Tafelberg stel Kortes-reeks bekend

  • 2

Tafelberg Uitgewers het pas hul Tafelberg Kortes-reeks bekendgestel. Erika Oosthuysen, uitgewer van Tafelberg, beantwoord enkele vrae oor dié projek.

Erika, geluk met die bekendstelling van Tafelberg se Kortes-reeks. Hoe lyk die reaksie en belangstelling onder die Suid-Afrikaanse lesersgemeenskap hierop in hierdie stadium?

Koop The Politics of Pregnancy by Kalahari.com

In die “stadige” uitgeebedryf waar ons nou al praat oor 2014 en 2015 se boeke, is dit bevredigend om ’n slag met iets nuuts vorendag te kom. Meestal is mense verbaas en beïndruk, en dis baie lekker. Goed soos: Sjoe, net digitaal? Hoe werk dit?

Die reaksie was deurgaans net positief. Die skrywers geniet die kans om hulle sê te sê sonder om die kolomsentimeters in hul agterkoppe te hoef te tel. Tog is dit minder intimiderend as ’n vollengte-boek en hoef hulle nie drie maande af te vat by die werk om die boek klaar te skryf nie. Tien duisend woorde? Ja, dit behoort ek te kan doen. Veral as ons verduidelik dis eintlik soos drie lang artikels plus ’n ekstratjie. Boonop kon elkeen skryf oor dit waaroor hy of sy werklik passievol voel. Die gevolg was ’n heerlike loslaat van energie. Bloot die feit dat dit so nuut is, is al lekker. Dit krap jou breinselle deurmekaar en maak jou wakker. Die media is begeesterd en vrae oor die nuwe reeks stroom in met so veertig versoeke vir resensie-eksemplare tot dusver. Ons het nog nie vaste verkoopsgetalle nie, maar die webwerwe waar die boeke te koop is, onder meer www.Leserskring.com en www.Kalahari.net, rapporteer “some action”. Ons weet ons gaan nie onmiddellik massiewe verkope kry nie, maar ons geniet die kortboeke geweldig, en die volumes sal mettertyd kom.

Intussen sit dit gesprek aan die gang en laat dit mense bietjie dieper kyk na sake van die dag. Andrew Donaldson skryf byvoorbeeld indringend – en skreeusnaaks – oor pres Zuma se naakskildery; Rhoda Kadalie en haar dogter (wat self pas ma geword het) skryf oor bevolkingsgroei en tienerswangerskappe; Jan-Jan Joubert oor die “krapperige” demokrasie; en Tim Cohen oor Nelson Mandela en Louis Botha as leiers wat versoenend opgetree het ná tye van groot oorgang, maar self die spit daarvoor moes afbyt. Die kortboekskrywers is skrywers wat dieper delf en leesbaar en interessant skryf oor dinge wat hulle na aan die hart lê.

Koop A chief is a chief by the grace of his people by Kalahari.com

Ek vermoed een van die eerste vrae wat voornemende lesers en kopers sal wil vra, is: "Ja, maar presies hóé kort of lank is dit?" Hoe is daar besluite hieroor geneem en hoe is die uiteindelike gevolgtrekkings bereik?

Die wêreldwye neiging is onherroeplik na kommunikasie op ’n drafstap. Beweeglikheid. En waar dit elders ’n sterk tendens is, mag dit in Afrika dalk nog groter wees. Afrika is die kontinent van die selfoon. Hoewel ons nog in die kinderskoene van ware mobiliteit staan, stry niemand dat dit die toekoms is en dat dit veral hier by ons ’n groot impak gaan hê nie. Mense plaas reeds geld oor na familielede in afgeleë dorpies. Die oorgrote meerderheid van Suid-Afrikaners besit selfone, waarvan heelwat slimfone is. ’n Halfmiljoen Suid-Afrikaners besit tablette of e-lesers en die middelklas gee mekaar Kindles vir Kersfees. Tafelberg wil teen dié agtergrond boeke uitgee wat mense aan die lees en aan die praat kry en wat beskikbaar is waar jy jou ook al bevind, ver of naby ’n boekwinkel, op reis of laataand in jou bed. Daar is ook helaas geweldig baie mense wat nooit hulle voete in Exclusive Books of ander boekwinkels sit nie, maar wat baie gemaklik is met aflaai van die internet. Sulke potensiële lesers kan nou bereik word.

