
Foto: Pixabay.com
Tafelberg
in spierwit kleed staan die tafel gedek
daar waar branders aan sy pote lek
en witskuimwater oor sandkastele speel
wyl Liza haar melodieë met die wêreld deel
sit Van Hunks en die duiwel diep in gesprek
en ek sien hoe die hemel se poorte rek
want borrels wit skuim versamel teen die blou
en heg aan die kleed wat oor Tafelberg vou
dan rol die mis oor die Kaap se kus
en die son se strale word in wolke geblus
want Van Hunks en die duiwel sit weer en stook
terwyl die Suidooster fluit deur die grou bolle rook


Kommentaar
Met watter konkrete beelde sleur jou heerlike ritme ons mee - tot teen Tafelberg! Pragtig Drienie.
Opregte waardering Louis. Dit is ’n eer om hier te mag skryf. Baie dankbaar.