"Te hel met heling, Niggie!": Wanneer traumanarratiewe tekort skiet

  • 0

 
Abstract

“To hell with healing, Niggie”: When trauma narratives fail

Until the late nineteenth century, trauma was a strictly medical term referring to physiological wounds or scars. Due to the work of Charcot and Freud, amongst others, the meaning of the word trauma was moved from physiology to psychotherapy, eventually indicating psychological wounds rather than physiological scars. In the 1980s trauma became an official psychotherapeutic diagnosis. What followed was a plethora of research on how to heal from trauma by talking it out, by facing it down. The tools deployed to help trauma survivors were largely verbal and emphasised narrative reconstruction and reflection. In this article these tenets of trauma treatment, which have at their centre the healing power of narratives (stories), are critically examined using Ingrid Winterbach’s novel Niggie (translated in 2005 as To hell with Cronjé), which was set in the Anglo-Boer War (1899-1902). Attention is given to the ways in which characters use verbal and written narratives in an attempt to come to terms with their traumatic pasts, as well as the level of success they achieve in the process. The discussion is based on the sceptical assumption that mere narrative reconstruction and/or reflection do not necessarily guarantee recovery or healing. The different trauma narratives in Niggie, but also Niggie as a trauma narrative, confirm, rather, the idea that traumatic experiences may in some instances resist or seriously undermine narrative representation.

Opsomming

“Te hel met heling, Niggie!”: Wanneer traumanarratiewe tekort skiet

Tot in die laaste kwart van die negentiende eeu was trauma ’n streng mediese term wat uitsluitlik na liggaamlike verwonding en fisieke letsels verwys het. In die omgangstaal het trauma aan die einde van die negentiende eeu ’n psigologiese betekenis verkry en veral na psigiese wonde en geestelike letsels begin verwys. Aan hierdie “psigologisering” van trauma het Charcot en veral Freud ’n reuse-aandeel gehad. Nadat trauma in die 1980’s ’n amptelike psigoterapeutiese diagnose geword het, is talle studies oor die helende krag van stories en narratiewe (re)konstruksie gepubliseer. In hierdie artikel word op kritiese wyse besin oor die helende funksie van traumanarratiewe aan die hand van Ingrid Winterbach se roman Niggie, wat teen die agtergrond van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) afspeel. Daar word ondersoek ingestel na die wyse waarop karakters hulle ervarings van traumatiese verlies (veral aan die hand van verbale en geskrewe narratiewe) probeer hanteer, asook die sukses, al dan nie, wat hulle in dié poging behaal. Die skeptiese uitgangspunt dat die blote verwoording van trauma nie noodwendig heling of genesing impliseer nie, lê die betoog ten grondslag. Uiteindelik word aangevoer dat die traumanarratiewe in Niggie, maar ook Niggie as traumanarratief, dikwels juis die gedagte van die onverwerkbaarheid en onverwoordbaarheid van trauma bevestig.

"Te hel met heling, Niggie!"[1]: Wanneer traumanarratiewe tekort skiet

1. Inleiding

Koninginnedag word in Nederland gewoonlik met groot gebaar en geesdrif gevier. Promosieveldtogte skep die indruk dat die hele land op 30 April in ’n reuse-straatparty verander en dat alles en almal in oranje (die kleur van die koningshuis – Het Huis Oranje-Nassau) getooi is. Of dié soms uitspattige feesvieringe egter deur partytjielus of deur lojaliteit aan die koningshuis ingegee word, is nie altyd duidelik nie.

In Apeldoorn sal die Koninginnedagvieringe van 2009 om ’n sombere rede onthou word. Omstreeks 11:50 dié Donderdagoggend jaag die 38-jarige Karst Tates teen ’n hoë snelheid in sy swart Suzuki Swift af op die oop bus waarin die koninklike familie vervoer word. Aangesien hy deur twee stelle padversperrings en ’n deel van die groot skare ry, verloor hy beheer oor sy motor en kom uiteindelik teen die monument De Naald op die hoek van Loo-/Jachtlaan tot stilstand. Sewe van die omstanders word gedood en tientalle beseer. ’n Swaarverwonde Tates word deur die polisie uit sy motor gesny en in hegtenis geneem. Onderweg na die hospitaal erken hy dat sy “aanslag” teen die koningshuis gerig was. Hy beswyk later die aand aan sy beserings. Vanweë dramatiese beeldmateriaal van die aanslag word nie net die direkte omstanders nie, maar ook ’n hele internasionale televisiegehoor, “toeskouers” van dié traumatiese gebeure.

’n Week later, gedurende die naweek van 8 tot 10 Mei, word drie verskillende herdenkingsgeleenthede in Apeldoorn gehou. In Trouw van Maandag 11 Mei 2009 word verslag gedoen oor ’n herdenkingsdiens vir kinders in die Grote Kerk wat deur ds. Rob Visser gelei is. Naas sang en musiek het die byna vier honderd kinders teenwoordig ook die geleentheid gekry om hul (traumatiese) ervarings in tekste en tekeninge weer te gee. “Op deze manier werd de aanslag verwerkt,” merk die skrywer van die berig met stellige optimisme op.

Tydens ’n ander herdenkingsbyeenkoms benadruk die burgemeester van Apeldoorn, Fred de Graaf, dit dat die inwoners van die dorp nou vóóruit (moet) kyk: “Er is geen Apeldoorn van vóór en geen Apeldoorn van ná deze Koninginnedag. Er is maar één Apeldoorn dat ten voorbeeld ons land de veerkracht zal tonen om in het reine te komen met deze zwarte bladzijde in haar geschiedenis” (metro 11 Mei:4).

Sonder om te insinueer dat alle traumas dieselfde omvang of intensiteit het, of noodwendig met mekaar vergelyk kan word, is hierdie twee opmerkings, deur die berigskrywer en die burgemeester onderskeidelik, sprekend van ’n algemene opvatting ten opsigte van trauma en die verwerking daarvan, naamlik dat

i. trauma ’n ongewenste, of selfs afwykende, “toestand” verteenwoordig wat so spoedig moontlik uit die weg geruim moet word;

ii. hierdie “uit-die-weg-ruim” of “uitwissing” van die trauma wél moontlik is;

iii. die verwerking in ’n beduidende mate berus op die verhaal (narratief) wat ’n getraumatiseerde persoon oor sy/haar trauma te vertel het.

Inwoners van Apeldoorn kan dus “met die swart bladsy in hul geskiedenis” in die reine kom slegs deur aan hulself die storie te vertel dat die gebeure van Koninginnedag 2009 geen breuk bewerkstellig het tussen die Apeldoorn van voor die aanslag en die Apeldoorn van ná die aanslag nie, maar dat dit eerder ’n dorp gebly het wat met buitengewone deursettingsvermoë die hele Nederland tot voorbeeld sal wees. Die onderliggende aanname is dus dat ’n traumaslagoffer tot verhaal (genesing/heling) kan kom slegs deur tot verhaal (’n geskrewe of verbale vertelling van die trauma) te kom (maar ook die enigsins optimistiese opvatting dat trauma inderdaad uit ’n mens uit geskryf of vertel kan word, soos die opmerking dat die kinders in Apeldoorn die aanslag “verwerk” het deur tekeninge daaroor te maak en stories daaroor te skryf).

Dié geloof in die helende krag van narratiewe is nouliks nuut of kultuurspesifiek. In die 1990’s is die terapeutiese waarde van narratiewe in talle literêre artikels in Afrikaans vermeld (vgl. bv. Burger 1995, Erasmus 1995, Van Heerden 1995, Van Coller 1997 en Visagie 1997).

