Suidoosterfees 2018: Wat is die toekomswaarde van Afrikaans? – Conrad Steenkamp

  • 0

Conrad Steenkamp (foto: Menán van Heerden)

ATR, Jakes Gerwel-gespreksreeks – Suidoosterfees – 28 April 2018

Conrad Steenkamp

Daar bestaan ’n noue band tussen die ekonomiese waarde van Afrikaans en die lewenskragtigheid van die taal as huis- en onderrigtaal. Ook ouers se persepsies hieroor, positief of negatief, speel ’n sleutelrol.  

Ouers wil hê hulle kinders moet akademies, sosiaal en ekonomies goed vaar. Sommige ouers dink dat hulle kinders eerder deur Engels – die hoëwaarde internasionale taal – sosiaal en ekonomies sal vorder. Hierdie idee word dan ook bevorder deur die taalpraktyke in verskillende sektore, onder andere universiteite, wat die aansien van Afrikaans en ander inheemse tale benadeel.

Ouers wat hulle kinders Engels grootmaak of in Engelse klasse plaas, ignoreer die ekonomiese waarde van Afrikaans. ’n Eentalige Engelssprekende kind het eenvoudig net minder geleenthede as ’n meertalige Afrikaanse kind, ook internasionaal, waar Afrikaans kinders maklike toegang tot Germaanse tale soos Nederlands gee.

Daar bestaan dan ook geen nulsomkeuse tussen óf Engels óf Afrikaans is nie, maar veel eerder tussen enkeltaligheid en meertaligheid. Beheersing van die moedertaal sluit ook nie die leer van enige ander taal uit nie. Inteendeel, ons kinders moet Engels bemeester, maar deur Afrikaans.

Sommige ouers wil inderdaad hê dat hulle kinders meertalig grootword. “Ons praat Engels met die kind en dan bring ons die Afrikaans weer ’n bietjie by,” soos ’n ouer verduidelik. Dikwels verloor hierdie ouers egter beheer oor die proses. ’n Taalverwarde kind besluit dikwels self watter taal hy of sy gaan praat.

Die welbekende taalverskuiwing vanaf Afrikaans (en die ander inheemse tale) na Engels skep wenners én verloorders. “Ons leer ons kinders om te misluk,” vertel ’n onderwyseres. Volgens haar is dit dié taalverwarde kinders, dié wat met halwe Engels as moedertaal in Engelse klasse beland, wat in die bendes eindig. “Hulle haal daai agterstand nooit in nie. Dit breek hulle selfvertroue.”

’n Duidelike klassedimensie is ook hier ter sprake. Die taalmigrasie van die middelklas dra by tot die sosio-ekonomiese isolasie van die Afrikaanssprekendes en vergroot die reeds aansienlike gaping tussen ryk en arm in die taalgemeenskap. Die 2,5% bruin Afrikaanssprekendes tussen die ouderdom van 23 en 25 wat byvoorbeeld ’n tersiêre kwalifikasie het, is vergelykbaar met die posisie van swart Amerikaners in die 1960’s.

Statistikusse kan oor die presiese betekenis van die 2,5% stry – die massiewe strukturele diskriminasie bly egter staan. Dit is iets wat die transformasie waaroor so baie instansies praat, eintlik behoort te takel. 

Dit gebeur egter nie, omdat die huidige diskoers taal as ’n probleem daarstel, as iets wat uitsluit, geld kos, of onprakties is. Die huidige diskoers lê sterk klem op taalregte (of die relativering daarvan), regsgedinge, en identiteit- en persepsiepolitiek. Die emosionele loopgrawe loop diep en ons word in ons geskiedenis vasgedraai pleks daarvan dat die groot strukturele probleme getakel word. Ons het in wese ook met ’n middelklasdebat te doen waarin middelklasmense oor middelklasbelange met mekaar stry.

Kan die diskoers oor taal ’n rigting inslaan wat ouers eerder van die toekomswaarde van Afrikaans en die ander inheemse tale van die land oortuig? Enige nuwe diskoers moet die fokus op etlike bykomende kwessies plaas: 

  • Die ekonomiese waarde van Afrikaans en taal as ’n hulpbron. Die koste van enkeltaligheid in ’n meertalige land en die ekonomiese waarde van die inheemse tale is veel hoër as wat baie rolspelers vermoed.
  • Die klassedimensie van taal. Engelseentaligheid bevorder die vorming van ’n Engelse ekonomiese, sosiale en politieke elite. Wie word die meeste hierdeur benadeel en wie word die meeste deur meertaligheid bevoordeel? Dit is hulle stemme wat gehoor moet word. Hoe kan taal bewustelik gebruik word om mense se toegang tot opvoeding, die ekonomie en die politiek te verbeter? Hoe verseker ons dat niemand agtergelaat word nie?
  • Kreatiewe gebruik van ontluikende tegnologie. Hoe kan nuwe, buigsame tegnologieë en kreatiewe idees gebruik word om hulpbrontekorte en leemtes op skool en tersiêre vlak aan te vul en te verbeter? Kunsmatige intelligensie, vertaaloutomatisering, geprogrammeerde onderwys, wolkskole en dies meer het geweldige implikasies vir die lewensvatbaarheid van taal en meertaligheid.
  • Sistematiese ontginning van Afrikaans (en die ander inheemse tale) se toekomswaarde. Watter taalsensitiewe sektore en toekomstige produkte en dienste kan ons binne en buite die land identifiseer? Hoe verseker ons dat ons hierdie geleenthede kan benut?
  • Vennootskappe en samewerking. Afrikaans kan nie in isolasie bevorder word nie. Hoe kan sinergie tussen die inheemse tale dus bevorder word? Hoe kan hierdie tale in gemeenskaplike belang saamwerk aan die verwerkliking van hul gesamentlike toekomswaarde? Wat kan saam gedoen word om die politieke wil vir meertaligheid te bevorder?

Dis nie om dowe neute dat iemand soos wyle Neville Alexander die politieke toekoms van die land aan die toekoms van Afrikaans gekoppel het nie. Meertaligheid is ’n voorvereiste vir ware demokrasie. Transformasie deur ons inheemse tale moet voorkeur kry bo transformasie deur Engels.  

Om hierdie fokuspunte te realiseer, sal Afrikaanssprekendes onderling aan hul samehorigheid en kohesie moet werk. Ons moet uit die loopgrawe klim, beter na mekaar begin luister, buigsaam raak, en bowenal meer kreatief begin dink. Daar bestaan enorme potensiaal. Ons moet dit net ontgin.

Suidoosterfees 2018: Wat is die toekomswaarde van Afrikaans? – Christo van der Rheede

Suidoosterfees 2018: Wat is die toekomswaarde van Afrikaans? – Anne-Marie Beukes

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top