Suid-Afrikaanse onderwys in krisis

  • 1

Athlone Skool vir Blindes (ouditorium), 28 Julie 2012

Goeiemôre dames en here

Die huidige krisis waarin die onderwys in Suid-Afrika tans verkeer, is die groot rede waarom ons vandag hier byeen is. Hierdie beraad geskied teen die agtergrond van die voortslepende agteruitgang van onderwys in Suid-Afrika. Die beraad is egter nie bedoel as ’n kla-sessie nie, maar is veel eerder ’n eerlike poging om ’n platform te bied vir besinning oor kreatiewe oplossings vir knelpunte in die onderwys.

Dis algemene kennis dat verskeie gebeure oor ’n lang tyd aanleiding gegee het tot die kritieke toestand, maar ek glo nie ons besef wat die werklike omvang van die krisis is nie. Was die Suid-Afrikaanse openbare onderwys vandag ’n pasiënt, sou ons dit in die intensiewesorgeenheid van ’n hospital vind, gekoppel aan ’n asemhalingsapparaat wat dit kunsmatig aan die lewe hou.   Dít is so erg as wat die toestand van onderwys in Suid-Afrika in 2012 is, ten spyte daarvan dat die grootste deel van die nasionale begroting aan onderwys toegesê word. Terloops, Suid-Afrika bestee meer aan onderwys as enige ander Afrika-land, maar vergelyk swak met armer lande soos Mosambiek, Botswana, Kenia en selfs Zimbabwe.

Die probleme en uitdagings wat effektiewe onderwys kniehalter, is veelvuldig.  Ek gaan slegs enkeles uitlig. 

Eerstens is daar die probleem van swak administrasie by distrikskantore, wat nie oor die administratiewe kapasiteit beskik om gehalteonderwys te ondersteun nie.

Dan is daar die skreiende onderwysertekort.  Die skokkende realiteit is dat Suid-Afrika meer as 30 000 onderwysers benodig om die huidige tekort aan te vul.  Die grootskaalse uittog van gekwalifiseerde en ervare onderwysers is rampspoedig, omdat hulle nie oornag vervang kan word nie. 

Daar is veral ’n tekort aan manlike onderwysers, onderwysers in die grondslagfase waar onderrig in die moedertaal so belangrik is en onderwysers in sekere vakke.  Ek het van ’n amptenaar in die onderwysdistrik Eden, Suid-Kaap en die Karoo verneem dat Wiskunde as vak by die Sekondêre Skool Ladismith afgeskaf is omdat daar nie ’n onderwyser gevind kon word om Wiskunde te onderrig nie.  Let wel:  dit is in die Wes-Kaap, wat voorgehou word as die provinsie waar onderwysstandaarde van ’n beter gehalte is.

’n Verdere knelpunt is die swak infrastruktuur by township-  en plattelandse skole landswyd  wat betref sanitasie, ’n gebrek aan norme en standaarde vir skole-infrastruktuur, ’n nypende tekort aan skoolbanke en stoele, die onvermoë om seksuele geweld en swak dissipline onder leerders en selfs onderwysers hok te slaan, asook die gebrekkige lewering van handboeke en werkboeke aan duisende leerders regoor die land.

Daarby is daar ’n tekort aan die hulpbronne en tegnologie wat nodig is vir gehalteonderwys.

Dis voor die hand liggend dat die gebrekkige lewering van handboeke en dienste, wat al endemiese proporsies aangeneem het, ’n negatiewe impak het op armes en minderbevoorregtes in ons land. Boonop verdiep hierdie ongelyke voorsiening die rasse- en sosiale ongelykhede waarmee die land steeds worstel.

In die lig hiervan is die voorgenome sluiting van 27 skole in die Wes-Kaap, wat tot nadeel van arm, hoofsaaklik bruin en plattelandse gemeenskappe sal wees, tegelyk onverstaanbaar en onaanvaarbaar.  Ek haal in hierdie verband aan uit die baie interessante skrywe oor hierdie aangeleentheid deur Archie Vergotine in Die Burger van vandeesweek:   “Die argumente wat aangevoer word, is ten beste halwe waarhede wat kritieke faktore buite rekening laat wat ’n rol speel by die onderwys van kinders in verarmde gemeenskappe.”