In ’n artikel getiteld “Versoening, Aufarbeitung, Renaissance, Verligting: Wat eis die Suid-Afrikaanse verlede van ons?” is John (2000:43-61) egter veel minder optimisties oor die helende krag van die literatuur. Hy is van mening dat die vertroue wat genoemde kritici in die terapeutiese werking van literatuur stel, “op ’n wankele basis staan” (2000:50) en dat Afrikaanse skrywers tot dusver gedwaal het in hul eie geloof dat die literatuur ’n helende rol binne ’n getraumatiseerde gemeenskap kan speel. In antwoord op John toon Van Coller (2005:117-33) in sy artikel “Anderkant die stilte (André P. Brink) en die verwerking van trauma” aan dat daar genoeg bewyse voor bestaan dat die vertel van stories traumas help genees; dat terme soos onderdrukker, geweldenaar, slagoffer en skuld nie maar vae, metafisiese begrippe is nie, maar ook narratief betekenisvol kan wees; en dat die vertel van stories nie slegs vir skrywers sinvol is nie, maar dat die lees/aanhoor daarvan ook vir die ontvangers waarde het of kan hê.

Die debat tussen John en Van Coller is in twee verdere artikels voortgesit[2] waarin die klem verskuif is van “die vraag of ‘stories’ ’n helende of terapeutiese werking het, of nie” na wat dit sou beteken “wanneer ’n (Afrikaanse) literêre kritikus sê dat ‘stories’ betrokke is by die verwerking van psigiese traumas wat mense in die verlede gely het”, asook die sinvolheid van “die verbandlegging tussen ‘stories’ en die verwerking van trauma, wanneer dit deur ’n (Afrikaanse) literêre kritikus gedoen word” (John 2006:156).

In reaksie op John se tweeledige kritiek op die sogenaamde “terapeutiese imperatief” – naamlik die “eis” van literêre kritici dat die letterkunde terapeutiese waarde moet hê en die “kolonisering” van die geesteswetenskappe deur die sielkunde – skryf Chris van der Merwe in “’n ‘Terapeutiese perspektief’ op Etienne van Heerden se In stede van die liefde (2005)” dat die bedoeling van die sogenaamde “terapeutiese benadering” hoegenaamd nie die propagering is van “narratiewe wat mooi sluit en minder ontstellend is” (John 2006:165) nie. Volgens hom sal tekste met verontrustende temas en onbeantwoorde vrae vir getraumatiseerde lesers meer outentiek wees en groter geldigheid aan hul ervarings verleen. Hy noem ook dat die belangstelling in die verwerking van trauma deur literêre narratiewe nie ’n “naïewe geloof in ’n kitsgenesing van alle traumas deur alle literêre narratiewe vir alle lesers” impliseer nie, “maar eerder dat ’n bepaalde boek vir ’n bepaalde leser op ’n bepaalde tyd ’n terapeutiese werking kan hê” (Van der Merwe 2007:104).

In hierdie artikel word op kritiese wyse besin oor die helende funksie van traumanarratiewe aan die hand van Ingrid Winterbach se roman Niggie (2002), waarin ’n ander vorm van trauma, te wete oorlogstrauma, sentraal staan. Daar word ondersoek ingestel na die wyse waarop karakters hulle ervarings van traumatiese verlies (veral aan die hand van verbale en geskrewe narratiewe) probeer hanteer, asook die sukses, al dan nie, wat hulle in dié poging behaal. Die enigsins skeptiese uitgangspunt dat die blote verwoording van trauma nie noodwendig heling of genesing impliseer nie, lê die betoog ten grondslag. Uiteindelik word aangevoer dat die traumanarratiewe in Niggie, maar ook Niggie as traumanarratief, dikwels die gedagte van die onverwerkbaarheid van trauma en die behoud van kompleksiteit bevestig eerder as ’n abstrahering van ooroptimistiese terapeutiese riglyne, metodes en oplossings waardeur heling en genesing bewerkstellig of gewaarborg (kan) word.

2. Trauma in Niggie

Soos in Belemmering (1990) en Buller se plan (1999), speel die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) in Niggie – ’n roman wat in 2004 met die Hertzogprys vir prosa bekroon is – ’n beduidende rol. Niggie is egter die eerste roman in die Viljoen/Winterbach-oeuvre wat in sy geheel teen die agtergrond van dié oorlog afspeel. Winterbach erken self dat die roman ’n “klein antwoord” op Christoffel Coetzee se Op soek na generaal Mannetjies Mentz (1998) is, terwyl Botha en Van Vuuren (2006:2) ook ooreenkomste tussen Niggie en Klaas Steytler se Ons oorlog (2000) aantoon.

In ’n artikel “Afstand en belewenis: liminale ruimtes en oorlewing in Niggie deur Ingrid Winterbach” voer Du Plooy (2006:2) aan dat dié roman, ten spyte van ’n sterk historiese inslag, geen gewone historiese roman is nie, “omdat die fokus verplaas word weg van die geskiedenis as sodanig op die belewenisse van beproewing en oorlewing van spesifieke individue, wat juis nie tipiese karakters is nie, maar mense wat sowel persoonlike as kollektiewe trauma op ’n spesifieke manier ervaar en hanteer” (my kursivering – TH). Vanweë die historiese situering van die roman staan die belewenis van trauma inderdaad sentraal. Soos in die novelles Klaaglied vir Koos (1984) en Erf (1986), tree die dood van ’n geliefde – nou nie soseer meer van mans en minnaars nie, maar van vroue en kinders – weer op die voorgrond: Reitz Steyn se vrou het haar kort voor die uitbreek van die oorlog oor die onverwagse verlies van hul kind “doodgetreur” (190), terwyl Ben Maritz reeds ’n geruime tyd van sy vrou en dogters geskei is en nie weet of hulle nog leef nie. Ben en Reitz se traumatiese verlieservarings vind weerklank in die verhaal van die bedroefde boer wat onlangs sy vrou verloor het, Kosie Rijpma wat vir Bettie Loots in die vrouekamp moes begrawe, en Anna wat afskeid moes neem van haar suster, Marta, en haar “twee jong kinders” (187). Die meeste karakters in die roman dra liggaamlike of geestelike letsels van die oorlog: Abraham Fouché raak letterlik én figuurlik van sy sinne beroof nadat sy broer langs hom doodgeskiet word tydens die slag van Droogleegte; Japie Stilgemoed kan nie meer goed hoor nie, aangesien ’n bom langs hom ontplof het; Kosie Rijpma was predikant in ’n vrouekamp, maar het die kluts kwytgeraak en malkop in die veld rondgedool totdat Gert Smal-hulle hom gevind het; en Ruieben het sy been by Dwarslêersbos verloor. Selfs die titelkarakter, Niggie, bekla by geleentheid haar ervarings van verlies en verdriet teenoor Ben en Reitz:

“God help my,” sê sy, “want ek het eintlik alles verloor wat vir my kosbaar en dierbaar was. My ouers lê in die Boland begrawe. Broers en susters het ek nie meer nie. Die familieplaas is onder ons uitverkoop. Ek is aangewys op andermansbrood. (...) Ek het by baie sterfbedde gesit in die kamp, (...) [m]aar ook daarvóór, en daarna. (...) Ek het by Marta, Anna se suster, ook gesit. Sy het in my arms gesterf en ek het haar uitgelê. (199)

