
Foto: Canva
Streef
Goeie Herder, deur U genade is
ons oë geopen; ken ons die liefdeswet
waarop die pilare van die heelal rus.
Uit die meesterskap van materie red
U; U Gees rig ons tot ’n hoop: tydloos
en vas. Ons streef na U; meer ontbloot staan
ons daagliks in U suiwer lig. Broos
stap ons op die pad wat na U gaan;
soms steier ons onder die juk van die self
wat ons soos ’n skaduwee volg. Sterk nou,
Herder, ons voet en gewrig; laat ons delf
in U Woord – stuur na ons hart die lewensdou.
Skenk in U trou dít vir ons uitgemeet
waar ons nou, pleitend, vat aan U kleed.

