As jy ’n kranige surfer is, kan jy in Port Elizabeth in ’n woonstel binne loopafstand van die branders kom bly. Plek A is slegs tien minute van plek B af in PE, dus sal dit jou nie lank neem om op die kampus te kom na ’n vroeë oggendsessie in die branders nie.
Die lughawe sit ook feitlik in die middel van die stad – as jy vinnig iewers heen moet vlieg.
As jy nie ’n surfer is nie, maar jy wil steeds naby die see wees, kan jy ook PE oorweeg vir nagraadse studie. Hier is ook plekke waar jy kan kuier oor koffie of wyn (soos op ander kampusse), waar jy tussen rakke vol tweedehandse boeke kan rondsnuffel op soek na verworpe pêrels, nuwe boeke kan koop, biblioteke waar jy in vrede kan sit en lees en gesprekke kan voer oor ’n billabong, ’n kleinerige meertjie in Australië.
Op ’n kampus wat in die middel van ’n natuurreservaat sit, waar jy die see in die verte kan sien, kan jy jou kom verlustig in die Afrikaanse taal en letterkunde. Jy kan ook ingespan word as tutor vir eerstejaars en jou kennis en entoesiasme met die opkomende geslag deel.
Honneurs
Oorweeg die honneurskursus in Afrikaans en Nederlands aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit in Port Elizabeth. Al die inligting oor registrasie, studentegelde en beurse waarvoor jy kan aansoek doen, is te vinde op www.nmmu.ac.za.
Studente wat oor ’n BA-graad met Afrikaans of Afrikaans-Nederlands beskik (met ’n gemiddeld van 60% in die derde jaar) kan vir dié kursus registreer.
Aansoeke vir toelating tot honneurs sluit op 5 Desember 2012 en vir enige navrae kan die fakulteitsbeampte, me Drucilla Blaauw (drucilla.blaauw@nmmu.ac.za), gekontak word.
Aansoeke om honneursbeurse (2013) sluit op 2 November 2012. As jy nie die inligting op die webblad van die universiteit kan opspoor nie, kontak mnr Grant Skinnette (grant.skinnette@nmmu.ac.za.) oor nagraadse beurse.
Modules
Naas die verpligte skripsiemodule kies studente drie ander modules uit ’n reeks modules wat aangebied word. Dit sluit in Afrikaanse Prosa, Afrikaanse Poësie, Literatuurteorie, Kinder-en jeugletterkunde, Suid-Afrikaanse Drama, Orale Letterkunde en Nederlandse Prosa of Poësie. As jy meer van taalkunde hou, kies jy uit die volgende: Variasietaalkunde, Semantiek, Leksikografie en Pragmatiek.
Kontak
Belangstellendes kan die volgende persone kontak:
Prof Annél Otto, die programkoördineerder en dosent verantwoordelik vir taalkunde (anna.otto@nmmu.ac.za)
Prof Helize van Vuuren, letterkundedosent (helize.vanvuuren@nmmu.ac.za)
Dr Marius Crous, letterkundedosent (marius.crous@nmmu.ac.za.).