3. Trauma en traumatiese verlies

Die woord trauma is, via Nederlands, ontleen aan die Oudgriekse woord trauma, wat “wonde” beteken (Odendal en Gouws 2005:1198). Etimologies verwys die term trauma enersyds na ’n fisiese besering – ’n wond of verwonding – maar andersyds ook na ’n geestelike steurnis veroorsaak deur buitengewone geestelike of emosionele inspanning (Cloete et al. 2003:498). Volgens Draaisma (2001:31) was trauma tot in die laaste kwart van die negentiende eeu ’n mediese term wat uitsluitlik na liggaamlike verwonding en fisieke letsels verwys het. In die omgangstaal het trauma aan die einde van die negentiende eeu ’n psigologiese betekenis verkry en veral na psigiese wonde en geestelike letsels begin verwys. Aan hierdie “psigologisering” van trauma het Freud ’n reuse-aandeel gehad. Miskien sou dit ook nie vergesog wees om te beweer dat Freud se beskouing van “the talking cure” (ook genoem “chimney sweeping”) tans die psigoterapie van traumaverwerking en traumahantering oorheers nie.

Volgens Rando, Horowitz en Figley is alle vorme van (lewens)verlies ook voorbeelde van trauma. Soos Stroebe, Schut en Finkenauer (2001:185-201), is Worden (2009:7) egter die mening toegedaan dat daar duidelik onderskei moet word tussen

i. trauma sonder (lewens)verlies - wanneer ’n persoon ’n traumatiese ervaring beleef wat traumasimptome tot gevolg het sonder dat daar sprake van enige lewensverlies is;

ii. (lewens)verlies sonder trauma - waar ’n persoon iemand verloor, maar geen traumasimptome vertoon nie; en

iii. traumatiese verlies - waar ’n persoon iemand verloor en daar iets traumaties aan die ontvalling self (soos in die geval van geweld) of aan die persoon se belewenis daarvan is.

Dié gedagte van persoonlike belewenis is vir Van der Hart et al. (1995) deurslaggewend. Gevolglik onderskei hulle tussen “skokkende gebeurtenisse” en “traumatiese ervarings”, aangesien eersgenoemde nie noodwendig tot laasgenoemde aanleiding gee nie. Hierdeur suggereer hulle dat gebeurtenisse nie sonder meer as traumaties beskou kan word nie, maar dat dit in ’n beduidende mate van slagoffers se persoonlike belewenis afhang. ’n Gebeurtenis moet dus as traumaties ervaarword voordat dit as traumaties geklassifiseer kan word. Volgens Van der Hart et al. (1995:29-30) is trauma ’n ingrypende gebeurtenis of ervaring wat ’n intense gevoel van magteloosheid én ’n akute ontwrigting in die lewe van die persoon wat daardeur getref is, veroorsaak.

Janoff-Bulman (1992) lê weer ’n verband met verlieservarings wanneer hy traumas definieer as buitengewone gebeurtenisse wat ’n verlies vir die individu inhou, byvoorbeeld die dood, die ontbinding van ’n huwelik of verhouding, die verlies van liggaamsdele of -funksies, werksverlies en die verlies van besittings. Om die slagoffer van (oorlogs)geweld of vooroordeel te wees of om jou vertroue in ander of die veiligheid van die wêreld te verloor, verteenwoordig ook traumatiese verlieservarings.

Ten einde verwarring te voorkom, sal daar in dié artikel na traumatiese verlies verwys word.

4. Traumatiese verlies as “siektetoestand”

’ n Beduidende aantal studies wat die afgelope paar jaar oor traumatiese verlies gepubliseer is, vertoon ’n psigoterapeutiese inslag en word gekenmerk deur ’n konseptualisering van trauma ooreenkomstig bepaalde “mediese metafore”. Volgens dié opvattings gee trauma aanleiding tot uitkomste wat op die duur óf as “gewens” en “genesend” óf as “skadelik” en “patologies” getipeer kan word. Die hoofdoelwit van talle psigoterapeutiese beskouings is dus ’n sorgvuldige beskrywing van die “simptomatologie” van trauma aan die hand van ’n baie deeglike kategorisering en sistematisering van die oorsake, omvang en gevolge daarvan ten einde toepaslike en effektiewe terapeutiese intervensies van stapel te kan stuur (met die oog daarop om sodoende “beheer” oor die “siektetoestand” uit te oefen en uiteindelik genesing of heling te bewerkstellig).

Hierdie “mediese model” lei volgens Bradbury (1999:172-81) tot talle wanopvattings ten opsigte trauma en verlies, naamlik dat

i. alle vorme van trauma met mekaar vergelyk of aan mekaar gelykgestel kan word;

ii. traumatiese ervarings dieselfde reaksies by slagoffers ontlok;

iii. daar “gesonde” en “ongesonde” maniere is om te treur;

iv. tyd alle wonde genees;

v. sogenaamde “treurwerk” noodwendig tot beterskap en genesing/heling lei; en

vi. alle mense dieselfde (progressiewe) verdrietreaksies ná ’n traumatiese ervaring behoort te vertoon.

5. Die narratiewe verwerking van traumatiese verlies

Binne die konteks van die psigoterapie het verskeie narratiewe benaderings ten opsigte van traumatiese verlies die afgelope aantal dekades prominensie begin verkry. Dié benaderings word veral onder die noemer narratiewe terapie tuisgebring en is gebaseer op die aanname dat mense sin gee aan traumatiese ervarings deur die opname daarvan in ’n koherente en verstaanbare narratief met ’n oorsaaklike struktuur en betekenis.

Die fokus word in hierdie benaderings geplaas op die “stories”[3] wat bedroefde persone oor hulle traumatiese verlieservarings en hul reaksie(s) daarop vertel: “the accounts they construct to 'make sense' of the traumatic transitions in their lives by fitting them into a meaningful plot structure” (Neimeyer 2002:3), maar ook die veranderinge wat aangebring kan word deur die oor- en hervertel van dié stories, met ander woorde deur alternatiewe “stories” en plots te oorweeg. Volgens Neimeyer (2002:1) daag ’n traumatiese verlieservaring die basiese aannames waarop ’n bedroefde persoon se lewensnarratief gebaseer is, wesenlik uit, met die gevolg dat die persoon ’n gevoel van diskontinuïteit ervaar en dikwels worstel om ’n sinvolle en koherente lewensnarratief te (her)konstrueer. Deur alternatiewe “stories” tydens ’n narratiewe singewingsoefening te oorweeg, kry die getraumatiseerde persoon, aldus White en Epston (1990, 1992), die geleentheid om meer realistiese veronderstellings te vorm en sodoende vrede te maak met die onvoorspelbaarheid, onregverdigheid en betekenisloosheid van verlieservarings en die verpletterde opvattings wat daardeur veroorsaak word.