Die regering, in die besonder die Minister van Basiese Onderwys, is deeglik bewus van die huidige krisis in die onderwys wat menige toegewyde onderwyser wat graag gehalteonderwys wil aanbied, magteloos laat.  Dit skyn egter of die regering in ontkenning leef, want die indruk word op allerlei wyses geskep dat alles onder beheer is. Die groot gewag wat jaarliks gemaak word van die “verbetering” van die matriekuitslae is tekenend van politici se poging om almal om die bos te probeer lei.

Dit wil dus voorkom asof die politieke wil ontbreek om met daadwerklike en revolusionêre aanbevelings vorendag te kom om die krisis in die onderwys af te weer en oplossings te vind. Daarom dat die Minister van Basiese Onderwys op 15 Junie vanjaar tydens ’n perskonferensie ontken het dat daar ’n krisis in onderwys bestaan met spesifieke verwysing na die handboekfiasko in die Limpopo-provinsie.

Die redes vir die voortslepende krisis in die onderwys moet na my mening  vierkantig voor die deur van die regering gelê word.  Die meerderheid van die probleme kan immers toegeskryf word aan die regering se onvermoë om op ’n gepaste of doelmatige wyse met sistemiese gebreke om te gaan.

Toegegee, die oorgrote meerderheid van die probleme in die onderwys spruit voort uit ’n periode lank voor die huidige Minister van Basiese Onderwys se ampstermyn. Postapartheid-Suid-Afrika het immers ’n onderwysstelsel geërf wat deurspek was van wanbalanse.  Tog, 18 jaar nadat die reg op onderwys vir almal grondwetlik verskans is, is daar nog net soveel ongelykhede.

Vandag blyk gehalteonderwys slegs beskore te wees vir diegene wat dit kan bekostig.  Maar dít was nie die bedoeling van die Vryheidsmanifes nie;  eerder dat gehalteonderwys toeganklik moet wees vir almal, sonder uitsondering. Die langtermyneffek van die regering se onvermoë om die strukturele wanbalanse in onderwysvoorsiening te takel, gaan na alle waarskynlikheid daartoe lei dat ’n totale geslag jongmense gedoem sal wees tot ’n lewe van armoede en onderontwikkeling.

Dit moet aanvaar word dat daar nie eenvoudige oplossings vir hierdie probleme is nie.  Maar die burgerlike samelewing kan en mag nie meer net toeskouers wees wat toekyk hoe mense se basiese reg op onderwys geskend word nie.  Hierdie reg vorm immers ’n integrale komponent van die Handves van Menseregte en is daargestel om die negatiewe nalatenskap van apartheid teen te werk.

’n Mens kan wel vra waarom dit vir ’n organisasie soos Section 27 en ander burgerlike organisasies nodig is om teen die Departement te litigeer om te verseker dat probleme in die onderwys aangespreek word.  Maar dit ís nodig om die Minister te dwing om haar grondwetlike plig na te kom om die enorme probleme in die onderwys aan te spreek ten einde ’n totale ineenstorting van die onderwysstelsel te verhoed.  

Op die vraag wat die Departement moet doen om die dreigende fiasko af te weer, is die antwoord voor die hand liggend.  Dit moet onverwyld praktiese stappe in plek stel om die knelpunte in die onderwys op te los, waaronder:

  1. die aanstelling van kundige amptenary wat oor die wil en vermoë beskik om hul taak op ’n professionele wyse te verrig;
  2. die heropening van onderwyskolleges om die onderwysertekort aan te vul.  Studies het bewys dat die getal nuwe onderwysers wat opgelei word, nie genoeg is om dié wat aftree of sterf, te vervang nie;
  3. die effektiewe implementering van die nuwe Kurrikulumassesseringsbeleidsverklaring, oftewel KABV (CAPS), in graad 1 tot 3 en graad 10, wat onder meer behels dat kinders vanaf graad 1 ‘n addisionele taal sal aanleer;
  4. ’n daadwerklike plan om ’n herhaling van die handboekfiasko te verhoed, alhoewel die agterstand in die betrokke grade in Limpopo weens die handboekdebakel moeilik uitgewis gaan word. 

