
Dis Movember, die bynaam wat "mo" van "moustache” en “November” saamvoeg. "Jy dra jou 'badge' op jou gesig," sê Louis Raubenheimer van www.movember.com op RSG omtrent die Movember-veldtog. "Ons hoop dat daardie snor op sy gesig mense met mekaar in gesprek sal laat tree oor manlike gesondheid."
Die toneelstuk The last moustache, wat reeds by die Nasionale Kunstefees in Grahamstad en elders gespeel het, het op 5 November in die Baxterteater in Kaapstad geopen. "Bring gerus jou snor saam," staan op die media-uitnodiging. Die verband tussen die toneelstuk se naam en die speeltydperk is dus nie toevallig nie.
Tim Plewman lewer 'n sterk vertoning in dié eenmansatire (deur Greg Viljoen) wat speel met vrae oor wat werklik in die geskiedenis plaasgevind het. Was Hitler inderdaad dood toe aangekondig is dat hy dood was? Of was dit 'n soort rookskerm? Die toneelstuk betrek ook die lewe van die akteur en hoe die rol wat hy vertolk, sy ware lewe kan oorneem. Verdere implikasies is dat ons almal in die samelewing elke dag akteurs is wat sekere leuens in stand hou. Tim Plewman vertolk die rol van Hitler en ook die rol van die akteur wat speel dat hy Hitler is.
Die gehoor ontmoet die laaste oorblywende Hitler-dubbelganger, Heiner Schmidt. Schmidt glo hy was eenmaal bekend en suksesvol, maar sy onderliggende selftwyfel is wel duidelik. Die verhaal is eintlik Schmidt s’n en glad nie Hitler s'n nie: Hoe klim hy, wat gedwonge Hitler moet speel, weer terug vanuit die karakter wie se rol hy vertolk, in sy eie lyf? Volgens die toneelstuk het die staat hom gedwing om Hitler te vertolk. Maar nou het hy werklik Hitler geword.
Die snor onder bespreking is baie kenmerkend. Dis hierdie snor wat Plewman sigbaar omvorm van die akteur wat Hitler vertolk na die ware Hitler (maar wanneer ís hy dan die ware Hitler, want nou lyk die akteur dan opeens nes die mens in wie se vel hy geklim het ...?). Tog word die snor vir my in die stuk niks méér as 'n slim rekwisiete (“prop”) nie. Die een wat die snor dra, word wel die betrokke Führer, dit is so. Maar die snor is bloot 'n kenmerkende vermomming – of dit dan nou is sodat die akteur wat Hitler word, soos Hitler lyk, of sodat dit deur die verwydering daarvan die teenoorgestelde bewerkstellig. Dis wel 'n prop wat met mens se kop smokkel!
Om te veralgemeen: The last moustache is 'n manlike toneelstuk. Dit handel oor onderwerpe wat met mans geassosieer word: oorlog, krag, mag en die fallus. Ook die musiek wat gebruik word, betrek manlikheid. Die stuk open met die luidrugtige musiek deur Hitler se gunsteling-komponis: die Walkure-overture deur Richard Wagner.
Plewman is snaaks en vermaaklik. Hy lewer sy spel met groot entoesiasme en drif. Dit moet 'n baie uitputtende rol wees om te vertolk, en tog lyk hy nooit moeg nie. Slegs wanneer die toneelstuk dit vereis. Die einde is plofbaar.
Maar of die toneelstuk waarlik 'n gesprek open oor manlikheid, soos wat diegene wat by die Movember-veldtog betrokke is, dalk ook beoog (maar om gans ander redes?), is ‘n moeilike vraag om te antwoord. Dalk is dit glad nie die oogmerk van die toneelstuk nie. Dalk handel dit nie oor al die kompleksiteite wat ek, van buite en as vrou, oor al die aspekte van manlikheid waarneem nie.
Dalk is dit nie die doel van die toneelstuk nie.
Tog: in hierdie toneelstuk kan mens lag én dink. Die toneelstuk open gesprek - oor spieëls en raaisels, oor wat mens moet glo in die media en van almal rondom ons se perfekte Facebook-tentoonstellings. Maar miskien, vir 'n toneelstuk met 'n sentrale snor op sy gesig, was hier dalk ruimte vir dieper grawe, vir die oopspeel van ongemaklike onderwerpe, vir nog méér van wie agter die snor wegkruip.
The last moustache speel nog tot 22 November 2014 in die Baxterteater in Kaapstad: www.baxter.co.za.