Ricoeur (1991:435) se voorbeeld van iemand wat ’n psigiater besoek in verband met die konflikterende episodes van sy lewensverhaal, word dikwels deur voorstanders van dié benadering aangehaal. Volgens Ricoeur is dit die analis (psigoterapeut) se taak om die analisant (getraumatiseerde) te help om sy/haar versplinterde verhaal te herskep tot “a story that is both more intelligible and more bearable”. Binne die terapeutiese opset bied narratiewe benaderings aan getraumatiseerde persone die geleentheid om, in die teenwoordigheid van ’n simpatieke en geïnteresseerde toehoorder, ondersoek in te stel na die stories wat hulle oor hul verlies en verdriet vertel; die invloed wat dié stories op hulle lewensnarratiewe het; en die konteks(te) waarbinne die stories tot stand kom (White 1995, 2000). Volgens Epston en White is die uitdaging vir die bedroefde persoon om aan die narratief te bly werk totdat hy/sy die gevoel het dat dit “volledig” is. Voltooiing vind plaas in die mate waarin die persoon aanvaar wat met hom/haar gebeur het, asook die mate waarin hy/sy sin van die gebeurtenis kan maak. In dié opsig merk Harvey (2000:35) op: “An account that is conducive to healing will involve a relatively complete story that embodies acceptance of the event and possibly a perspective on how the survivor has learned from the event.”

Snyman (2007:9), en later ook Burger (2007:12), wys in hul besprekings van Narrating our healing – Perspectives on working through trauma deur Van der Merwe en Gobodi-Madikizela (2007) dat die “weergee van trauma in ’n vertelling” nie altyd ’n helende uitwerking het nie, ten spyte daarvan dat die outeurs van die boek juis dié bewering maak. In sy reaksie op Burger vat Van der Merwe (2008:12) die sentrale argument van hulle boek – waarin die uitgangspunte van veral Ricoeur weerklink – soos volg saam:

Mense is geneig om hul lewe te sien as ’n verhaal waarin lyne van oorsaak en gevolg voorkom en herhaalde patrone waarneembaar is. Uit die magdom van gegewens wat deel van die mens se ervaring uitmaak, word sekere gegewens geselekteer en tot verhaal omvorm om sin en samehang aan die lewe te verleen. (…) Trauma [verlies] vernietig die samehang van die lewensverhaal. In die deurwerk van trauma is dit nodig dat die stukkies en brokkies van die gebroke verhaal herskep word tot ’n verhaal waarin die traumatiese ervarings opgeneem word in ’n nuwe verhaal, wat (…) “more intelligible and more bearable” is.

Burger (2007:12) maak egter die belangrike opmerking dat die vertellings van getraumatiseerdes en bedroefdes by die terapeut ingrypend verskil van dié van ’n verteller; dat “narratiewe benaderings in sielkunde, sosiologie, politiek of die reg (…) voortdurend na vereenvoudiging, na die abstrahering van riglyne, na metodes, na oplossings” neig, terwyl romans, daarenteen, dikwels meer gerig is op “die behoud van kompleksiteit” en derhalwe “sluiting en metode” vermy.

Ten spyte daarvan dat daar altyd ’n mindere of meerdere mate van narratiewe betekenisvorming as ’n natuurlike en spontane reaksie op ’n verlieservaring plaasvind, wil ek John (2000:43-61), Brand (2004:2) en Burger (2007:12) gelyk gee dat daar gewaak behoort te word teen ’n ooroptimistiese terapeutiese ingesteldheid ten opsigte van die verwoording van verlies en trauma. Die wankelbare aannames waarop sodanige ingesteldheid kan berus, word vervolgens aan die hand van Niggie toegelig.

Meer spesifiek word daar binne die konteks van narratiewe traumabenaderings besin oor:

  • die aanname dat getraumatiseerdes oor die vermoë beskik om hul traumatiese ervarings te verbaliseer (of in narratiewe vorm weer te gee)
  • die aanname dat getraumatiseerdes oor hul traumatiese ervarings wil of behoort te praat (of narratiewe vorm daaraan wil gee)
  • die veronderstelling dat diegene wat wel oor hul trauma wil praat, teen vergoeding of andersins, toegang het tot ’n persoon wat geïnteresseerd genoeg is dit aan te hoor
  • die oordrewe klem wat daar op die terapeutiese (en by name “helende”) waarde van die verwoording en die uitpraat van verlieservarings geplaas word
  • die onderliggende beskouing dat taal ’n onskuldige, “deursigtige” en onproblematiese medium is waardeur traumatiese verlies weergegee of gerepresenteer kan word, of ten minste dat daar by wyse van taal ’n verset of verweer teen traumatiese verlieservarings gebied kan word.

5.1 Wanneer woorde ontbreek

Nadat die twintigjarige Abraham Fouché tydens die Slag van Droogleegte moes toekyk hoe sy broer se kop en bors langs hom weggeskiet word en hy vir ure lank met sy broer se liggaam in sy arms gesit het, “was sy toestand besonder sleg; hy het opgekrul in die tent langs Reitz en Ben se tentjie gelê. Hy het nie weer samehangend gepraat nie – hy het onverstaanbaarhede geuiter, los frases, verwarde krete; snags het hy angsdrome en hallusinasies gehad” (18). Hy kon dus nie weer ’n “verstaanbare sin sê nie” (13). Hoewel Abraham af en toe ’n “snerp”, “beref”, “bogte”, “petoeter”, “gotsnoot”, “verknou”, “betoek” of “glibbering” uiter, is hy duidelik nie in staat om sy trauma in narratiewe vorm te verwoord, wat nog te sê van verwerk, nie.

Hoewel John (2004:29) beweer dat die aanbieding van Abraham se inkoherente "taalvoortbrengsels” tegelykertyd “’n representasie [is] van algehele taalverlies, [maar ook] van die gronde waarop taal geskep word” (2004:29) – met ander woorde die kreatiewe moontlikhede wat taal bied – hou dit vir die jong Abraham weinig troos in: hy is nie net sy sinne nie, maar ook enige hoop op sin, kwyt. Dit wil voorkom asof dit slegs Willem Boshoff se vertroostings en die vooruitsig van ’n hereniging met sy moeder in Ladybrand is wat ’n mate van hoop vir hom inhou.

Dan is daar Seun, die maer jongeling oor wie die galbrakende Gert Smal hom onverklaarbaar ontferm, en wat weens ’n gesplete verhemelte “nie net nie behoorlik praat nie, maar ook effens traag van begrip voorkom. Hy kommunikeer – net met Esegiël en Gert Smal – en dan deur middel van handgebare en onverstaanbare geluide” (40).

Ben Maritz is aanvanklik ’n prater wat veel meer teenoor sy reisgenoot Reitz Steyn beken as andersom, dikwels gereed is met ’n woord van onderskraging of stigting, en met groot ywer meedoen aan die taalspeletjies wat hy en Reitz tydens hul omswerwinge in die veld speel. Nadat hy tydens ’n hinderlaag swaar in die keel verwond word, lyk dit asof Ben “nie weer sal kan praat nie”, trouens hy kan nie eens fluister nie. Boonop wil dit voorkom asof hy aan geheueverlies ly. Een van Reitz se eerste gedagtes na die skietvoorval is: “As Ben net weer kan praat. As Ben net weer homself is.” Later probeer hy aan Anna beken “hoe bitter swaar dit vir hom is dat Ben verander het, en dat hulle nie soos voorheen kan praat nie” (234). Daarom praat Reitz maar namens hulle albei. Hy praat om sy eie pynlike gevoelens af te weer. Hy praat omdat hy bang is vir Ben se goedaardige, maar verslae, stilte: "Om Ben (darem) só te sien – sonder woorde, sonder voorneme, sonder verweer!” (186). Ironies is daar in Ben se geval dus wel ’n geïnteresseerde ander wat maar alte gretig is om simpatiek te luister. Dit is Reitz egter nie beskore om onder dié omstandighede as klankbord vir Ben op te tree nie. Na die oorlog korrespondeer Ben met Reitz, maar dan wil dit lyk asof dit eerder Niggie se uitnemende verpleegvaardighede is, haar helende hande wat vir niks verkeerd staan nie, asook haar vermoë om as ’n substituutmoeder vir sy enigste oorlewende dogter op te tree wat hom onderskraag, veel eerder as die flardes van verhale wat by hom spook.

