Stook

  • 0

Daar is baie maniere om behoorlik te stook, en elke behoorlike stoker sal vir jou beduie dat sy spesifieke resep of metode die beste is. Maak nie saak wat jy gebruik nie, die basiese beginsel is mos maar altyd dieselfde. Jy het vrugte, ’n behoorlike ketel (of praksasie), hitte, watertjies, en behoorlike toesig nodig. Want dis mos maar soos vrou vat of kar koop: jy moet hom dophou want jy vertrou wat binne aangaan, dis die duiwel wat jy nie vertrou nie.

So het oom K vir jarre nooit nodig had om ooit by ’n bottelstoor in te stap nie. Kerkmens en als en wat sal die mense nou dink as hy daar sou instap? Hy het maar sy eie praksasie gehad so ’n ent weg van die huis af onder in ’n klofie waar die bome ruig groei en die stroompie rustig verbyvloei. Die bome is vir die rokies (vir die "eyeblind") en die stroompie water was mos maar daar-mens kan sommer piekniek terwyl die druppeltjies uitdrup. Nugter weet waarom die hele besigheid so geheimsinnig gehou is want daar by W het nooit enige siel gekom wat sou kom ondersoek instel nie want almal het geweet daar gebeur niks en dan hou dit vir drie weke aan. Maar jy weet mos hoe dit werk met ’n ding wat jy nie mag nie: Jy begin later allerhande geluide hoor en dinge sien.

Vrugtetyd kon jy maar weet die hele span is soek. Selfs die melkery loop laat want almal wil toesig hou oor die besigheid onder in die klofie tussen die bome langs die stroompie. Nie dat dit ooit in ’n nare besigheid ontaard het nie, want hulle is mos maar kerkmense. So breek Sondag aan en as jy ouderling is moet jy toesien dat die hele familie darem oë wys voor die gemeente. Jy is immers die voorbeeld. Maar die keteltjie moet aan die gang gehou word want die vuur moenie te hoog nie want wie wil dan nou brandsels sluk? En die vuurtjie moet ookie te laag nie want dan moet mens voor begin.

Oom K het gewik en geweeg en besluit toe maar op sy mees bekeerde klong en die hanskind Urk om te bly vir toesig. Urk is in elk geval bekeerd so hy rakie aan duiwelsgoed nie en oom K sal wel aan iets dink waarom die twee nie by die diens is nie. Losloper beeste wat al weer deurgebreek het of, wel, enigiets kan mos verkeerd gaan as mens probeer boer, nè? Die lot is in die Ford af dorp toe en namiddag is die spul terug. Goed ingepraat deur die predikant om hulle ’n week van sonde en giere weg te hou. Ek was nie daar nie maar die mense sê oom K het so in die ry uitgeklim toe die spul tuis kom. Want die rook het gestaan en die rook het van onder in die klofie gekom. ’n Bolling rook wat lyk asof die hele plaas aan die brand is.

By die stokery gekom sien hulle net vlamme en vuur en rook en stoom en geen siel nie. Hulle sê die vlamme het so hoog bokant daai keteltjie uitgestaan dat dit ’n wonder is die koper het nie gesmelt nie. Die twee "toesighouers" het hulle later opgespoor. Bekeerde klong het iewers in die bosse gelê asof hy dood is. Urk het voete in die stroompie gelê.

Blykbaar het die twee "toesighouers" so met die druppeltjies wat uitdrup maar geproe-proe soos hulle gesien het die ouer gene doen. En geproe-proe en geproe-proe.

Oom K het die lot maar beduie en skadebeheer probeer doen soos mens mos maar doen. En die res gelos vir more oggend. "Maar wat van Urk en Bekeerde Klong?"

"Los hulle. Urk sal so met sy voete innie water gou koud kry en Bbekeerde klong sal wel wakker word want soos die takke hom geskraap en die dorings hom gesteek het sal hy nie lank kan hou nie voor die pyn hom wakker maak nie."

Oom K was verkeerd. Hulle sê laatnag toe hoor hulle iets wat soos ’n kitaar klink met vals begeleiding van ver af aankom. Die twee toesighouers het blykbaar uit hul tiep uit ontwaak en maar seker gedink hulle sing in een of ander koor. Voordag kry hulle die twee langs die as en uitgebrande ketel. Hulle sê oom K het die twee manne so bekyk en beduie dat water vir hulle aangedra moet word. En almal het skielik geweet hoekom vir hy water beduie het ...

As jy jouself langs ’n ketel aan die tiep drink is die laaste ding wat hulle jou moet ingee water. Want jy is van voor af weer dronk na die eerste sluk en voel jy hondsleg daarna. So iemand gee jy melk in. Of so glo die mense. Blykbaar.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top