Syferkunde is wiskunde se moses

  • 33
Syfervaardigheid

Wilhelm du Toit en vier van sy leerlinge by die Laerskool Worcester-Oos wat sy kursus in syfervaardigheid volg.

Wetenskap en wiskunde het ’n reputasie as “moeilike” vakke. Uitslae van die afgelope paar jaar toon dat Suid-Afrika se leerders groot agterstande het ten opsigte van syfervaardigheid. Die vlakke van wiskundige kennis, wiskundige begrip en vaardighede, asook die prestasie van leerders, is laer in vergelyking met die meeste oorsese lande.

Maar dit hoef nie so te wees nie, sê Wilhelm du Toit, ’n Wes-Kaapse onderwyser wat glo hy het ’n plan wat werk om leerders meer syfervaardig te maak.

Syfervaardigheid word nie in die Afrikaanse woordeboeke WAT of HAT gedefinieer nie, en dis waar die probleem lê, sê Wilhelm, wat ’n passie het vir die kind se opvoedingsproses in veral syfers en wiskunde.

Dit is hierdie passie wat hom aangespoor het om ’n unieke projek te ontwikkel wat nou al vanaf 2003 volhoubaar aangebied word by die Laerskool Worcester-Oos, waar hy skoolhou.

Tussen die leerders se vol buitemuurse programme word tyd ingeruim om kinders van jongs af syfervaardig te maak. Dit vind plaas op die skoolterrein, wat vir die leerders ’n veilige omgewing skep, en word aangebied deur ’n onderwyser wat aan die kinders bekend is.

Op die vraag of syfervaardigheid en wiskunde nie eintlik tog maar vir net vir die heel, heel slimmes beskore is nie, is sy antwoord ’n besliste nee!

“Syfervaardigheid kan aangeleer word. ’n Belangstelling in syfers kan gekweek word. Die toppresterende lande in die wêreld bewys dit. Ons moet net die regte stelsels instel vanaf die grondslagfase. Meer kinders sal dan die vrymoedigheid en selfvertroue hê om wiskunde as vak te kies. Ek self is ’n voorbeeld wat die teendeel in die vraag bewys het.”

Syfervaardigheid

Wilhelm du Toit help een van sy leerders met syfervaardigheid.

Syfervaardigheid is volgens Wilhelm per definisie presies wat dit sê: jy moet oor spesifieke vaardighede en kennis beskik om suksesvol met syfers te kan werk. Die belangrike hiervan is dat alle leerders in die laerskool oor die vermoëns beskik om hierdie vaardighede en kennis te kan bemeester.

Sistemiese evaluering wat in grade 3 en 6 in die Wes-Kaap gedoen word, toon dat die probleme kommerwekkend is. Die vele veranderinge in die onderwys die afgelope 20 jaar en die agterstande uit die vorige bedeling speel volgens Du Toit ’n bepalende rol hierin. “Ek het volle begrip vir die huidige leiers se dilemma, maar ons onderwysstelsel faal beslis ons kinders. Drastiese aanpassings en veranderings is dringend nodig om die stelsel meer suksesvol te maak. Die opleiding van onderwysers en die kwaliteit van lesaanbieding verg daadwerklike aandag.”

Hy glo syfers en wiskunde is ’n taal wat aangeleer en ingeoefen kan word. Die kind moet eers syfervaardig word voordat hy in wiskunde kan presteer. “Die toppresterende lande in die wêreld kry dit reg om hul kinders te laat presteer. Ons doen definitief iets verkeerd. Hierdie ‘verkeerd’ begin in die grondslagfase en loop deur na die intermediêre en senior fases.”

Dit het hom jare geneem, maar uiteindelik het hy ’n manier gevind waarop leerders hierdie “taal” op ’n vroeë ouderdom kan aanleer. Dit staan bekend as die Genius-projek. Hy glo alle leerders in die laerskool beskik oor die vermoëns om hierdie vaardighede en kennis te kan bemeester en hy wil dit graag met ander deel.