5.2 Stiltes en swye

In ’n artikel in die New York Times Magazine getiteld “Repress Yourself” bevraagteken Lauren Slater (2003:48) die tradisionele psigoterapeutiese paradigma ten opsigte van traumatiese verlies waarin die genesende krag van narratiewe (stories), verbale reaksies en narratiewe rekonstruksie vooropgestel word. Sy wys daarop dat traumatiese verlies volgens dié paradigma beskou word as “a rupture in the long line of language that constructs who we are” (Slater 2003:51). Die doel van narratiewe verdrietterapie is dus volgens haar om die bedroefde persoon se “storie/verslag” op só ’n wyse uit te brei dat dit ’n hele reeks onvoorsiene en ontwrigtende gegewens kan akkommodeer: “The goal of trauma treatment has been to move memories from nonverbal brain regions to verbal ones, where they can be integrated into the life story” (Slater 2003:51).

Slater baseer haar aannames op navorsing wat deur verskeie Amerikaanse en Israeliese psigoloë onderneem is wat bevind het dat mense wat nie veel oor hul probleme gesels nie en vermyding as verdedigingsmeganisme ten opsigte van pyn en verdriet volg, oor die algemeen vinniger herstel na ’n verlies, vinniger by traumatiese gebeure aanpas en gelukkiger lewens lei. Verdringing (repression) (wat in eksperimentele psigologie, anders as in psigoanalise, na handelinge van ontwyking, minimalisering en ontkenning verwys) is in sekere gevalle dus meer geslaagd as wat die verwoording (expression) van die ervaring is. Dié navorsing het proefpersone ingesluit wat beduidende traumatiese verlieservarings soos seksuele mishandeling, hartaanvalle en selfs die dood van ’n geliefde moes trotseer.

Ofskoon Anna Baines haar verlieservarings nie heeltemal ontken nie, verkies sy om nie daaroor te praat nie, ’n keuse wat op die duur tot ’n verdringing van haar trauma aanleiding gee. Teenoor Reitz noem Niggie dat Anna dit moeilik vind “om haar gevoelens te wys” (197), dat “sy twee jong kinders aan die dood moes afstaan” en dat “sy nooit daaroor praat nie, al is dit ’n groot hartseer in haar lewe” (187). Wanneer Reitz Anna se bed snags opsoek, het hy ’n behoefte daaraan om sy verlieservarings in haar “koel (ontvanklike) oor” te fluister, maar ook dat sy met hóm moet praat. Ten spyte hiervan sê Anna relatief min en luister sy meestal slegs in stilte na sý ontboesemings:

Sy is anders. Sy het ander behoeftes. Daar is sekere dinge waaroor sy nie wil praat nie. Sy wil nie oor haar suster praat nie. (...) Sy wil nie oor haar man praat nie. Dit moet haar tog kwel – haar man se veiligheid, haar eie voorgevoelens. Sy wil nie praat oor haar angste en vrese nie. Sy vertel hom eerder sag en gelykmatig in die nag – in die liefdesbed – van al die blomme wat in haar tuin gegroei het. In die donker lê hy en luister hoe sy vertel van die dahlias en die rose, die floksies en die asters, die madeliefies en die swaardlelies, die pronkertjies en die fluwelige rose. Van die weelde van haar somerse tuin, voor dit verniel is en verdor het. (235)

Ook Gert Smal se gunsteling-tydverdryf om (veral onder die beneweling van die oorlogsbuit in sy besit) die magshebbers aan sowel Britse as Boerekant te beledig en tot in hul oumas se naaidoos te vervloek, word ontmasker as ’n poging om sekere traumatiese gevoelens te verdring, te ontken en/of te ontwyk. Reitz spekuleer een aand om die vuur dat daar agter Smal se kwetsende woorde dalk “een of meer onherhaalbare ervarings sit. Hy praat nooit oor sy eie lewe nie” (163).

Alhoewel Slater (2003:48-53) toegee dat verdringing waarskynlik slegs geslaagd is by persone vir wie dit die voorkeur-hanteringsmeganisme is, illustreer haar betoog wel dat “relentless emotional expression and fixation are not a prerequisite for healthy adaptation” (Young 2003:15).

5.3 Te hel met heling

In sy artikel “Versoening, Aufarbeitung, Renaissance, Verligting: Wat eis die Suid-Afrikaanse verlede van ons?” wys John (2000:42-61) op die opvallende ooreenkomste wat daar tussen die Afrikaanse literêre kritiek (vanaf veral die 1990’s) en ’n liggaam soos die WVK bestaan “ten opsigte van die manier waarop die (…) ‘verwerking’ van die verlede, benader word” (2000:49) (eie kursivering – TH). Die twee instansies word, volgens hom, saamgesnoer deur die klem wat op die helende krag van narratiewe gelê word: “In beide gevalle word stories (‘literêre tekste’ vir die kritici) in ’n raamwerk geplaas waarin die klem val op katarsis en heling” (2000:48); “[a]lbei instansies beskou die proses in ’n positiewe lig en glo dat dit helend inwerk” (2000:49). John (2000:51) waarsku egter teen die kortsigtigheid van ’n “optimistiese ‘terapeutiese’ ingesteldheid teenoor die verlede” en voer oortuigend aan dat ’n aflegging van en versoening met die verlede (of sekere aspekte daarvan – soos trauma) nie so voor-die-hand-liggend of eenvoudig is as wat die aangehaalde outeur in sy artikel beweer nie. Hy wys as enkele voorbeeld daarop dat “(goeie) letterkunde (…) byvoorbeeld ‘wonde’ of kontradiksies eerder [kan] ‘oopkrap’ of duideliker konkretiseer, as wat dit wonde ‘heel’ of die kontradiksies laat verdwyn” (2000:50).

In Niggie bestaan daar by sommige karakters die verbete drang om hul trauma-ervarings met ander te deel. Dit wil dus voorkom asof daar, ten minste in hulle geval, ’n saak uit te maak is vir die helende werking van traumanarratiewe.

Japie Stilgemoed en Kosie Rijpma probeer byvoorbeeld hul smart verlig deur eindeloos oor hul ervarings van verlies en verdriet te praat. Saans om die vuur trek hulle om die beurt “met groot verbetenheid los” (77). Terwyl Reitz ’n groot hekel aan hierdie ontboesemings het, sien Ben dit eerder as “’n uiting van (...) siel(e) in nood” en ’n poging om “almal se moeilike oorlogservaring [te] probeer verwoord” (79). Dat hierdie vertellings/narratiewe uiteindelik nié tot heling of resolusie aanleiding gee nie, blyk onder meer daaruit dat Kosie, ten spyte van sy relaas, nooit daarin slaag om die beeld van die sterwende Bettie Loots te laat gaan nie, en dat Japie maar altyd mymerend na die dooies en die verskrikking van die slagveld terugkeer, ten spyte daarvan dat hy kwansuis dankbaar is dat oorlog hom lewenservaring laat opdoen het wat gewoonweg nie oor sy pad sou kom nie en ook dat God hom daardeur ’n beter en meer verdraagsame mens gemaak het (159).

