Syferfontein deur Cas Wepener: ’n FMR-resensie

  • 0

Syferfontein
Cas Wepener
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485306887

Cas Wepener se roman beeld die lewe op Syferfontein, ’n Karooplaas, uit. Die roman heet dan ook Syferfontein en word uitgegee deur Protea Boekhuis.

Ons gaan etlike dekades terug na ’n langnaweek in Desember 1960. Dingaansdag, soos dit toe geheet het, het dié jaar op ’n Vrydag geval. Die plaaseienaar Peet van Jaarsveld is al mens op die plaas. Die drie werkers, Herklaas, Kiewiet en Saar, is weg vir die langnaweek.

Die leser beleef die naweek deur die perspektief van Peet. Dis sy denke, sy reaksies. Tot sy kleinste handelinge word beskryf as hy iets ongewoons doen soos vuurhoutjies kloof, kerse maak of met sluisplanke werk. Ongewoon seker vir die meeste lesers. In lang sinne met lastige bysinne en in uitgerekte paragrawe word beskryf presies waar hy loop, deur watter vertrek, wat hy optel of neersit. In die alleenheid probeer hy sin maak uit die verlede. Dinge moet verander in almal se lewens sodat weg beweeg kan word van woede, agterdog, onderdrukking en verwerping.

Hy is ’n kerkman met baie ervaring van werk vir die Here. Hy wil nogal erkenning daarvoor kry. Op bl 115 kry ons insae in sy Godsbegrip: “Dit is nie aldag dat hy beleef wat hy nou beleef nie, veral nie in die laaste klompie jare nie – die nabyheid, God wat hom rakelings aanraak, die ekstatiese geluk. ... Ook wat was kan die Vader ten goede laat meewerk en nog laat word wat dit moet wees. Vir God is tyd wel anders en vreemder as wat sy eie verstand kan deurgrond.” (My beklemtonings)

Peet as karakter word baie sterk uitgebeeld. Hoe hy homself sien, maar ook hoe ander hom ervaar. Soos sy kinders, Christiaan, Le Roux en Hester. Hy word as ’n suinigaard beskou; as hardvogtig en oordonderend. As wewenaar word hy oorweldig deur die herinnerings aan twee vroue in sy lewe. Hy was verloof aan Debora. Maar toe sien hy Gertruida raak. ’n Skoonheid wat die voorregte gehad het van ’n rykmanskind. Die verlowing met Debora word verbreek en Peet trou met Gertie. Dit is nie ’n gelukkige huwelik nie. Hulle verdink mekaar. Hy probeer haar oorheers. Ná haar sterwe kom Peet nog steeds agter hoe hulle mekaar nie ten volle vertrou het nie, hoe sy hom ondermyn het.

In die hede bedink Peet planne vir die plaas. Maar sy kinders staan hom teen. Op bl 86 is ’n treffende toneel van verwerping. Peet ry na ’n buurplaas om die telefoon te gebruik om Christiaan te bel. Hy daag op by ’n vleisbraaiery op die heilige dag van die Gelofte. Byna die hele kontrei se mense is daar; dis skielik vir hom duidelik net hy is nie genooi nie. Die skaaphond en twee seuntjies verwelkom hom op ’n manier. Die seuntjies was in die voortuin besig om ’n bal vir mekaar te gooi, het omgedraai en ’n wyle na hom staan en staar. Dan hardloop hulle, bykans asof dit tussen hulle afgespreek was, saam weg en verdwyn in die huis. Die seuntjies het hulle maatjies gaan roep wat op die stoep versamel en hom aangaap. Peet se weersin in die skare gaste styg. Hulle is luidrugtig, rook en drink op die dag wat as Sabbatdag geheilig moet word. Hulle is ’n verworde en onsindelike geslag. Hy gee ’n aanduiding van hoe onsindelik, maar ek kan dit nie in ordentlike geselskap herhaal nie.

Daar is ook ’n hoogtepunttoneel wanneer sy kinders hom kom ompraat om na die tehuis op die dorp te trek en hy ineenstort.

Ek moet erken dat ek oor die redigering van die boek frons. Hier is goeie beskrywings. Bl 114: “In die verte teen die krans is die bokke besig om soos ’n klein, wit waterval af te beweeg en vir die dag in die oop veld te wei.” Jy bewonder ou Afrikaans wat oortuigend gebruik word deur die bejaarde Peet: deuskant, gekeuwel, met enige inspanning, lanklaaste, beken en opstroppelis. Doening is seker ’n spelfout vir doenig. Maar kort-kort kom die anglisistiese vir ’n oomblik voor. Die woord oomblik word werklik te baie gebruik oor die boek heen.

Hoofletters vir name en ampte word nie konsekwent gebruik nie. In die middel van ’n sin sal dit nie Dominee (met ’n hoofletter) Volschenk wees nie. In een sin word Pa reg gespel, met ’n hoofletter, en daarna weer nie. Kommas ontbreek byvoorbeeld voor en na ’n aangesprokene. In een paragraaf word verskillende karakters aan die woord gestel en meer as een situasie ontstaan sodat in die lang paragraaf jy nie dadelik weet wie praat nou nie of waar die karakters hulle bevind nie.

Spelfoute. ’n Reling waaraan jy vashou, word hier ’n reëling. As jy beter wil hoor, moet jy oorleuen (soos jok). En vier uur as tydstip moet vieruur wees.

’n Woord verskyn in die sin en dieselfde een twee sinne verder: paar vyebome; enkele; plaasgeneem, neem. Woordherhaling kan wel vir dramatisering gebruik word. Soos hier: wakker, wawydwakker; nooit nie, nooit nie.

Die skrywer laat vir Peet op bl 107 die stormlantern aansteek en hy doof die kers voor hy die nag ingaan. Hoe gemaak met bl 109? “In sy groot haas om te vertrek het hy vreemd genoeg nie die kers langs sy bed gedoof nie.”

Hier’s ook ’n kultuurfout. Teen 1960 was Kerkbode nie ’n koerant nie; jy sou dit ’n tydskrif noem en dit het nog Die Kerkbode geheet. Eers heelwat later het dit die koerantformaat gekry en word dit Kerkbode genoem.

Peet haal geweldig baie aan uit die Nederlandse Bybel en kerkgesange. Hy moet darem ’n baie sterk geheue gehad het. Teen 1960 was my oupa-hulle en ons jeugdiges darem baie bekend met die Afrikaanse vertalings.

Dis ons ouer lesers wat ons kan identifiseer met die ouer man in sy gemoedswisselings. Groter letters sou gerieflik vir ons gewees het met die lees.

Ek hoop dat Syferfontein gou herdruk word sodat die redigering daarvoor hersien kan word.

  • Hierdie resensie is op 15 Maart op Fine Music Radio uitgesaai.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top