
Foto: Dariusz Sankowski | Pixabay
Ontbreek politieke wil om oplossings te bied aan Suid-Afrika se probleme en uitdagings? ’n Verwysing na die Lily-mynramp in 2016 en ’n vergelyking met die Chileense mynramp wat in 2010 plaasgevind het.
...
“Te veel van die regering se besluite is polities eerder as verstandig. Politieke wil ontbreek op groot skaal om verskeie kwessies van nasionale belang aan te spreek en om met daadwerklike optredes vorendag te kom,” sê Danie van Wyk, uitvoerende voorsitter van die DAK Netwerk.
...
Op 5 Augustus 2010 het die Chileense mynramp plaasgevind – ook die Copiapó-mynramp genoem – toe ’n goud- en kopermyn ineengestort het. Die myn het behoort aan die San Esteban Primera-mynmaatskappy en was geleë in die Atacama-woestyn in Chili. Hierdie tragiese gebeurtenis het 45 kilometer noord van die stad Copiapó plaasgevind. Toe die nuus breek en die tragedie bekend word, het reddingsorganisasies onmiddellik aan die werk gespring en op 13 Oktober 2010 is die 33 vasgekeerde mynwerkers vanuit hul ondergrondse graf bevry en gered ná 39 spanningsvolle dae van afsondering sonder kontak met die buitewêreld. Hierdie voorval het internasionale belangstelling gelok omdat daar nie met sekerheid bevestig kon word of enige reddingsaksie, van watter aard ook al, suksesvol sou wees nie. Hierdie groep het bekend gestaan as “Los 33” en ’n rolprent is later vervaardig om hierdie gebeure uit te beeld en te verewig.
Een van die mynwerkers, Mario Sepúlveda, is later “Super Mario” genoem omdat hy deur die hele traumatiese ervaring die res van die groep positief beïnvloed het en ’n rolmodel vir sy mede-mynwerkers was. Hy het hulle aangemoedig om nie moed te verloor nie en om ook fisies fiks te bly. Uiteindelik is hulle bevry deur middel van innoverende metodes wat nog nooit voorheen in die geskiedenis van mynwese aangewend is nie. ’n Loodstonnel is geboor om die vasgekeerdes van suurstof, water en voedsel te voorsien. ’n Stelsel is ontwerp om met hulle te kommunikeer en te verneem na hulle welstand. NASA, die Nasionale Amerikaanse Lugvaart- en Ruimteadministrasie, het betrokke geraak en hulp verleen deur die ontwerp van ’n kapsule wat die vasgekeerde mynwerkers een vir een na die oppervlak kon bring. Selfs ’n bekende Suid-Afrikaanse myningenieursmaatskappy is genader deur die Chileense owerhede om hulp en advies te bied en deel van die reddingsoperasie te word.
Hierdie myn was volgens alle inligting beskikbaar ’n ramp-in-wording omdat vorige waarskuwings op dowe ore geval het. Owerhede het die waarskuwings geïgnoreer en het nie daarop ag geslaan nie. Hierdie ramp het die fokus opnuut geplaas op die risiko’s waaraan mynwerkers op ’n daaglikse basis blootgestel word.
’n Reuseboor, genoem die Strata 950, het toegangstonnels tot die myn geboor na die mynwerkers wat op ’n diepte van 633 meter vasgevang was. Hierdie reddingsoperasie was oor die wêreld gebeeldsaai en dit was naas die maanlanding, die grootste nuusgebeurtenis van die eeu. Die vraag mag ontstaan waarom hierdie reddingsoperasie weer op die voorgrond geplaas word? Wel, hierdie mynramp het iets gemeen met ’n mynramp wat in Suid-Afrika plaasgevind het op 5 Februarie 2016. ’n Soortgelyke tragedie het by die Lily-goudmyn, naby Barberton, Mpumalanga, plaasgevind. Daar is ooreenkomste tussen hierdie twee tragiese gebeurtenisse, maar ook wesentlike verskille. Drie mynwerkers naamlik Pretty Nkambule, Solomon Nyirenda en Yvonne Mnisi het omgekom toe die myn ineengestort het op die plek waar die skeepsvraghouer, wat in ’n kantoor omskep is, in ’n sinkgat in die dieptes verdwyn het en hulle na hul myngraf gestuur het.
Die verdere verskil is dat hierdie drie werkers steeds ná ses jaar ondergronds vasgekeer is. Die publiek, asook hul families soek antwoorde vir wat presies op daardie dag gebeur en wat tot hul dood gelei het. Ná vele oproepe is ’n nadoodse ondersoek deur die Mbombela-landdroskantoor geloods. Die finale verslag het aangedui dat ’n stutpilaar meegegee het wat uiteindelik tot die ineenstorting gelei het. In die verslag word verder beweer dat die mynbestuur en eienaars van die myn nie verantwoordelik gehou kan word vir die ineenstorting wat tot die tragedie gelei het nie.
Familielede en lede van die publiek kamp daagliks by die ramptoneel uit om die aandag te fokus op die feit dat daar nie daadwerklike pogings aangewend word om die liggame van die gestorwe mynwerkers te herwin nie. Waarom was of is dit nie moontlik om alle partye aan boord te kry om die familie by te staan om afsluiting te vind nie? Die skeepsvraghouer lê op ’n diepte van ongeveer 60 meter.
Vandag nog bestaan daar meer vrae as antwoorde. Waarom kon die Departement van Mineraalbronne en Energie nie ’n groter rol speel om hierdie ramp op te klaar nie? Dit val seer sekerlik onder hul jurisdiksie en die herwinning sal in samewerking met die eienaars van die myn moet geskied. Die slagoffers in hierdie geval is die familielede. Reddingspogings kan nie meer geskied nie, maar die herwinning van die liggame moet nou die hoogste prioriteit geniet.
In die Chileense geval het die regering in samewerking met die myneienaars en bestuur die bul by die horings gepak en onmiddellik planne gesmee om die reddingsoperasie in plek te plaas. Die politieke wil was daar sonder enige versperrings en oponthoude om die mynwerkers te red. Die Suid-Afrikaanse regering is verduidelikings aan hierdie treurende familielede verskuldig. Wat het presies op daardie rampdag gebeur? Waarom is daar nie onmiddellik vasgestel wat die omvang van die tragedie was nie? Dit is die verskil tussen die Lilymyn- en die Chileense ervaring – spoedige en gefokusde optrede.
Té veel van die Suid-Afrikaanse regering se besluite is polities eerder as verstandig. Politieke wil ontbreek op groot skaal om verskeie kwessies van nasionale belang aan te pak en om met daadwerklike optrede vorendag te kom. Indien ’n Suid-Afrikaanse myningenieursmaatskappy in Chili kon help, waarom ook nie hier ter plaatse nie? Ons beskik oor die ervaring en die kennis om hierdie probleem die hoof te bied. Suid-Afrika het van die diepste myne in die wêreld en beskik oor die kennis om reddingsoperasies van hierdie aard van stapel te stuur.
Herman Mashaba, leier van die ActionSA-party, het onlangs in ’n onderhoud op SABC-TV genoem dat hulle hierdie saak heropen wil sien. Is sy stem ’n stem des roepende in die woestyn waarna niemand sal luister nie? Slegs tyd sal uiteindelik leer en die uitkomste verskaf wat deur die familie in besonder en die Suid-Afrikaanse samelewing in die algemeen, verlang word.
Antwoorde is aan ons almal verskuldig.