Anders as Japie Stilgemoed en Kosie Rijpma probeer Reitz aanvanklik die realiteit van sy verlies ontken en hunker hy eerder daarna om weer in lewende lywe met sy oorlede vrou herenig te word. Gevolglik vra hy vir Oompie om hom te help om met sy gestorwe vrou in aanraking te kom. Dit is eers nadat hy Oompie se mengsel op onoordeelkundige wyse en sonder sukses op die proef stel dat hy besef dat “die dooies in die skaduryk (...) liefs onopgeroep” behoort te bly en dat ’n mens “met die dooies in verbinding kom teen ’n helse prys soms” (97). Wanneer dit dus blyk dat hy sy vrou finaal kwyt is, ontstaan daar ook by hom die behoefte om sy verdriet met iemand te deel. Dat hierdie verwoording van verlies tussen die koel lakens van Anna se versaakte huweliksbed geskied, maak die besluit vir hom waarskynlik nog makliker.Tog bring hierdie vertellings, dié blootleggings, uiteindelik nie vir Reitz die heling of genesing waarop hy gehoop het nie. Wanneer Ben en Reitz die plaas verlaat, vra Reitz in die oop veld dat hulle ’n oomblik moet stop, en dan word ons vertel:

Hy klim van sy perd af, leun teen haar dun flank aan, en huil soos hy nooit van tevore gehuil het nie. Hy huil oor sy dooie vrou wat hy deur sy dwaasheid vir ewig na die skaduryk verban het. Hy huil oor sy vriend Ben wat swaar getref is. Hy huil oor die kinders – sy eie vroeggestorwe kind oor wie hy nooit voldoende gerou het nie; oor die groter kind wat oornag vrou geword het en oor die kleintjie. Hy huil oor die lot van sy kampgenote. Hy huil – bitterlik – oor Anna, omdat dit hulle nie toegestaan is om mekaar lief te hê nie. Hy huil omdat hulle lewens hierna nooit weer dieselfde sal wees nie. (246)

5.4 Geen oor om te hoor

In Niggie kan karakters hulle nie die luukse van psigoterapie veroorloof nie, aangesien hulle hul midde-in die stryd bevind. Al wat hulle kan doen, is om te praat en te hoop dat hulle enigsins gehoor word. Tog blyk dit gou dat Japie Stilgemoed en Kosie Rijpma met wisselende grade van irritasie of algehele apatie aangehoor word; dat die groepie mans in die “opvangskamp” vir Gert Smal horende doof laat begaan wanneer hy die Britse en Boeregeneraals vervloek, terwyl selfs Anna soms nie wil hê dat Reitz haar langer moet vashou of liefkoos nie: “Sy draai haar van hom af weg. Sy wil nie hoor nie” (234) (my kursivering – TH).

5.5 Die weerloosheid van die woord

Brink (1967:102) se opmerking in Aspekte van die nuwe prosa dat taal nie meer beskou word as ’n skoon venster waardeur gestaar word nie, “maar die skep van ’n wêreld wat op geen ander manier kan bestaan as binne-in en deur die taal waarin dit tot stand gekom het nie”, is reeds gemeenplasige kennis. Trauma en verlies is ervarings wat in ’n sekere sin buite taal lê. Tog het ons, ironies genoeg, slegs taal om oor trauma te praat of daaroor na te dink. Alle pogings om trauma te ver-woord, om iets daaroor te kommunikeer, behels dus ’n “ver-taling” daarvan – ’n omsetting na en verduideliking daarvan in taal en taalbeelde (simbole) – ’n proses wat altyd ontoereikend, onvolledig en onbevredigend is. In Die boek van toeval en toeverlaat betreur Helena Verbloem byvoorbeeld die semantiese ontoereikendheid van Afrikaans om belewenisse soos droefheid en verdriet genoegsaam te verwoord. In Niggie is die titelkarakter, anders as byvoorbeeld die ingetoë Anna, glad nie onwillig om oor haar verlieservarings te praat nie. Inteendeel. Met ’n breiwerkie op haar skoot neem sy dikwels vir Ben en Reitz in haar vertroue en betreur sy haar uitsiglose omstandighede. Sy probeer veral by wyse van die inkantering van trooswoorde en –frases (soos “God help hom/ons/hulle” en “Die arme mense/lammers/vrou/jongeling/skat”), met haar persoonlike trauma vrede te maak. Tog is dit opmerklik dat hierdie semanties yl frases haar nie in staat stel om haar trauma-ervarings bevredigend te verwoord nie en bied dit dus, in die lig van die verlies wat Niggie rondom haar ervaar, weinig troos.

Ook ander karakters in Niggie neem hulle toevlug tot die woord (in die vorm van boeke, briewe, verse, aantekeninge, opskrywings, ens.) as ’n tipe borswering teen die verlies en vernietiging rondom hulle. Wanneer Japie Stilgemoed een aand begin vertel van sy ontberings tydens die oorlog, beken hy byvoorbeeld dat leeswerk sy redding was: “Ek dank die Here,” sê Japie Stilgemoed, “dat ek my by tye van die aakligheid van die dag kon afsluit deur te lees. Tot op hierdie dag is boeke my redding. Wat ek daarsonder sou doen, weet ek nie” (55).

Tog erken hy later dat hy hom só dikwels in boeke verdiep het dat hy tred met die hede begin verloor het, afgestomp geraak het en dus sy plig teenoor sy kampgenote versaak het:

“Eintlik het ek te veel gelees,” sê Japie Stilgemoed, “te veel gelees, te min gedoen, en jammerlik genoeg – te min gedink ook. Hoe ek myself ook al probeer vermaan en beheer het, hoe ek myself probeer dwing het om meer bedag te wees op wat óm my aangaan en meer na mense uit te reik – ten minste na diegene in my tent – hoe minder kon ek die versoeking weerstaan om my in ’n boek te verdiep. Telkens het ek weer ’n boek geneem en daardeur probeer ontsnap aan die pynlikheid van die oomblik, aan die gevoelens van vergeefsheid en wanhoop. Ek kón nie by die hede bly sonder om van alle moed en sin ontdaan te raak nie. Ek het voortdurend gevrees dat as ek my nie afsny nie, ek die gevaar loop om my sinne kwyt te raak." (78)

Boeke en leeswerk bring dus uiteindelik nie vir Japie Stilgemoed voldoende troos en kompensasie vir die “verdowing en geestelike stompsinnigheid” wat langsamerhand oor hom gekom het, óf vir die “besef dat die tyd vir goed verby was dat hy plesier aan nuwe gewaarwordings kon hê”, óf vir sy “allesoorheersende verlange na ’n hereniging met sy geliefdes” (82) nie.

Kosie Rijpma, wat vir ’n paar maande leraar in die konsentrasiekamp by Roodespruit was, probeer op sy beurt vertroosting put uit die boekie met versies wat Bettie Loots se moeder die dag tydens haar dogter se begrafnis aan hom oorhandig het. Vanweë sy ervarings in die kamp het hy al sy vertroue in God verloor, met die gevolg dat hy nie meer berusting kan vind in “die vrug van [sy] geloof” (102) of die Woord van God nie. Sy vertroue in die Woord (die Bybel), word eerder vervang met ’n vertroue in die woord (Bettie Loots se gediggies).Tog is hy tydens sy belydenisse snags om die vuur maar alte pynlik daarvan bewus hoe min troos daar te put is uit dié boekie met versies, ál wat oorgebly het van die “gretige, vertrouende Bettie Loots” (121) met wie hy tot die dag van haar dood daagliks ’n lewendige gesprek gevoer het.

