Superatleet

  • 0

Foto: Canva

Superatleet

Jy is duur gekoop.
Met beurse en beloftes
uit jou ver weg huis geskeur
vir my, jou nuwe Alma Mater.
Jy is myne.

Saam sal ons die verre kruin
van hoë podiums bestyg.

Getrou bring jy jou tiendes
van sekondes.
Offers met jou fikse voet
en sweet soos bloed
uit sirkels van die baan gekap.

Geketting met ons droom
van hoër roem
aan elke nuwe baan se as,
jaag jy ons drome en jou grense
al om die velling van die gras.
Jou lewe word een wiel wat draai.
Klein sirkel wat al vinniger draai.

Buite ... rustig ... wag
’n ewigheid,
maar jy moet draaialvinnigerdraaikoorsagtigdraai
al om die binne-as,
want jonger asems
met nog groter
offervaardigheid
en hul tiendes
blaas
in jou geboë nek.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top