Die maan se eliptiese baan veroorsaak dat dit tydens elke siklus op ’n bepaalde punt (perigee) op sy naaste aan die aarde is. Wanneer perigee en volmaan naby mekaar val, soos op Saterdag 22 Junie later hierdie maand, kry ons wat genoem word ’n Supermaan. Vir die blote oog sal die verskil moontlik onbeduidend wees, maar dit is gaaf om te weet dat die maan dan slegs 356 991 km vanaf die aarde sal wees teenoor meer as 400 000 km tydens apogee. Dit sal wel ’n effek op getye op die aarde hê wanneer die verskil tussen hoog- en laagwater groter sal wees as normaal. Die magnitude van -12,89 sal 14% meer wees as die van ’n volmaan tydens apogee.

Groete
Panda


Kommentaar
Baie dankie vir die inligting. Dit is altyd lekker om iets nuuts vir die kinders te leer.
Interessant. Dankie!
Dankie Panda
Amper het ek jou skrywe misgekyk omdat ek Superman en plaas van Supermaan, in my skandering van die opskrifte, gelees het. My gesin het juis vir my 'n nuwe teleskoop vir my sestigste verjaarsdag persent gegee en ek beplan om baie meer ernstig aandag aan die sterrekunde te gee soos wat my tyd meer beskikbaar word. Ek wonder nou net of die nuwe teleskoop reeds met die optiese illusies van Jupiter se mane toegerus is en of dit eers gaan verskyn as ek die teleskoop die eerste keer opstel. As kundige sal jy my seker met hierdie vraag kan help?
Groetnis
Thomas
Soos altyd welgedaan ...
Terloops, beide Venus en Mercurius is in die vroeë aandhemel te sien. Venus sal vir die volgende paar maande sigbaar bly, en deur 'n teleskoop geleidelik groei vanaf 'n klein "volmaan" na 'n groot "sekelmaan". Bekyk hom gerus oor die komende maande, en dupliseer so Galileo se werk (dit is nou die eerste kalant wat homself deur Jupiter se optiese illusies laat mislei het ...).
Panda
Thomas
Ek hoop van harte dat jou teleskoop toegerus is met die nuwe wonderlike toerusting vir die waarneming van optiese illusies wat outomaties inskop sodra jy jou teleskoop op Jupiter rig. ’n Goeie toets is om te kyk of jy die Galileaanse mane se skaduwees wat soms op Jupiter val, kan waarneem. Indien nie vermoed ek jy het ’n ‘dut’ vir ’n geskenk gekry.
’n Goeie geleentheid sou 12 Oktober 2013 wees wanneer ’n unieke gebeurtenis gaan plaasvind met drie van Jupiter se mane se skaduwees wat gelyktydig op Jupiter, wat dan in die konstellasie van Gemini is, waargeneem sal kan word. Die slegte nuus vir ons hier in Suid-Afrika is dat dit min of meer gedurende dagbreek sal plaasvind. Vanuit Suid-Amerika sal dit pragtig waargeneem kan word. Ek sal ’n gesimuleerde foto plaas onder oorspronklike bydraes van die gebeurtenis soos wat inwoners van Rio de Janeiro dit deur ’n goeie teleskoop behoort te sien. (lyk nie vir my dit is onder kommentare moontlik nie)
Groete
Panda
22 Junie ... beslis ook 'n goeie tyd om langs die viswaters te wees ...
22 Junie?
Ek was dadelik jaloers op Perdebytjie se 'skone Namibië', toe kom Henn nog met sy 'viswater'. Maar toe ek op my almanak kyk sien ek dat ons op Magoebaskloof/ Drakensberg bo-op die wolkberge gaan wees!
Panda - as dit 'n skoon nag is - wie van ons gaan die maan duidelikste sien of naaste aan hom wees? Wat van ons bring almal foto's!
Panda
Moerse! Dankie. Ook sommer 'n mooi merker vir wanneer die nagte weer korter en die dae langer word.
Thomas
Is jy al doktor? Indien wel, vat vyf!
Groetnis
Trienie,
Ek verwys na jou voorstel "Wat van ons bring almal foto's!". Dit gaan dalk vir Naomi probleme skep. Jy het al jou vaardigheid met die kamera bewys en ek sal liewers voorstel dat ons jou afvaardig om 'n foto te neem. Astrofotografie is nie maklik nie. Die instelling vir die korrekte beligting is soms moeilik veral met 'n volmaan. En daar is nie baie tyd vir eksperimenteer nie want dit gaan maar relatief vinnig. Jy moet ook terwille van perspektief 'n gedeelte van die horison in jou foto insluit. Eksperimenteer maar die vorige aand bietjie. Ek sal maar liewers net kyk. Hierdie is een van my gunstelinge: http://apod.nasa.gov/apod/ap130130.html
Groete