In die aangesig van die dood is daar ook by die hoofkarakters, Ben en Reitz, ’n drang om die verbygaande aard van dinge in woord en beeld in hul veldjoernale vas te vang ten einde dit aan die vergetelheid te ontruk en vir die nageslag te bewaar. Reitz maak veral aantekeninge oor die geologiese formasies wat hulle tydens hulle reis teëkom, terwyl Ben die fauna en flora bestudeer en nuwe spesies opteken. Dit is veral tydens hulle gedwonge verblyf in die bergkamp dat die byhou van hul veldjoernale ’n belangrike deel van Ben en Reitz se daaglikse roetine word. Dat die joernale vir hulle ’n toevlug is, blyk onder meer uit Reitz se erkenning dat dit die afgelope maande vir hulle heelwat moeiliker sou gewees het sonder dié joernale. Reitz beskryf die aantekeninge en sketse in sy joernaal as ’n "borswering (...) teen die donker, wanhopige klonterigheid van sy gedagtes" (211). Die (talige) kennis wat in dié joernale vervat word, dien vir hom as sonderlinge onderskraging: “Hy dink aan die geologiese formasies van die omliggende gebied. Soos dikwels wanneer hy ontstem is, probeer hy hom op sy kennis beroep, want in kennis is daar troos en afleiding” (83) (eie kursivering – TH).

In die nagte wanneer sy verdriet die voelbaarste is en hy in doodsangs verkeer, kommandeer Reitz die name van gesteentes, diere, insekte en selfs die name van veldslae, gesneuweldes en plekke waarlangs hulle beweeg het, as verweer op: “Dit troos hom soms. Dit laat hom bedaar, al die name. Die gedagte aan die groot verskeidenheid van vorms in die natuur. Die oorvloed van die spesies” (212).

Maar soms “is geen name, geen kennis, bestand teen die opeenvolgende gruwels van sy drome nie, of sy gevoelens van totale ontreddering wanneer hy lank slapeloos in die donker lê” (213). Die inligting wat in die joernale aangeteken is, kan dus nie as ’n algehele verweer teen verlies en verdriet beskou word nie. Boonop laat Ben en Reitz hulle joernale in die bergkamp agter wanneer hulle die opdrag namens die generaal uitvoer. Wanneer Reitz weke later die bergkamp besoek, het die joernale – net soos Ben en Reitz se voormalige kampgenote – spoorloos verdwyn. Ben en Reitz is al die aantekeninge wat hulle gedurende die oorlog gemaak het, kwyt. Selfs die gedagte dat ’n mens kennis kan “besit”, dat daar dus ’n toeverlaat in kennis moontlik is, word in dié roman as ’n illusie ontmasker. Ook dít loop uiteindelik op ontnugtering en verlies uit.

6. ’n Heel moedswillige Niggie

Voorstanders van ’n optimisties-terapeutiese ingesteldheid ten opsigte van traumaverwerking sal waarskynlik redeneer dat hoewel die karakters in Niggie nie heling uit hul traumanarratiewe put nie, die roman – as ’n tipe “traumanarratief” wel ’n helende uitwerking op die lesers daarvan kan hê.

Dit is inderdaad so dat die koherensie van die romanverhaal kommunikasie met lesers moontlik maak. Dit bring mee dat ’n getraumatiseerde leser, deur identifikasie met (aspekte van) die narratief, “bevestiging” (validation) van sy/haar eie trauma kan vind. Kommunikasie tussen teks en leser skep dus die moontlikheid dat dié getraumatiseerde ’n stap uit die allesoorweldigende isolasie wat deur trauma teweeggebring is, kan neem. In hierdie opsig merk Bal (1999:x) byvoorbeeld op dat literêre kunswerke besonder belangrik is, aangesien dit medieer tussen die getraumatiseerdes en ontvangers, byvoorbeeld lesers:

The recipients of the account perform an act of memory that is potentially healing, as it calls for political and cultural solidarity in recognizing the traumatised party’s predicament. This act is potentially healing because it generates narratives that “make sense”. To enter memory, the traumatic event of the past must be “narratable” (my kursivering – TH).

Ofskoon die tema van gedeelde verlies in beginsel die “solidariteit” van ’n (getraumatiseerde) leser moontlik maak, word die Anglo-Boereoorlog in Niggie uit soveel verskillende (en soms selfs teenstrydige) ideologiese perspektiewe belig dat dit haas onmoontlik tot ’n gevoel van “politieke en kulturele solidariteit” by ’n groot groepering lesers aanleiding kan gee. Dit is boonop ook nie duidelik presies wié as die “getraumatiseerde party(e)” beskou behoort te word nie.

Volgens Bal (1999:x) is die herdenkingshandeling wat die leser verrig, potensieel helend, omdat dit aanleiding gee tot “narratives that ‘make sense’”. Wanneer die leser egter die slothoofstuk van Niggie lees, besef hy/sy dat daar sekere dinge is wat nié “sin maak” (of pertinent opgelos is) nie, en dus nié “narratable” is nie. Saam met Reitz wonder die leser byvoorbeeld: Wie was die mans wat hulle aan die begin van die roman teëgekom het? Waarom was Gert Smal so beskermend teenoor Seun? Wie was Oompie en waar het hy vandaan gekom? Wat het van die generaal en sy groepie geword? Hoekom kon Reitz hulle name op geen amptelike oorlogsdokumente opspoor nie?

Boonop word die leser in die slothoofstuk gekonfronteer met Reitz se dubbele verdriet en Ben se bekentenis dat hy sy oorlede vrou en kinders met groot droefnis gedenk. In ’n brief aan Reitz erken Ben dat sy vrou en kinders se lyding “vir die res van sy dae vir hom ’n wond [dus ’n "trauma”] sal bly in sy gemoed” (249). Wanneer Ben in dieselfde brief na Anna Baines verwys, word Reitz onverhoeds deur verlange en verdriet oorweldig:

Hy sit voor die venster met die brief in sy hand tot dit skemer word. Nie een vrou nie, maar twee het hy verloor. Sy vrou is dood en het teruggegly in die newelryk waaruit hy haar te voorskyn geroep het. Maar met Anna is dit anders. Anna leef. Anna is daar. Dit is hulle net nie beskore om mekaar te mag liefhê nie. Hy het nooit kon dink dat sy lewe so nutteloos daar sou uitsien en van vooruitsig gestroop nie. (250)

Om sonder meer te beweer dat die lesers van die roman uiteindelik ’n gevoel van heling ervaar, blyk dus ooroptimisties en selfs problematies te wees.

7. Slot

Deur bostaande uiteensetting probeer ek nie ontken dat vertellings heling kán bring en mense kán help om ander beter te verstaan, of dat dit "waarskynlik een van die vernaamste maniere is waarop ons sin maak van ons wêreld" nie (Burger 2007:9). Ek waarsku slegs dat daar gewaak behoort te word teen die oorvereenvoudiging van vertelling tot ’n metode waardeur op klinkklare wyse heling en genesing bewerkstellig kan word. In Niggie word sowel die karakters se versugting om hul traumatiese ervarings te verwerk, as die leser se verwagting om aan die hand van die literêre narratief waarmee hy/sy gekonfronteer word (en wat gewoonlik die belofte van ’n afgeronde en geïntegreerde geheel inhou), ’n gevoel van kentering, katarsis of heling te ervaar, uiteindelik in die wiele gery. Die roman se trefkrag is veral daarin geleë dat die onsêbaarheid, onverwerkbaarheid en onintegreerbaarheid van slagoffers se lyding en trauma, nie net tematies nie, maar ook op strukturele en stilistiese vlak, geïllustreer word. Wat traumahantering betref, word vertelling dus nie in Niggie as ’n voorwaarde of selfs waarborg vir heling en aanpassing gestel nie. Daar is die suggestie dat vermyding, liggaamlike vertroosting, trane, die bottel, maar ook kruid (tabak en veral andersins) in sommige omstandighede ook, of dalk eerder, die pyn van trauma kan verdoof.

