Stoesel

  • 0

Omdat Elsas op die grens tussen Frankryk en Duitsland lê, het Lukas gedink hy sal goed met sy Duits oor die weg kan kom. Die dorpies wat tussen die Ryn en die Vosgesberge (Vogesen) gesprinkel is, het name soos Kaysersberg en Zellenberg, Sigolsheim, Kintzheim en Bergheim, Bennwihr, Mittelwihr, Riquewihr en Hunawihr. Op monumente en in begraafplase word die lewens van mense met die vanne Ehretsmann, Hammann, Schaller, Schutzger en Stoesel, Wickersheim, Wurtz en Winter gedenk. Op die spyskaarte van restaurante pryk die name van hulle tradisionele geregte en lekkernye: Lebkuchen en Kougelhopf, Baeckeoffe, Choucroute, Flammekueche, Fleischnacka en Spätzle.

Alles klink so Duits soos Bach, Beethoven en Brahms. Maar nêrens kon iemand een van Lukas se vrae in Duits verstaan nie, en moes hy sy verroeste Frans weer uitgrawe. Later sou hulle goed verstaan hoekom. 

Op pad na Riquewihr, waar Lukas en Maria vir vier dae in die Hôtel au Dolder ’n kamer bespreek het, beland hulle in Bennwihr. Die dorp het net soveel blomme langs die strate, rondom fonteine en voor vensters soos elke ander dorpie waar hulle al in die streek aangedoen het, maar die historiese karakter ontbreek. Geen keisteenstrate, houtraamhuise of kerkie wat dateer uit die vyftiende of sestiende eeu nie.

Voor die moderne kerkgebou in die hoofstraat staan die enigste monument wat uit die puin gered is toe die dorp in Desember 1944 tydens die Poche de Colmar deur die Duitsers platgevee is. Die Monument de la Fidélité (“Monument van getrouheid”), opgerig ter nagedagtenis aan die slagoffers van die Eerste Wêreldoorlog, beeld twee meisies in tradisionele drag wat ’n krans vashou uit. Die skrapnelmerke daarop is net so behou en dien as stille getuienis van die verskrikking wat die burgers van hierdie dorpie moes deurmaak.

Maria is eers vies oor die moderne gedrog wat tussen 1957 en 1960 die historiese kerkgebou se plek ingeneem het. Die kerk se staaldeure is soos dié van ’n bunker, en verklap niks van die nugterheid en kalmte daarbinne nie. Al die kerke en katedrale wat hulle tot nou toe besoek het, was taamlik donker danksy die klip, houtvloere en -panele en gebrandskilderde glas. Elke moontlike oppervlak is beset deur swaar ornamente en elke beskikbare stukkie muur is die agtergrond vir ’n ikoon of een van die veertien stasies van die kruis.

Maar wanneer mens die swaar deure van hierdie kerk oopstoot, skrik mens eers vir die skitterwit daarbinne – die banke staan in netjiese wit rye, op die vloere is blinkwit teëls, die lang muur aan die noordekant asook die muur agter die (wit) kateder (ook nie ’n groot, ornate preekstoel nie) is wit, so ook die plafon. Dan vind jou oog die gloeiende dalle de verre-vensters (’n loodglastegniek waar glasvelle met ’n dikte van 2,5cm in stukkies gesny en met ’n mengsel van hars en sement in die verlangde ontwerp aanmekaargesit word) in die suidelike muur. Die kontemporêre ontwerp deur die kunstenaar Paul Martineau is oorwegend blou met spatsels rooi en oranje, en hier en daar ’n flikkering geel. En jy weet dít is hoe vrede, berusting en opstaan-en-weerbegin lyk en voel.

Bennwihr is natuurlik nie die enigste dorpie met letsels wat deur die Duitsers toegedien is nie. Elke naam op elke monument in elke dorp het ’n storie, ’n lewe gehad, voor dit net ’n paar letters op ’n gedenkplaat geword het. Teen November 1944 het die Geallieerde Magte reeds die grootste deel van Frankryk bevry, maar by Elsas en Lotharinge het die Duitsers vasgeskop. Vir Hitler was hierdie streke Duitse grondgebied, en die taak is aan Heinrich Himmler opgedra om dit ten alle koste te verdedig.

Franse burgers in die gebied – die bakkers, kaasmakers, slagters en wynboere – is opgekommandeer om aan Duitse kant te veg teen hulle eie Franse Mag aangevoer deur generaal Jean de Lattre de Tassigny. Burgers wat geweier het om te veg, is konsentrasiekamp toe gestuur, drosters is tereggestel en dié wat wel die wapen opgeneem het, het dikwels selfmoord gepleeg deur hulself doelbewus voor Franse geweervuur te werp.

Op 10 Februarie 1945 skarrel Marie Stoesel saam met haar drie seuns en die res van Hunawihr se inwoners teen die bult uit na die kerk van St Jacques le Majeur wat bokant die dorpie uittroon. Danksy die simultaneum mixtum aanbid Katolieke en Protestante sedert 1687 hier saam, al is dit in verskillende tydgleuwe. Vandag daag almal uit verligting en dankbaarheid gelyk daar op. ’n Paar mans het in die nag in gehawende toestand by hulle huise opgedaag nadat die Duitse magte die vorige dag by Strasbourg verslaan is.