Wilhelm, wat op Ceres in die Wes-Kaap gebore en getoë is, se reis om die taal van syfers vir kinders te leer het wye draaie geloop. Na sy HOD in akademie met wiskunde en opvoedkunde as hoofvakke en twee jaar diensplig het hy sy onderwysloopbaan in 1982 aan die Laerskool Louisvale naby Upington in die Noord-Kaap begin. Daarna behaal hy die graad BA aan Unisa met hoofvakke aardrykskunde en opvoedkunde en Hons BEd in leerondersteuning en gemeenskapsonderwys aan die US.

Maar dit was in Europa waar sy denke beïnvloed is om met ’n unieke program vir Suid-Afrikaanse leerders vorendag te kom.

“Ek was bevoorreg om saam met Van As Jordaan van Wellington na Europa te reis om meer kennis op te doen van verskillende onderwysstelsels. Gedurende hierdie reis het ek gefokus op wiskunde, wetenskap en tegnologie. In Engeland het ons die Qualifications and Curriculum Authority (QCA) besoek en daar is ek blootgestel aan kenners op die gebied van kurrikulumontwikkeling.

Skole is ook besoek om te ervaar hoe die kurrikulum in die praktyk werk. “Baie nuttige materiaal is ontvang wat my denke beïnvloed het. Die Stichting Leerplanontwikkeling (SLO) in Nederland is ook besoek. Hier het ek vir ’n week saam met wiskunde- en wetenskapspesialiste op die gebied van kurrikulumontwikkeling gewerk. Prof Hans Hooghoff was ons kursusleier. Ek het baie tyd in sy teenwoordigheid deurgebring en sy wysheid en kennis het my beslis positief geïnspireer.”

Na hulle terugkeer was hy deel van ’n span kundiges wat saam met Jordaan gewerk het aan ’n projek in die Wes-Kaap waar mental maths-opleiding aan opvoeders gegee is.

Al hierdie invloede het hom aangespoor om sy unieke projek te ontwikkel. Dit vorm deel van die naskoolse aktiwiteite en ouers en leerders kan nie uitgepraat raak daaroor nie.

Een lesing van ’n uur per week word vir sewe weke aangebied. Elke lesing bestaan uit vyf afdelings, naamlik karakterbou; mental maths; probleemoplossing; syferkundige speletjies en terugvoering van die ouers. Die bywoning is vrywillig en word teen ’n bekostigbare tarief aangebied.

Die reaksie van ouers en kinders was oorweldigend positief en het hom aangespoor om verdere navorsing te doen.

In Suid-Afrika het ’n vriend van hom by die Bedryfsielkunde-departement aan die Universiteit Stellenbosch betrokke geraak met die ontledings van statistiese data.

“Ek wou nie aan ouers en leerders leë beloftes maak nie, maar wou statisties wetenskaplike bewyse hê dat die projek wel suksesvol is. Ek wou op skrif sien dat hierdie projek kinders se syfervaardigheid en wiskundeprestasies verbeter.”

Oor ’n tydperk van drie jaar is ’n diagnostiese toets opgestel waarin die vrae in elke onderafdeling baie goed gekorreleer word. Hierdie toets is in Februarie 2014 met alle graad 6-leerders in Laerskool Worcester-Oos gedoen. In November 2014 is dieselfde toets weer afgeneem.

Die projekgroep se syfervaardigheid het beduidend verbeter teenoor dié van die kontrolegroep. Dieselfde leerders se wiskundepunte is ook ontleed. “Die resultaat was ongelooflik”, sê Du Toit.

Hy glo dit kan ’n effektiewe bydrae tot die wiskundeprobleme in Suid-Afrika lewer.

Kinders en ouers moet nie so maklik die skrik op die lyf gejaag word as hulle die woord “wiskunde” hoor nie, sê hy. “Wiskunde is ’n sielkundige hekkie. Dit bied veral groot uitdagings aan ons laerskoolonderwysers. Miskien moet ons die naam van die vak in die laerskool verander? Die bydraende faktore wat van wiskunde ’n mislukking maak, is nie net gesentreer om die onderrig van die vak op laerskoolvlak nie. Dit strek veel wyer as dit.”

