Tant Alie
Jy is heeltemal reg oor die Katolieke Kerk. Daar is só baie dinge wat hulle doen, wat hulle uitlewing van hul geloofsbelydenis in die wiele ry, sodat mens maklik die indruk verkry dat dit lankal vir hulle nie meer oor God gaan, nie maar oor die instansie, soos jy sê. Tog sal die HERE individue self onder daardie omstandighede aanraak, dié met ontvanklike harte.
Jy is ook reg wanneer jy sê dat selfs iemand wat geensins betrokke is by die kerke nie, tog die geleentheid verkry om daardie spesiale verhouding met ons Verlosser aan te knoop. Ons almal, alhoewel daar van ons is wat om verskeie redes nie aan een of ander spesifieke denominasie behoort nie, of tuis voel nie, is algar lede van die Kerk, die Liggaam van ware gelowiges en heiliges, die Bruid van Christus ons Verlosser. Die HERE is getrou en laat gééneen in die steek nie, wáár hulle hul ook al bevind – dit verg net ’n gewillige en ontvanklike hart van die mens se kant.
Die hedendaagse kerke kan besondere goeie werk verrig en is inderdaad die geskikte plek vir gemeentebou en samesyn en verwelkoming van bekeerlinge, maar daar is ongelukkig ook nog te veel van hulle wat kwade verrig weens die vooropstelling van denominale beleid, strydig met die Woord en Gees van die HERE en dus gereduseer het tot gewone menslike instellinge, verwyderd van God, maar waar God se Naam gereeld vir daardie doeleindes ingespan word. Ek meen natuurlik dat dit dan die gemeente self is, wat daardie betrokke kerkraad en predikant to orde moet roep – die Woord is mos tot almal se beskikking en die HERE spreek tog mos tot almal en só dra die gemeente óók verantwoordelikheid van wat daar gebeur – elke individu afsonderlik sowel as kollektief. En dít is juis die rede waarom die persoonlike verhouding van elke individu met die HERE só belangrik en deurslaggewend behoort te wees – dit is dikwels die korrigeerder (of behoort te wees).
Ek verneem uit jou brief dat jy deur ’n moeilike tyd kom, selfs nog is. My gebede is met jou en jy is reg in jou vertroue op die HERE – die Woord bemoedig ons wanneer die Woord oor ons geloof én beproewinge sê:
3Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop 4op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. 5En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. 6Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings 7sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. 8–9Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap.
Só is ons geloof ook die doel van ons lewens …
Groete en sterkte,
Kobus de Klerk

