Stroomop deur Harald Pakendorf: ’n resensie

  • 0

Stroomop: Herinneringe van ’n koerantman in die apartheidsera
Harald Pakendorf
Penguin 
ISBN: 9781776091171

Pakendorf was vroeg in sy joernalistieke loopbaan bekend as stroomop— hy kon in geen “kamp”geplaas word nie — nuus, agtergrond en geen onderdanigheid aan ’n ideologie nie. Nóg links, nóg regs was sy stempel op die Afrikaanse joernalistiek: een van “die nuus kom eerste”.

Natuurlik sou hy ’n doring in die vlees word, soos veral vir John Vorster wat hom later verbied het om met hom te vergader (Pakendorf was daarvoor bekend dat hy met Vorster — soos met ander ministers – eers sou kyk of sy dagboek dit sou toelaat om ’n versoek/opdrag van die betrokke minister na te kom.

Vroeg in sy loopbaan is hy die prestigeryke Niemann Fellowship toegeken om aan Harvard te studeer. Hy is gestuur om in die destydse Rhodesië ’n finansiële koerant te begin, daarna is hy opdrag gegee om ’n onafhanklike oggendblad (Oggendblad) in Pretoria te begin. (Daar is in die algemeen geglo dat Perskor, wat hierdie opdrag gegee het, begin voorberei het om teen die sogenaamde “aanslag” van Naspers in die Noorde te begin walgooi.)

Die dinamiese en erg gevreesde Perskorbaas, Marius Jooste, het Pakendorf na sy beginjare by News/Check, na Perskor toe aangekeer. Tussen Pakendorf en Jooste het ’n goeie vriendskap, gebaseer op hul verskille, ontwikkel. Pakendorf was stellig die enigste redakteur wat nie onder die gramskap van Jooste deurgeloop het nie.

Die joernalistieke beginsel van ken en ag jou lesers het van Oggendblad ’n gewilde plaaslike blad gemaak. Gelukkig vir Oggendblad was die Uniegebou in sy opvanggebied.

In die sewentiger- tot tagtigerjare het Pakendorf as koerantman saam met verskeie uitstaande joernaliste gewerk. Joernaliste soos Koos du Plessis (die liedjiemaker wat na druktyd sy kitaar sou uithaal), Karin Brynard, Dries van Heerden, Jean Oosthuizen, Chris Louw, sy eie vrou Aletta Pakendorf, ’n skerp rubriekskrywer, en PG du Plessis wat ook as redakteur ná Pakendorf oorgeneem het.  

Na die Inligtingskandaal en die finale uittrede van John Vorster uit die openbare oog, het die plaaslike politiek warm gebly. PW Botha was aan die stuur, ’n grensoorlog het gewoed midde die links/regse politiekery in die Nasionale Party: eers die wegbreek van die Jaap Marais-groepering, toe Treunicht se versaking van die NP en bewegings soos Aksie Morele Standaarde en die Kappiekommando. Skerp joernalistiek was bitter nodig.

Pakendorf se redaksie het bygebly. Dit was die tyd toe Hillbrow nog ’n kosmopolitiese karakter gehad het. Selfs hierdie verskynsel was vir Pakendorf belangrik in sy siening van die politieke sfeer. Sy rubriek “Rondom die Politiek” het gemoedere ook laat opvlam. Maar dit was sy besoeke vroeg in tagtig aan die ANC in Lusaka wat hom die NP-gramskap op die hals gehaal het. Pakendorf het met sy kollega Dries van Heerden, tot binne die domein van OR Tambo toegetree.  Tambo het vir Pakendorf as toegankliker (en aangenamer) as Thabo Mbeki beïndruk. Selfs ’n afspraak met “die Russe “het onder eienaardige, maar suksesvolle omstandighede in Lesotho plaasgevind toe twee van sy redaksielede daar onderhoude gaan soek het. Dit was Pakendorf se strewe om “die ander kant ook gehoor te laat word”. 

Na wat allerweë as ’n briljante, maar stewig onafhanklike redakteurskap beskou is, is Pakendorf in 1986 afgedank. Dit was duidelik, alhoewel Pakendorf dit nie uitspel in sy memoire nie, dat die binnewoelinge in die NP-ondersteunende koerante ’n rol gespeel het. Later sou Vaderland en Die Transvaler vou. Die algemene vermoede was destyds dat Pakendorf dalk te onafhanklik was.

Pakendorf het na sy afdanking kontrakte van organisasies as politieke ontleder gekry, hy tree nog dikwels in kommentaar-programme en onderhoude op. Sy loopbaan as ’n stroomop-joernalis bly hom gestand. Sy memoire dek ’n hoogs interessante tydperk in die Afrikaanse koerantwese.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top