Sy raad aan onderwysers is om te sorg dat hulle kenners op hulle vakgebied is. “Bly ewig student. Moenie huiwer om te eksperimenteer met aanbiedingsmetodes en nuwe denkwyses te beproef nie. Gebruik strategieë wat beter werk. Elke jaar verskil leerders se behoeftes en dit is die plig van die onderwyser om in daardie behoeftes te voorsien.”

“Maak die klaskamer en die lesings ’n plek van syfers, wiskundige kennis, begrip en  vaardighede en ’n aangename atmosfeer. Om ’n liefde vir die vak te kweek begin by die onderwyser.”

“Die rede vir Suid-Afrika se swak prestasie in syfervaardigheid begin in die grondslagfase, waar leerders nie daarin slaag om die basiese syfervaardighede te bemeester nie,” sê Wilhelm. Dit is nie ’n hou wat hy slegs teen kollegas mik nie, maar ook teen die onderwysstelsel. “Ek glo ons kinders begin te gou in boeke skryf en reken te min. Leerders moet meer met syfervaardigheid en probleemoplossing gekonfronteer word in die vroeë ontwikkelingsjare. Hierin is ons onderwyskorps nie goed opgelei nie.”

Syfervaardigheid

Tussen die leerders se vol buitemuurse programme word tyd ingeruim om kinders van jongs af syfervaardig te maak.

Daar is altyd dié wat sukkel en dié wat makliker begryp. In hierdie verband speel die onderwyser ’n belangrike rol. “Begrip en simpatie met dié wat sukkel is baie belangrik. Beplan jou werk só dat ’n derde van die formele assessering ook deur die swakker leerder gedoen kan word. Baie geduld moet beoefen en ekstra werk met hierdie leerders gedoen word. Daar is beslis geleenthede vir leerders wat sukkel om ook in die hoërskool wiskunde as vak te kies en suksesvol daarin te wees.

Een van die hoofde van ’n skool waar die Genius-program toegepas word, Kobus Esterhuysen van Prince Alfred Hamlet, sê dit het die wiskundewêreld van die leerders vergroot. “Die entoesiasme is opvallend en die genot wat hulle daaruit kry, is enige leerkrag se droom.”

Frieda du Toit is ’n onderwyseres by wie die program groot byval vind. “Dit is vir my heerlik om my passie vir wiskunde en syfers op hierdie manier met die kinders te deel. Daar is altyd ’n uitdaging en Genius maak hulle leergierig om nuwe dinge te ontdek en elk hul eie potensiaal te ontwikkel. Die informele aanbieding en deelname wek ’n groot entoesiasme by die kinders en hulle geniet dit ook om mekaar uit te daag, saam te dink en oplossings te vind!”

Kinders wat baat gevind het by Du Toit se program, gesels met nuwe selfvertroue daaroor. “Ek het geleer dat alle probleme oplossings het, sê Hendrè Thesnaar. “Deur te dink en positief te bly, help dit my nie net in wiskunde nie, maar ook om in my ander vakke te presteer. Ek mis nie één klas nie – dit is te lekker!”

Estè Janecke sê is dit deesdae vir haar lekker om met syfers te speel. “Dit laat mense bietjie dink en ons leer goed wat gewone wiskunde ons nie leer nie en die speletjies is altyd ’n wenner. Die lesse laat ons almal saamwerk en as dit moeilik is, is dit lekker om koppe bymekaar te sit en aan te hou probeer. Genius is cool en ek sien uit na elke les!”

Een van die ouers wie se dogters die program gevolg het, Arina du Toit, sê dit het nie net haar dogter se selfbeeld verbeter nie, maar ook haar selfvertroue en beredeneringsvermoë. “Maar die belangrikste van alles: dit het haar opgewonde en lief gemaak vir wiskunde.”

