
Foto: Canva
Te laat
As ek kon,
sou ek wou terugkeer
en graag ánders doen,
soveel ráker verwoord,
soveel méér bloot wou lê.
As ek kon,
sou ek beter keuses maak,
fyner, dieper luister,
my emosies beheer,
dalk sagter reageer.
As ek kon,
sou ek meer toegewend wees,
respek inniger betoon,
met wýsheid tussen reëls lees
– jóú soveel meer laat wees –
maar insig het te laat gekom ...
ek kan my nie meer verlaat
op “sou” of “wou” nie,
dit is gedaan, verby,
’n vergange saak –
want vir jou
het “ís”, nou “wás” geword,
en vir my
wag daar ’n nuwe taak.

