Janna Ramos-Violante
90 minute
Baxter Studio, Kaapstad
19 Januarie – 7 Februarie 2026
Kaartjies: R160 – R230 deur Webtickets

