Stories vir die siel – inspirerende kortverhale, saamgestel deur LAPA Uitgewers: ’n resensie

  • 3

https://www.lapa.co.za/stories-vir-die-siel

Stories vir die siel. Inspirerende kortverhale
Saamgestel deur LAPA Uitgewers, 2025
ISBN: 9781779880321

In ’n wêreld waar die daaglikse lewe dikwels gekenmerk word deur chaos en onsekerheid, verskyn daar ’n bundel kortverhale, Stories vir die siel, wat as baken van lig vir talle lesers sal dien.

Hierdie versameling verhale het ’n Christelike karakter en is saamgestel deur LUCA Uitgewers. Vier-en-dertig skrywers – bekend en onbekend – se verhale is opgeneem, en die debuutskrywers se verhale is die produk van ‘n kortverhaalkompetisie wat LUCA gehou het. Die bundel dien dus as uitstalvenster vir gevestigde sowel as opkomende talent.

Die verhale spil rondom die kernwaardes van die Christelike geloof, naamlik geloof, hoop en liefde, soos dit gestalte vind in 1 Korintiërs 13.

Hierdie verhale, geanker in die alledaagse Suid-Afrikaanse werklikheid, skep ’n veilige ruimte vir lesers om hul eie pyn, hoop en geloofsvrae te verken.

Die Christelike karakter van die bundel is subtiel, maar sterk. Dit vermy die clichés van oordrewe moralisme en fokus eerder op outentieke, menslike stories waar geloof organies deel is van die karakters se lewens.

Stories vir die siel is nie groot letterkunde nie – en wil dit ook nie wees nie. Die bundel het ’n ánder funksie, en bedien inderdaad ’n wyer lesersgehoor.

Die belang van so ’n bundel is veelvoudig.

........
Eerstens lê die katartiese waarde daarvan in sy vermoë om lesers met universele menslike ervarings te konfronteer. Met ander woorde dit laat lesers toe om hulle eie emosies te verwerk déúr die stories (of fokalisering) van ander.
.........

Eerstens lê die katartiese waarde daarvan in sy vermoë om lesers met universele menslike ervarings te konfronteer. Met ander woorde dit laat lesers toe om hulle eie emosies te verwerk déúr die stories (of fokalisering) van ander.

In ’n wêreld waar geestelike en emosionele welstand dikwels oorskadu word deur die gejaag van die moderne lewe, is hierdie versamelbundel een van daardie boeke – of kleinode – wat ’n gekoesterde plek op ’n bedkassie sal inneem. Hoop en inspirasie is waarskynlik die figuurlike kommoditeite waarna mense die heel meeste smag.

Stories vir die siel bevorder voorts Afrikaanse kortkuns deur aan nuwe talent ’n platform te gee, en dit is baie belangrik as ’n mens kyk na die afname in Afrikaanse kortverhaalpublikasies die afgelope paar jare.

........
Stories vir die siel bevorder voorts Afrikaanse kortkuns deur aan nuwe talent ’n platform te gee, en dit is baie belangrik as ’n mens kyk na die afname in Afrikaanse kortverhaalpublikasies die afgelope paar jare.
........

Die debuutverhale sorg vir vars perspektiewe van skrywers wat hul eie ervarings van geloof binne ’n moderne Suid-Afrikaanse konteks verweef.

Die verhale is inspirerend sonder om oordadig sentimenteel te wees. Dit spil rondom alledaagse mense wat deur uitdagings gaan – van persoonlike verlies tot gemeenskapsuitdagings – en hoe geloof, hoop en liefde hulle na uitkoms lei. Die taalgebruik is ryk: ’n geskakeerde Afrikaans, met idiome en kulturele verwysings wat die stories in ons plaaslike werklikheid anker.

In ’n tyd waarin digitale vermaak en sekularisasie die norm is, dien Stories vir die siel as ’n testament van die krag van storievertelling om geestelike groei te bevorder. Dit herinner ons dat geloof nie abstrak is nie, maar dat dit lewe in die stories van gewone mense. Die krag van hierdie unieke versamelbundel lê daarin om lesers van alle ouderdomme en agtergronde te bereik deur kort, maklik leesbare verhale wat emosioneel resoneer.

Terwyl ek Stories vir die siel gelees het, het ek gedink aan die Chicken soup for the soul-reeks, een van die mees ikoniese en suksesvolle versamelings inspirerende kortverhale in die wêreld, wat lesers al vir meer as drie dekades bemoedig en motiveer. Die reeks het in 1993 begin met die eerste versameling kortkuns, saamgestel deur Jack Canfield en Mark Victor Hansen, twee motiveringsprekers wat die stories uit hul seminaarwerk en bydraes van lesers byeengebring het. Die konsep was eenvoudig, maar kragtig: kort, werklikheidsgetroue verhale en anekdotes wat universele temas soos liefde, moed, vergifnis en geloof aanspreek, dikwels met ’n Christelike of breë geestelike inslag.

