
Foto: Canva
Taxi
Met gebede skud ons ylings voort
oor randsteen, gruis en teer.
Soos vinke gryp en klou ons vas.
Ons pêrelwit gevaarte
swaai aan die teer se goue snoer.
Ons gaatjie staan op wag,
moet meerkat kywie hou
vir manne in hul blou.
met boekies vir geregtigheid
in triplikaat.
Regs gluur ’n myl-lange baan gestolde weelde
swetsend oor na ons, die oorvol vrag.
Ons sing “Amazing grace”
om ons deur hierdie ramp te dra.
Staar na stil gedagtes.
Is Ritchie nog by ouma of op straat?
My maer brak
aan sy pinkie-dikke tou
sal hy tog net vir hierdie dag
die skelms uit my goedjies hou?
Selfone is sover intak
in skoen, in bra of sak,
maar iewers voor op wag
kyk mes en skietding gretig uit
vir ons bevreesde vrag.
Die baas sal vra, weer briesend-kwaad:
Hoekom is jy laat?
Vanaand moet ek, oorstuurde drywer
van sy rammelkas,
weer nederig die knieë buig
as die baas ook sy rantsoen
teen driemaal honderd eis.
Wat neem ek dan saam
vir almal by die huis?