Die gedagte was om van die beste skryfwerk in Suid-Afrika na nuwe lesers te bring en om dit terselfdertyd vir gesoute lesers en boekkopers moontlik te maak om tyd nuttig te gebruik en te lees waar hulle hulle ook al mag bevind: in koffiewinkels terwyl hulle op ’n vergadering wag; op die vliegtuig; op die MyCity-bus; in die tandarts se wagkamer. Of ja, twee-uur in die oggend as jy nie kan slaap nie en jou laaste boek is deurgelees.

Ons riglyn aan skrywers was enigiets tussen 8 000 en 20 000 woorde. ’n Gewone boek is gewoonlik nie minder as 60 000 woorde lank nie en die meeste is langer as 100 000 woorde. (Behalwe as jy Hermann Giliomee is, dan is jou gewone boek minstens 300 000 woorde lank. Giliomee se kortboek, Die enigma van Hendrik Verwoerd, is dan ook die langste van al die kortes.) Ons skryf nie graag formele beperkinge voor wat skrywers kan kortwiek of hul vaart breek nie. Die riglyn is dat die boek sy regte lengte moet vind. Die onderwerp dikteer die presiese lengte, solank dit darem nog as kortboek kan deurgaan. Dit gee skrywers meer ruimte as ’n koerant se hoofartikelblad, wat dit moontlik maak om in groter diepte op ’n onderwerp te fokus. Niemand hoef fanaties woorde te tel nie, soms met verlies aan nuanse. Terselfdertyd is dit nou moontlik vir lesers om in een vlug tussen Kaapstad en Johannesburg ’n nuwe boek oor ’n kwellende saak of onderwerp in die nuus of ’n interessante en toepaslike stukkie geskiedenis deur te lees.

Luidens die persvrystelling is meer as twee miljoen "kort e-boeke" reeds in Amerika verkoop. Dink jy die mark in Suid-Afrika verskil wesenlik van dié in Amerika, of sal dieselfde soort resultate hier bereik kan word? Watter soort navorsing het julle in hierdie opsig gedoen en waarop het die uitslae gedui?

Koop Moments with Mandela by Kalahari.com

Die gesegde lui dat in die uitgeewese jou eerste uitgawe as jou marknavorsing dien. Elke boek is anders. Tog onwikkel ’n mens ’n soort gevoel oor die jare. E-boeke volg grootliks die patroon van papierboeke, en die beste e-verkopers is dikwels ook die boeke wat die meeste lesers trek op papier. Jy sal sien heelwat van die eerste Kortes-reeks is oor die politiek: Suid-Afrikaners is gefassineer, dalk tot die punt van obsessie, met die politiek. As ’n mens niefiksie-verkope in Suid-Afrika vergelyk met byvoorbeeld dié in Brittanje of Amerika, blyk dit dat ons persentasiegewyse heelwat meer lees oor aktuele kwessies en politieke leiers as mense “oorsee”. Daar is ’n honger vir ingeligte debat wat die moeilike vrae waarmee ons in Suid-Afrika worstel vir ons verhelder. Daar is ook ’n honger na morele stemme.

Oor Amerika: hulle het die volume wat ons nog kort, maar ons kan nie wag tot ons op Amazon kan verkoop voor ons ons regskud vir die toekoms nie. Die volume sal mettertyd kom. Intussen is dit heerlik om iets so heeltemal nuuts te doen waar daar nie gebaande weë is nie. Ons voel-voel vorentoe, speel lekker, maar stamp soms ook ons tone. Net die tegniese sy alleen is verstommend kompleks. Ons is nou al goed geolie met nuwe boeke, waar ons gelyktydig sowel ’n papier- as ’n e-weergawe uitgee, maar boeke wat uit die staanspoor digitaal is, was vir ons ’n nuutjie. Een lekkerte is die talle afwykings van die ou patroon: ons hoef nie meer ses weke te wag ná die laaste korreksie gemaak is en die finale PDF afgeteken is vir die drukkers om die boek af te lewer nie. Dis weliswaar nie so maklik soos om net ’n knoppie te druk nie, maar die wagtyd is dramaties korter. Boeke kan dus meer aktueel wees en kommentaar lewer op onlangse gebeure. My kollega Nèlleke de Jager stuur gister vir my ’n skakel aan na Why Romney Lost wat in die VSA gepubliseer is slegs dae nadat Romney inderdaad verloor het. Nog ’n pluspunt is dat die saakregisters wat altyd eers ná die laaste finale bladproewe opgestel kon word, nou onnodig is, omdat alle terme soekbaar is binne die boek. Maar die hoofsaak met die Tafelberg Kortes-reeks is nie spoed nie, maar die gehalte van die skryfwerk. Goeie, vermaaklike of insiggewende skryfwerk sal altyd gelees word.

