Teaterresensie: Pythonesque

  • 0

Pythonesque
Met Russel Savadier, Graham Hopkins, Robert Fridjhon en Theo Landey
Regie: Alan Swerdlow
’n Pieter Toerien-produksie in The Theatre On The Bay. Tot 11 April.
deur Danie Botha

“Monty Python” ... Dis ’n begrip in die komediekuns. ‘n Mens weet hulle soort vermaak val nie in almal se smaak nie. Jy kies jou gaste reg. Jy stel jou vooraf reg in sodat jy begin uitsien na maltrappe se bewegings, gesigsuitdrukkings, stemakrobatiek, fopdossery en veral na die sfeer van gewaagdheid, verspottigheid, absurditeite en veroorloofde oordrywing. Met die oorspronklike Britse televisiereeks Monty Python Flying Circus (1969-1974)was dit hulle doel “to offend absolutely every one”. Dit is seker nie ernstig bedoel nie?! (Met hierdie opvoering gebeur dit byna-byna met die verwysings na God en veral Jesus, veral nou met Paasfees.)

Ons is bevoorreg om die werk te ervaar van ‘n regisseur en vier akteurs wat almal baie ervare, bekend en gewild is. Ook die beligting, klank en kleurryke stel is deur voorste teaterlui geskep.

Dis heerlik om die spelers se komiese tydsberekening te sien. Dis seker nêrens so wonderlik as in ’n parktoneel waar drie “dames” die gehoor bestook met goed uit hulle bruinpapiersakkies. Ek was te ver van die verhoog om te sien wat dit is. Kyk net hoe wag hulle tussen die gooiery deur en die volgende oomblik doen een dit weer. Groot pret toe ’n gehoorlid hulle begin peper.

Daar is ook bv amusante sketse van “silly walks”, hoe om die verhoog se vierde muur te deurbreek, en om ‘n minuskule budjie te koop. Beatle George Harrison maak ‘n goeie indruk; Pasolini raak darem onbeskof, hoor!

As ’n bindingsmiddel tussen die talle sketse deur het ons die hiernamaals. Russel Savadier sukkel om as Graham Chapman, ‘n Monty Python-lid, deur die stralende hek te stap. (Kort-kort word die dekorstuk opgestoot; dit raak vervelig; mens begin sug: tog nie weer nie!) In die proses verneem ons van sy ongewildheid vanweë sy onvoorspelbaarheid, en dat hy ’n gay was. Alles baie oorsigtiglik. Ek herinner my nie dat veel oor sy alkoholisme gesê is nie.

Daamee is ek by ’n ongemaklikheid van die teks. Die toneelstuk is die derde in ’n trilogie wat Roy Smiles geskryf het oor figure in die moderne geskiedenis van komedieteater. Jy kom agter dat die vier akteurs ses van die Pythons vertolk. Naas Savadier se Chapman is daar Graham Hopkins wat al die speelkanse deeglik benut met die rol van John Cleese, Robert Fridjhon is Terry Jones en Michael Palin terwyl Theo Landey Terry Gilliam en Eric Idle is. Bietjies biografiese besonderhede word ingevleg in hulle spraakbeurte. Dié dokumentêre inslag vertraag soms die komiek, trek jou aandag daarvan af.

Voorts word in die program en ander inligtingsbronne genoem dat Smiles die oorspronklike sketse parodieer, of pastiches van hulle maak. Nou raak ek agterdogtig.

Ons wat nie die oorspronklikes ken nie, kan nie oordeel of dit verbeterings is nie. Sou die oorspronklikes ons nie tog sterker meegevoer het nie? Geoordeel aan ’n hele aantal van hierdie sketse wonder ’n mens waarop die groep se gewildheid berus. Iemand het ná die tyd gewonder of hulle werk nie dalk te veel verouder het nie. Lewer die verwerking nie te mak vermaak op nie?

Die stuk hoort tot die genre teater-oor-teater. Daarom ook die amusantheid van die “blapse” met die aankondigings vir die gehoor. Maar ander werk in dié genre boei sterker met ’n intrige of met ’n opbou.

Op die Saterdagaand hét die gehoor baie gelag, maar ’n ovasie het nie ontstaan nie.

www.theatreonthebay.co.za/pythonesque

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top