Sy dans woorde

  • 0

Foto: Canva.com

Sy dans woorde

Sy dans op die maat van oorlewing 
in die straat van verneuk en valsheid 
sy dans omdat sy wil en moet 
sy groet met versigtigheid en styl

sy skuil in haar dans omdat sy moet 
want sy ken die bitter sy ken die soet 
verraad en venyn met ingehoue pyn 
sy oorleef in die lewe van mense in skyn

sy weet lewe is ’n wrede meester 
hy begeester en verniel tot in jou siel 
daarom dans sy op musiek wat sy ken 
want sy ken en respekteer woorde – want sy moet.

Sy dans om te oorleef – die euwel is trots 
haar styl is grasieus en stil ingeweef in lewe 
haar dans is haar skaduwee teen seer 
om die weer gebeur te keer

daarom dans sy op die musiek wat sy ken 
sy ken die lewe haat en vergewe 
want alles lê in woorde 
want sy is woorde.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top