Syd Barrett (6 Januarie 1946 – 7 Julie 2006)
Onthou jy toe jy jonk was?
Al daardie son
En die lang, polsende aande
Al daardie kleure en klank
En die smag en die dank
En die felheid en die helheid
Van sinne behou
Onthou jy toe jy jonk was?
Albums en liefde en uitdagendheid
Sak soos die son in die see
Jy leef jare sonder om te sing
Gaan uit vir tee
Los ’n fooitjie onder jou piering
Eendag, eendag kwyn selfs die verlange
Onthou jy toe jy jonk was?
Al die grafskrifte op die internet
Welwillendheid van kranksinniges
Bontgespikkelde herinneringe van hippies
Ná dekades nog nie besweer nie:
Die laaste boodskappe aan die
Gloeiende Musikant van die Eindtye
Stomgestruikel oor terloopse note
Versmoor deur ’n kitaar
Opgehef deur koerantlesers wat sê
"Wie nou weer?"
Skyn, jongman, skyn.