Die KABV lê groot klem op die gebruik van handboeke. Die handboekfiasko mag daarom nie herhaal word nie.  Daar is egter kommer dat dit volgende jaar weer kan opduik, omdat die katalogusse vir handboeke laat is.

’n Stap in die regte rigting is die Nasionale Beplanningskommissie van Minister Trevor Manuel se konkrete aanbevelings vir die verbetering van die gehalte van onderwys teen 2030.  Wat nou kortkom, is ’n plan wat uitstippel hoe beleid en voorstelle in die praktyk gestalte gaan vind.  Is die logiese volgende stap nie om ’n kommissie bestaande uit onderwyskundiges aan te wys om daadwerklike oplossings vir die krisis in die onderwys te vind nie?

Dan natuurlik moet die Departement ag begin slaan op die menings van prominente opvoedkundiges oor die toestand van onderwys in Suid-Afrika. Dr Mamphela Ramphela en prof Jonathan Jansen is sterk gekant  teen eksperimentering met onderwysstelsels, byvoorbeeld uitkomsgebaseerde onderwys, wat die land se jeug gefaal het.

Prof Jonathan Jansen, Rektor van die Universiteit van die Vrystaat, het verlede jaar tydens ‘n byeenkoms van FEDSAS gesê dat die tyd gaan aanbreek dat die Departement van Onderwys se kantore in elke provinsie beset sal word soos met die Waalstraat-besetting in New York.

Dis waarskuwings soos dié wat ter harte geneem moet word.

Ek sluit af.

Wat ons onmiddellik nodig het om die onderwyskrisis die hoof te bied, is groter betrokkenheid uit die burgerlike samelewing. Ek herhaal daarom wat ek vroeër gesê het: ons kan nie meer net toeskouers wees wat sit en toekyk hoe die onderwys van ons kinders en kleinkinders deur onbevoegde en onbekwame individue in die grond in bestuur word sonder enige reaksie van ons kant af nie.

Die onderwys is ’n konserwatiewe sektor. Daar is basiese beginsels wat eenvoudig nie geïgnoreer kan word nie. Die implementering van weldeurdagte opvoedkundige beginsels is die enigste manier hoe ons Suid-Afrikaanse onderwys weer op ’n suksespad kan plaas sodat ons met die bestes in die wêreld sal kan meeding. Ons kinders verdien gehalteonderwys. Laat ons elkeen ons plig as burgers van die land besef en in ons onderskeie kontekste meehelp aan die daarstelling van werkbare en volhoubare oplossings wat uitnemende onderwys sal verseker.

My voorstel is dat ons in ons soeke na oplossings eers behoorlik sal bestek opneem van reeds bestaande suksesvolle intervensies, en dat sodanige voortreflike strategieë – die Engelse praat van “pockets of excellence” – versterk en op wyer skaal gerepliseer sal word, sodat ons nie die onderwyswiel van voor af probeer ontdek nie.

In Fraserburg, my geboortedorp in die Karoo-hooglande, is daar ’n skool met die treffende leuse “Daar is werk”. 

Dames en here, daar is werk!

Ek dank u.

Danie van Wyk

Uitvoerende Hoof: SBA

  • 1

Kommentaar

  • Mej. Barbara Koster

    Geagte Bestuur

     

    Ek is gedwing om in die buiteland te gaan skoolhou twv oorlewing, dog probeer ek bykans daagliks om weer as onderwyseres in SA 'n pos te kan bekom.  Met 'n BA-graad;  Onderwysdiploma;  21j ondervinding in SA (Grade 4 tot 7)  en ook 7j ondervinding in die buiteland, kry ek dit net nie weer reg om 'n pos in SA te kry nie. 

    HELP ASSEBLIEF!  

    Cell:   +971-50-5485570

    Mej. Barbara Koster

    "Emirates National School"

    Abu Dhabi, UAE

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top