Wanneer Marie by die monument vir die Groot Oorlog verbystap, gaan sy vir ’n oomblik staan, maak die tekens van die kruis voor haar bors terwyl sy die bekende naam lees: Jean Stoesel (snr), haar skoonpa wat sy nooit geken het nie, oorlede in 1917 toe háár Jean maar 13 jaar oud was. Dan gaan sy en die seuns die donker kerkgebou binne en kniel saam met ander vroue en kinders voor die altaar, smeek huilend dat hulle ook binne die volgende dag of twee vir ’n besmeerde man die voordeur sal oopmaak, dat daar nie wéér “Jean Stoesel” op ’n nuwe plaat geskryf sal word nie ...

Wanneer haar gebede later die dag verhoor word, haas sy haar, ten spyte van die sneeu en die snerpende noordewind, vir die tweede keer daardie dag teen die steilte uit. Terwyl sy huilend haar dankgebede voor die altaar laat uitrol, sit Jean Stoesel gebukkend by die tafel in die kombuis terwyl hy groentesop opslurp en hompe droë brood afskeur voor hy dit in sy kieste stop. Drie jong seuns sit om die tafel en staar na hom asof hy ’n gesig uit die hemel is. Papa is terug!

Op 10 Julie 2012 stap Lukas en Maria teen die bult uit na die kerkie wat soos ’n prentjie tussen Hunawihr se Riesling uitstaan. In die begraafplaas vind Maria sommer ’n klomp “Kellers” en wonder of haar pa se voorgeslagte dan Franse was, en nie Duitsers soos hulle altyd gedink het nie. Daar is selfs ’n graf van ’n skoolhoof en geestelike, L’Abbé Jeremie Keller, Prof au Gymnase de St. Etienne. Sy neem ’n foto daarvan om vir oupa Jimmy Keller te gaan wys.

Die vestingsmuur wat die kerk en begraafplaas reeds vanaf die dertiende eeu omring, het ses sirkelvormige uithamme – elk met drie skietgate daarin waardeur die kerk in verskillende rigtings verdedig kon word. Maria neem foto’s van die dorp en omgewing deur elk van die skietgate as raam te gebruik. Sy weet met ’n fladdering in haar maag dat dit die onderwerp is waarna sy gesoek het vir haar Woordfees-uitstalling.

Lukas roep haar nader, hy staan voor ’n perspeksblad met die name van die dorp se Tweede Wêreldoorlog-slagoffers in wit daarop afgedruk. Hy is so bewoë dat hy net kan wys na die name van drie van die Victimes civiles:

Jean Stoesel               22/04/1945    à        13 ans
Xavier Stoesel         22/04/1945    à        11 ans
Camille Stoesel       22/04/1945    à        10 ans     

Maria dink aan haar eie drie kinders by die huis, sidder by die gedagte om selfs net een van hulle te verloor. Al drie op dieselfde dag is ’n ondenkbare verlies wat haar ’n gebed vir die moeder laat opstuur. Lukas werk uit dat dit naby aan die einde van die oorlog was – op 30 April 1945 het Hitler selfmoord gepleeg en op 7 Mei het Duitsland onvoorwaardelik oorgegee. Die dag waarop die laaste soldaat van Hunawihr gesneuwel het, word op die plaat as 28 Desember 1944 aangedui. Wat het dan gebeur? Waarom het hierdie drie boeties op dieselfde dag gesterf? ’n Bomaanval dalk? Maar hoekom is hulle dan die enigste drie burgerlikes wat op daardie dag se lys is?

Lukas en Maria stap teen die bult af om by die munisipale kantore vir antwoorde te gaan soek. Dis skuins ná twee in die middag en die dorp is grafstil soos dit net in Frankryk kan wees tussen twee en vier in die middag. By die Mairie is die deure dan ook bottoe, en hulle ry met hulle vrae terug Riquewihr toe. Hulle weet egter nou hoekom die Elsassers nie Duits magtig is nie, en waarom enige Duitse erfenis misken word – dis Elsassies, verseker hulle jou. 

Weke later kry Lukas ná drie e-posse aan die munisipale kantoor in Hunawihr uiteindelik ’n kort en saaklike antwoord op sy navraag oor die Frères Stoesel: die drie Stoesels was boeties – hulle het ’n Panzerfaust (tenkafweerwapen soos ’n bazoeka) wat agtergelaat is, opgetel en daarmee gespeel.

Maria dink aan die moeder wat by die onthulling van die gedenkplaat staan en die tekens van die kruis voor haar bors maak terwyl sy probeer om die name te lees wat sy nooit weer in die straat af kan roep vir hulle middagete nie: Jean Stoesel, Xavier Stoesel, Camille Stoesel. Sy wens sy kon in Bennwihr se wit kerk gaan sit sodat die blou en oranje en geel van die dalle de verre-vensters op haar kan gloei.

 

Lees nog van hierdie fiksie-kompetisie.  

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top