In Stories vir die siel skuur debuutskrywers skouers met gevestigde name soos dié van Maretha Maartens, Bettina Wyngaard, Jeanette Ferreira, Elsa Winckler, Stefaans Coetzee, Louise Viljoen, Elize Parker, Tertius Janse van Rensburg, Hannes Barnard, Jeanette Stals, Malene Breytenbach, Jaco Versfeld, Alexa Steyn en Lizelle von Wielligh.

Agter in die bundel is ’n bylaag, “Meer oor die skrywers”, wat ’n kort stukkie biografiese inligting van elke skrywer bevat en die lees van die verhale as’t ware verpersoonlik.

Ek noem voorts enkele verhale wat dalk spesiale vermelding verdien.

“Die Kersparty” (43–7) van Jacqueline Schmahl: Die karakters, wat van ’n Sassa-toelaag afhanklik is, word aangenaam verras een Kersfees toe die toelae nie uitbetaal kon word nie. Die verhaalgegewens is outentiek; eg Suid-Afrikaans. Schmahl spog met ’n MA-graad in algemene literatuurwetenskap, en van haar kortverhale het al in Boereoorlogstories 2 (2012) en Hartlam (2017) verskyn.

In “Die gety” (35–41) deur Arther Belcher (her)ontmoet Aniska op ’n onverwagse wyse ’n nuwe liefde, wat egter nie ’n onbekende aan haar is nie. Belcher is onder meer die skrywer van A marine aquarium for South Africans (1990), asook ’n Suid-Kaapse hengelboek.

“Die teorie van Ubuntu” deur Eliza Nieuwoudt (57–61) is skreiend ironies binne die konteks van wat ubuntu veronderstel is om wees: die kritieke verskil tussen die teorie van ubuntu en die uitlewing daarvan.

Jeanette Ferreira beskryf in “Dis ontsaglik cool van tannie Antoinette” (63–9) ’n “Kristelike Boerefamilie” en ’n Franssprekende Belg se belewenis van Kersfees – maar dié keer in die ware gees van ubuntu. Dit is werklik ’n ontroerende verhaal en een van die sterkstes in die bundel. Ferreira het geen bekendstelling nodig nie en is die outeur van 12 romans, ’n digbundel en ’n kortverhaalbundel. Sy was ook medeprofessor in die Afrikaanse lettere aan verskeie universiteite.

Wikkie Burger takel demensie as tema in sy verhaal, “Wanhoop” (235–9) wanneer Riaan met groot deernis sy moeder, wat al hoe meer vergeetagtig begin raak, behandel. “Die grootste hiervan is die liefde. Wanhoop en liefde. Hoop en liefde.” Dit is dan ook die treffende slotwoorde van die bundel.

Met “Glo net” (99–104) lewer Stefaans Coetzee ’n spanningsverhaal wat uitstaan as ’n rou en eerlike ontboeseming. Die verteller het nie geld vir die mediese kostes van sy driejarige seun nie, en beplan ’n heist. Maar: Ter elfder ure en ’n sekond ná gebeur daar ’n wonderwerk. Daar het reeds ses boeke en ’n RSG-radiodrama uit Coetzee se pen verskyn.

Nuwe liefde op ’n gevorderde ouderdom is die tema van Helene Pretorius se “Die ouetehuiskandidaat” (49–56). Dis ’n verhaal van hoop, en dat die liefde seëvier, al is die karakters ook jarig. Pretorius was ’n kleuterskoolonderwyseres, onderwyseres en kollegedosent.

Dit is moeilik om uit 37 verhale wat inspireer, enkeles uit te sonder, want die bundel moet as ’n eenheid geheel gelees en benader word – as ’n getuienis van die krag van geloof, hoop en liefde as universele waardes wat mense aan mekaar verbind, ongeag hul agtergrond. Stories vir die siel is ’n bundel wat jou laat lag, huil en nadink – en bowenal, jou laat vóél. Die fokus val op unieke Suid-Afrikaanse ervarings: ons landskap, geskiedenis en meertalige identiteit, wat op sigself ’n inspirasie is en lesers weer daaraan herinner dat ons as Suid-Afrikaners vir mekaar omgee – ongeag.

Lees ook:

Heil die Leser! Oor verganklikheid en verlies: alles van waarde is weerloos

  • 3

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top