Bibliografie

Bal, Mieke, Jonathan Crewe en Leo Spitzer (reds.). 1999. Acts of Memory. Cultural Recall in the Present. Hanover: University Press of New England.

Botha, Marisa en Helize van Vuuren. 2006. Teks op teks op teks: Intertekstualiteit in Ingrid Winterbach se Niggie. Literator, 27(3):1-26.

Bradbury, Malcolm. 1999. Representations of Death: A Social Psychological Perspective. New York: Routledge.

Brand, Gerrit. 2004. Telling Wounds: Om oor trauma in die verlede te praat. LitNet. http://www.litnet.co.za/seminaar/wounds.asp. (2 September 2005 geraadpleeg)

Brink, André P. 1967. Aspekte van die nuwe prosa. Pretoria en Kaapstad: Academica.

Burger, Willie. 1995. Om inteendeel te sê: oor selfskepping – wanneer lewe en vertel deurmekaar raak. Literator, 16(1):111-26.

—. 2007. Romans lei nie maklik tot terapie. BY, 29 Desember, p. 12.

Cloete, A.E., A. Jordaan, H.C. Liebenberg en H.J. Lubbe. 2003. Etimologiewoordeboek van Afrikaans. Stellenbosch: Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT).

Coetzee, Christoffel. 1998. Op soek na generaal Mannetjies Mentz. Kaapstad: Queillerie.

Draaisma, Douwe. 2001. Waarom het leven sneller gaat als je ouder wordt: De geheimen van het geheugen. Amsterdam: Rainbow Paperbacks.

Du Plooy, Heilna. 2006. Afstand en belewenis: liminale ruimtes en oorlewing in Niggie deur Ingrid Winterbach. Literator, 27(1):1-22.

Erasmus, Mabel. 1995. Die verlede en versoening: Afrikaanse oorlogsliteratuur as (alternatiewe) bron van geskiedskrywing oor die individu. Literator, 16(2):137-155.

Harvey, J.H. 2000. Give Sorrow Words: Perspectives on Loss and Trauma. Philadelphia: Bruner/Mazel.

Janoff-Bulman, R. 1992. Shattered Assumptions. New York: Free Press.

John, Philip. 2000. Versoening, Aufarbeitung, Renaissance, Verligting: Wat eis die Suid-Afrikaanse verlede van ons? Stilet, 12(2) September:43-62.

—. 2004. Meer dydelikhyt oor die punch en die vis: ’n vergelyking van Niggie, Daar’s vis in die punch en Eilande. Literator, 25(1):23-45.

—. 2006. Die terapeutiese imperatief, stories en letterkunde: ’n Repliek aan H.P. van Coller. Tydskrif vir Letterkunde, 43(1) Herfs:154-166.

Neimeyer, Robert A. 2002. Traumatic Loss and the Reconstruction of Meaning: Journal of Palliative Medicine, 5(6):1-18.

Odendal, Frans F. en Rufus H. Gouws. 2005. Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Vyfde Uitgawe. Kaapstad: Pearson Education South Africa (Maskew Miller Longman).

Ricoeur, Paul. 1991. Time and Narrative. Chicago: University of Chicago Press.

Slater, Lauren. 2003. Repress Yourself. New York Times, 23 Februarie, pp. 48-53.

Snyman, Johan. 2007. Wat dan van die “onregverdige” trauma-slagoffers? Die Burger, 24 Desember, p. 9.

Steytler, Klaas. 2000. Ons oorlog. Kaapstad: Tafelberg.

Stroebe, M.S., H. Schut en C. Finkenauer. 2001. The traumatisation of grief: A conceptual framework for understanding the trauma-bereavement interface. Israel Journal of Psychiatry and Related Sciences, 38:185-201.

Van Coller, H.P. 1997 Die waarheidskommissie in die Afrikaanse letterkunde: Die Afrikaanse prosa in die jare negentig. Stilet, 9(2):9-21.

—. 2005. Anderkant die stilte (André P. Brink) en die verwerking van trauma. Tydskrif vir Letterkunde, 42(1):117-33.

Van Coller, H.P. en D.F.M. Strauss. 2006. “Die dissonansie van die dissidente diskoers”. Tydskrif vir Letterkunde, 43(2):79-90.

Van der Hart, Onno (red.). 2003. Trauma, Dissociatie en Hypnose. Vierde Druk. Lisse: Swets & Zeitlinger B.V.

Van der Merwe, Chris. 2007. ’n “Terapeutiese perspektief” op Etienne van Heerden se In stede van die liefde (2005). Stilet, 19(1):103-114.

—. 2008. Herskepping van gebroke verhale. BY, 5 Januarie, p. 14.

Van der Merwe, Chris en Pumla Gobodi-Madikizela. 2007. Narrating Our Healing: Perspectives on Working Through Trauma. Newcastle: Cambridge Scholars Publishing.

Van Heerden, Etienne. 1995. “Nu tasten wij naar verf en woord”: Die aangetekende verlede in Abraham de Vries se “Siënese dagboek” en Koos Prinsloo se “By die skryf van aantekeninge oor ’n reis”. Stilet, 7(2):11-21.

Viljoen, Lettie. 1984. Klaaglied vir Koos. Bramley: Taurus.

—. 1986. Erf. Bramley: Taurus.

—. 1990. Belemmering. Bramley: Taurus.

Visagie, Andries. 1997. Subjektiwiteit en geskiedenis in Etienne van Heerden se Casspirs en Campari’s. Stilet, 9(1):109-126.

White, Michael. 1995. Re-authoring Lives: Interviews & Essays. Adelaide: Dulwich Centre.

—. 2000. Reflections on Narrative Practice: Essays and Interviews. Adelaide: Dulwich Centre.

White, Michael en David Epston. 1990. Narrative Means to Therapeutic Ends. New York: W.W. Norton.

—. 1992. Experience, Contradiction, Narrative and Imagination: Selected Papers. Adelaide: Dulwich Centre.

Winterbach, Ingrid. 2002. Niggie. Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 2007. To hell with Cronjé. Kaapstad: Human & Rousseau.

Worden, William. 2009. Grief Counseling and Grief Therapy. A Handbook for the Mental Health Practitioner. New York: Springer Publishing Company.

Young, Cathy. 2003. The Virtue of Stoicism. The Boston Globe, p. 15.

Eindnotas

[1] ’n Vertaling van Niggie het in 2007 onder die titel To hell with Cronjé by Human & Rousseau verskyn. Dit is deur Elsa Silke in samewerking met die skrywer (Ingrid Winterbach) vertaal.

[2] Dié twee artikels is John (2006) en Van Coller en Strauss (2006).

[3] Daar word nie altyd in dié narratiewe benaderings duidelik tussen “stories”, “vertellings” en “narratiewe” onderskei nie.

 


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top