Ôs liewe in ’n tyd van robots en AI’s, of soesie Afrikaanse taal sal sê, kunsmatige intelligensie. In ’n winkel in my area kan djy jou goed gat shopping, en djy het die keuse om te betaal vi jou goed aire by ’n mens of by ’n robot. Ja, ôs liewe in die tyd waa robots nou gedagtes het en kan boeke skryf, en jokes vetel, en oek somme jou shopping vi jou kan scan, maa djy moet dit self pak. Daa is glad ’n robot wat magic tricks kan doen. Toe ek dit sien, toe’s ek like maa hoekô voelit dan nog soes ôs gemeenskap nog in nientien toet sit?
Innie gemeenskap wat ek in bly, besit iemand ’n smartphone in elke huis. En daai smartphone issie slietel virrie slot wat somme baie deure kan oepmaak, as dit reg gebruik wôd. Ek mien maa, in Suid-Afrika sittie unemployement skaal somme baie naby an 30% vannie populasie. Nou kan djy mos jouself indink hoeveel mense kan gebenefit het assie internet net soe ’n honnerd rand goedkoper was. Ek vestaan dat dit innie biesaghede wat internet an ôs vekoep, se beste interest is om hulle pryse soe hoeg te hou, wan volgens hulle is die infrastruktuur wat hulle moet bou innie rural areas duur en soe moet ôs amal daai prys betaal. Mxm! Dis tog net lieg! En soe moet ôs maa angan om elke maand te skarrel vi 100 MB om at least net te kan WhatsApp, of as djy nou ’n klein bietjie medere geld kan uitgie, daai 1 Gig vi R150. Niee man! Soe kannit rêrigie angannie.
In Namibië kan djy vi minner as R40 ’n wiek 1 Gig data koep, plus nog WhatsApp-data, en nog SMS’e en free minutes om te bel. Nou sê djy gou vi my wat ken, hoe maak dit sense? In ’n plek soes Namibië met sy min mense en min infrastruktuur kan djy lag-lag met 4 Gigs en nog klompie SMS’e jou hartjie uit WhatsApp vi minner as R160 ‘n maand? Ek wiet rêrigie offit die stank van die veliede is wat ôs soe dof maakie, wan ôs sê maa net “dankie en amen”.
Djy kan sieke jouself indink hoe dinge virrie hele Suid-Afrika kon vebieter as amal die vryheid gehad het wat kom mettie interwebs. En ek vestaan dat daa sal sieke nou ’n klomp wies wat sal dink, maa kyk waavoo gebruik die mense die internet – om sex tapes op te laai, ennie bakleiery op skole, en om onnerwysers te veneder of te “expose”. En reg genoeg, daa is daai, maa met allie pessimisme is ek tog ’n optimis. Ek dra hoep vi ’n bietere toekoms in my are. Wan ek sien dan hoe ek die internet gebruik om my eie liewe te vebieter. En ek gloe mos maa altyd, as ek dit kan doen, wat is vekeerd mettie neks pesoon om oek soe te kan maak.
Die internet het die liewe vi ôs soe gemaak dat djy kan in ’n oegblink die annerkant vannie wêreld sien. Djy hoefie mee ’n texi te vat om wêk toe te gannie. Djy kan by jou huis sit en wêk. En om wee trug skool toe te gan is iets wat amal kan doen, nie net hulle wat klompe geld hettie. Wan daa is webwerwe vanaf YouTube af tot by internasionale universiteite wat kursusse veniet anbied. En die kursusse is legit, wan djy kan self lee hoe om ’n robot te bou, of die neks groot computer operating system te skryf deu te lee hoe om computer program kodes te skryf. Die lys van goed wat djy kan doen oppie internet hettie ’n einde nie, maa virrie mieste Suid-Afrikaners het hulle noggie eens die begin van die lys rêrig gesienie. En dis ’n jammerte dat ôs soe byrie gawement moet bedel dat hulle na ôs oek kyk. Die mense wat agte hulle stemme staan. Maa wanne het hulle dan tyd om ôs sake rêg te maak as hulle moet wharrie oo hoe hulle moet hulle gatte nou cover en dit nogal rêg voorie vekiesing.
Die goed lat my lag, wan is hulle rêrig soe vedoof deu allie geld wat hulle inkry lat hulle nie kan sien hoe om dinge te vebeter virrie toekomsie? Ek mien, al die companies wat an ôsie internet vekoep moet siekerlik geruk wôd en gevra wôd maa hoekô buit hulle die mense soe uit. Maa dis soesie gawement maa oek saam innie ding is om Suid-Afrikaners uit te buit. Ek sallie vebaas wiesie. As mens kyk na al die gesteel vannie public se geld, dan kan mens ienige iets annes vewag. As meedere mense kan wêk, dan kan ôs die ekonomie vestêk, ennie armoede, ennie geweld wat saamit dit kom, sal siekerlik bedaar. En die internet bring kan dit vi ôs gie.
Maa al wat hulle kan doen is om “summe specials en hot deals” te gie, en dit gan virrie gawement-partye ennie companies, wan vi wat moet hulle wharrie. Wanner die pap dik raak, al wat hulle hoef te doen is om maa net hulle internet afsit, dis al, wan hulle het daai vryheid.
Ek is Livy vannie Rive.
Bly te kenne! En dankie virrie onnersteuning.