’n Gedeelte van die persvrystelling lui: "Tafelberg Kort boeke is vol vars insig en prikkelende analise van aktuele Suid-Afrikaanse kwessies, in maklik verteerbare dosisse, deur ons beste skrywers, spesiaal vir besige lesers." Dit impliseer dat daar ’n groot mark "besige lesers" is – met ander woorde, lesers wat te besig is om daagliks meningstukke in koerante te lees of om langer boeke oor die kwessies te lees. Dink jy dít is ’n groeiende mark en waaraan is dit toe te skryf?

Koop The African University? by Kalahari.com

Dis nou jammer, maar dis waar: tydskaarste het ’n algemene ervaring geword in middelklasgesinne. Ons werk lang ure – nog langer as tevore toe ons die kantoor vyfuur kon verlaat. Dan ding e-pos op slimfone nog mee met twitter, musiek, DVD’s en flieks aflaai. Lees het maar een van talle vermaaksopsies geword. Wil jy nie eerder na Die Antwoord se nuwe video kyk of vinnig met jou dogter in Engeland skype nie? Toe ek klein was het ons biblioteek toe gegaan en met arms vol biblioteekboeke huis toe gekom. Toe kom Dallas op Dinsdag-aande. Dit was maar net die begin. Boeke moet wees waar die mense is, en die mense is op hulle selfone of tablette.

Die element van e-boeke is natuurlik ook hier ter sprake. Die aanpak van die Kortes-reeks dui daarop dat Tafelberg glo e-boeke het ’n sterk toekoms onder Suid-Afrikaanse en Afrikaanse lesers. Hoe lyk die plaaslike landskap in hierdie stadium wat die groeiende mark betref?

Dit gaan jy eintlik vir Nèlleke moet vra – sy het statistiek. Ek het iewers gesien daar’s al meer as ’n halfmiljoen tablette verkoop in Suid-Afrika. Ons volg in Suid-Afrika oor die algemeen internasionale tendense en in Amerika kry uitgewers blykbaar reeds 20–30% van hul omset uit die verkoop van digitale boeke. In Engeland, wat ’n jaar agter Amerika is, is dit om en by 10%. En dit word meer. Dieselfde sal mettertyd ook in Suid-Afrika gebeur. Dit beteken nie papierboeke gaan verdwyn nie. Mense sal bloot op verskillende maniere lees. En uitgewers sal op verskillende maniere uitgee.

Terug na die kwessie van die lengte – glo jy dit is simptomaties (ek bedoel dit in ’n neutrale, nienegatiewe sin!) van waarna soms verwys word as gebrekkige aandagskenkvermoëns onder "die jeug", wat natuurlik die lesers en kopers van die toekoms is?

Van die jeug weet ek min. Ek het Danie Marais se artikel in BY gelees oor hoe ons breine met verloop van tyd evolusionêr nie meer tot diep denke en kontemplasie in staat gaan wees nie en het geril. Die Tafelberg Kortes-reeks is nie in die eerste instansie op jonger mense of kort aandagspanne gerig nie; dis ’n aanvullende manier om gehalte-skryfwerk aan lesers te bied op maniere wat dit vir hulle maklik en gemaklik maak om dit te lees. Terloops, daar is ’n interessante inisiatief spesifiek gerig op die “jeug met die kort aandagspan”, naamlik Yoza, ’n selfoonbiblioteek. Hulle diens is gratis; dit word seker geborg, maar volgens Yoza lees die tieners ywerig op hulle selfone.

Jeugdigheid of nie, hoe dink jy dra die ewigdurende en ongebreidelde uitbreiding van die internet en sosiale netwerke, veral in hoe dit vir heelwat mense dien as primêre nuusbron, by tot mense se gewilligheid om hul tyd te belê in langer analisestukke of dan die kort e-boeke waarvoor julle mik?