  • Die Genius-program is ontwikkel vir leerders vanaf graad 5 tot 7. Ouers en skoolhoofde is welkom om vir Melinda te skakel by 072 191 4935; of stuur ’n e-pos na wilhelmdt@breede.co.za.
  • 33

Kommentaar

  • Puik program. Goeie breinstimulering om abstrakte denke te kan uitvoer en selfvertroue om dan enige probleem te kan aanpak word versterk deur Genius. Genius is ontwikkel deur 'n genius.

  • Deonie Basson

    Hierdie engel, as jy 'n man so mag noem, maak daagliks 'n reuse-impak op ons kinders. So dankbaar dat my kinders hom in hul opvoeding het. Worcester kan trots wees!

  • Goeie dag
    Ek is die remediërende onderwyseres by ons skool in Queenstown. Ek sal graag meer inligting oor hierdie manier van aanbied van Wiskunde te wete wil kom.

    Hoor graag van u.

    Groete
    Nicolette

  • mitzi. stelzer

    My klein seun is amper 3 jaar oud en ek will nou al begin om hom te help met syferkunde kan u vir my help met dit asb. Baie dankie byvoorbaat.

    • Wilhelm du Toit

      Nog te jonk vir Genius, maar goeie opvoedkundige speelgoed, kreatiewe stimulering en baie geduld sal al baie help.

  • Onderwyser in Namibia en leerders sukkel baie met Wiskunde en ek dink die probleem is dat hulle nie syfervaardig is nie. Wat beloop die koste aan jou program?

  • My seuntjie is in Graad R. Ek sal hom graag wil help van kleins af. Enige inligting sal baie waardeer word. Dankie by voorbaat...

  • Joycelyn Claassen

    Het 'n tienjarige dogter wat gediagnoseer is met 'n tipe hiperaktiwiteit wat lei tot konsentrasieprobleme, ek stel graag belang in hierdie program.

  • Joyce van der Nest

    Kleinkinders nog klein 6 en 7 maar sal baie graag meer wil weet, ook oor afstandsonderrig, aangesien ons in Mpumalanga woon!

    Baie opgewonde en dankie byvoorbaat.

    Joyce

  • "Sy raad aan onderwysers is om te sorg dat hulle kenners op hulle vakgebied is."
    Weet nie of hy 'n spesialis op sy vakgebied is nie - hang af wat hy daarmee bedoel. As hy bedoel mens moet 'n doktorsgraad hê in een of ander obskure aspek van wiskunde: nee, dit gaan nie 'n verskil maak nie. Asseblief - die navorsing sê sulke spesialisasie maak 'n bitter klein verskil, en partykeer is die klein verskil negatief.
    As hy bedoel mens moet 'n spesialis raak in studente help om Wiskunde te leer (sy volgende sin skep daai indruk): absoluut. Die navorsing stem saam.
    Rêrig: kom ons wees baie versigtig met hoe ons sê watter dinge 'n verskil maak in die kinders se leer. Daar's genoeg mense in belangrike poste wat steeds glo 'n beter kwalifikasie = leerlinge wat beter leer. Dis bloot nie so nie.

  • Ek het 'n passie vir wiskunde en doen heelwat tutoring daarin. Sal graag meer wil weet van jul program. Ernst

  • Wilhelm, dit klink wonderlik! Ek is tans gemoeid met wiskundige geletterdheid vir grade 10 - 12, en ervaar daagliks die gapings van dinge wat in die laerskool geleer moes word. Ek stel baie belang in jou program. Is dit in Engels ook beskikbaar?

  • Marie Pretorius

    Wil met jou gesels oor kind met agterstand en hoe ek nou-al kan begin om te help ... is in een tot een onderrig – ’n jaar agter nou. Sal waardeer.

    • Die volledige kontakbesonderhede word in hierdie onderhoud aangedui, groete, Naomi Meyer, inhoudsbestuurder

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top