Koop Heart of Dickness by Kalahari.com

Gelukkig kan ek berig dat die dikste boeke wat ek nog uitgegee het, topverkopers was – van The Afrikaners van Giliomee tot die biografie van Anton Rupert deur Ebbe Dommisse of Mamphela Ramphele se Laying Ghosts to Rest. In ons ervaring is Suid-Afrikaners gesofistikeerde lesers wat passievol belangstel in hulle land en geskiedenis. Ons laat ons nie sommer ’n sluier voor die oë trek nie, ons wil wéét. Dit is die wonderlike ding van aktuele en geskiedenisboeke, kort of lank, uitgee in Suid-Afrika: dis nie net van akademiese belang nie. Dit ráák ons.

Wat die skrywers betref – die persvrystelling verkondig dat "van Suid-Afrika se topkommentators en -skrywers aan die woord is ...". Dit blyk inderdaad so te wees, met onder meer Aubrey Matshiqi, Max du Preez en Rhoda Kadalie wat betrek is. Hoe is daar besluit op watter skrywers genader sal word om by te dra tot die Kortes-reeks en wat was hul reaksies op die idee in die algemeen?

Tafelberg het ’n sterk lys aktuele skrywers en aanvanklik het ons eenvoudig ons bestaande skrywers genader, sowel as kollegas in die Media24-omgewing en ander gereelde medewerkers. Ons is oorweldig deur die positiewe reaksie, ’n vloedgolf van geesdrif. Feitlik almal wou deelneem. Baie van die skrywers wat op die oomblik ander verpligtinge het, het onderneem om so gou moontlik of in die volgende jaar ’n kortboek te skryf. Dit gee jou vrye teuels om jou hart uit te stort, maar is nie so intimiderend soos ’n vollengte-boek nie en kan met naweekskryf versoen word.

In watter mate is hierdie projek ’n poging van Tafelberg en NB om die "waters te toets" in die Suid-Afrikaanse lesersmark vir hoe die toekoms kan lyk vir die uitgewersbedryf, selfs die nabye toekoms?

Koop The Zuma Moment by Kalahari.com

Om boeke uit te gee is om voortdurend die waters te toets. Eerder as om net jou groottoon in te steek moet jy pens en pootjies binne-in die dam wees. Ons is voortdurend op die uitkyk vir die dinge waaroor mense praat of wonder of wat hulle fassineer. Dis die onderwerpe waaroor ons boeke uitgee. Of die boek nou op papier of digitaal gelees word, dit moet gaan oor iets waaroor mense sterk voel en waarvan hulle meer wil weet. Met die Mangaung-konferensie om die draai is een van die brandende sake op die oomblik leierskap. In A Chief is a Chief by the Grace of his People skryf Max du Preez oortuigend en geesdriftig oor voorbeelde van ware leierskap in ons geskiedenis, leiers wat hul mense gedien het deur versoening en vrede te bring en seker te maak niemand ly honger nie. Dis outentieke (prekoloniale) Afrika-leiers oor wie hy dit hier het: van Maqoma tot Mohlomi en veral Moshoeshoe, wat hulle hul nasies vreedsaam verenig het en regverdig geheers het. Wilmot James skryf oor Mandela se vreesloosheid en die uitdagings waarvoor sy voorbeeld ons stel. Susan Booysen en Aubrey Matshiqi skryf uit die binnekringe oor die interne verskeurdheid in die ANC en wat dit vir ons inhou. Andrew Donaldson gee die Spear-debat ’n nuwe kinkel. RW Johnson doen verdoemend verslag oor die ineenstorting van akademiese waardes by die UKZN en spel die implikasies vir die universiteit in Afrika uit. En binnekort verskyn Greg Mills se kortboek oor hoekom sekere Afrika-state misluk.

In dieselfde asem: daar is natuurlik uitdagings ook om te oorkom met ’n onderneming soos dié. Wat verwag jy sal die moeilikste elemente daaraan verbonde wees om dié "nuwe genre", soos die New York Times dit noem, in Suid-Afrika te vestig?

Die "vindbaarheid" wat soms nog gepaard gaan met die prosesse rondom die koop van e-boeke, waar mense erg geduldig moet wees om suksesvol af te laai. As ons die proses kan vergemaklik, sien ek ’n blink toekoms vir aktuele kortboeke – en hopelik vir die gesprek en diepgang wat ons glo dit sal help bewerkstellig.

  • 2

Kommentaar

  • Philip Fourie

    Verskoon my onkunde, maar kan ek hierdie boeke op my skerm lees soos 'n .pdf-dokument, of het ek 'n tablet of ander stuk toerusting nodig?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top