Stille Nag

Foto: Izak de Vries
Hy het die viertrek teen eerste lig op die 23ste Desember van uit die stoor laat haal. Die Hilux staan op die gras voor die wye stoep van die plaashuis. Hy vra vir Elia, sy voorman, om dit vir hom te was. Terwyl die son stadigaan die opstal en skure van Jongensfontein vind, keer hy die lammers aan. Toe die skemer lang skadu’s oor die skeurtandrotse in die verte begin gooi, en die slagwerk afgehandel is, was die motor klaar gepak. Op die agterste sitplek is sy tas. Daarnaas ’n koekblik met die laaste van die beskuit daarin wat Engela al in Juniemaand vir hierdie reis gebak het. Onder die blik is haar as in die boksie van kiaathout, daarvoor bedoel.
Elia ontvang instruksies wat hy noukeurig neerpen. Elia se vrou bak haar hande vir die spaarsleutels van die huis. Sy belowe plegtig om af te stof, op te vee en dig te hou. Vir oulaas doen hy by die kraal aan. Dan besluit hy om ’n ent oor die lowergroen golwinge te stap. Die sterre skiet vonke in die galswart hemelruim as hy uiteindelik huiswaarts keer.
Uitgeput, maar vergenoegd, blaas hy die olielampe later die aand dood. ’n Stilte omvou die werf.
Wanneer hy wakker skrik, roep ’n spreeu van uit die tuin. Hy lê en staar na die sierlike patrone in die staalplafon. Dit is Oukersdag en hy rol al van 4 uur af rond. Hy vee sy hand oor die holte wat Engela se liggaam in hul bed gelaat het, sug en du homself uit die lakens.
In die lang, koel gang tel hy sy take wat voor sy vertrek voltooi moet word: die verpakte lamvleis moet vanuit die vries gehaal word. Hy sal die koelhouer agter op die bak laai. Sy seun het vir sy .22 gevra. Die een van sy kinderdae. Hy sal dit tussen die sitplek en die bakwerk versteek. Sy skoondogter het van Engela se hekelwerk gevra. Die mussies en kousies bedoel vir die kleinkind wat in Februarie sal kom. Die ander kleinkinders se wenslysie is alreeds in sy beursie ingevou.
Hy verlaat Jongensfontein net ná 08:00. Met tye vang sy oog die beenderigheid van sy hande om die stuurwiel. Hy het baie gewig sedert die begrafnis verloor. Die Hilux rammel oor die grondpad terwyl hy sy oë oor die kranse en grasveld uitstuur. Dit was ’n goeie reënjaar. Hy wens dat Engela die groen glooinge kon sien. Hy is halfpad teen die vallei uit toe die son deur die wolke breek.
Die roete wat hy volg, het hy noukeurig in ’n kaartboek vanuit die 80’s uitgeteken. Dit is ’n nuwe roete. Sy seun het onlangs buite Howick in Natal begin boer. Deur die res van die bladsye duik die penmerke van die reise wat hy en Engela, later die kinders ook, voltooi het.
Dit is ’n lang rit vanaf Riversdal tot by George. Hy draai van die snelweg af, soek parkering by die inkoopsentrum en trek die kaartboek nader. Nog 800 kilometer tot by Matatiele. En vandaar 230 tot in Howick. Sy vinger volg die kronkelende roete deur die Transkei. Hy loer na sy horlosie. Tevrede dat sy tydsberaming pas, klim hy met sy beursie uit.
In die winkel koop hy wat op die kleinkinders se wenslysie verskyn. Sy skoondogter moes dit oor die telefoon verduidelik. Poppe wat praat en karretjies wat hulseself dryf. By die kassiere moet hy ’n geruime tyd wag. Buite die winkel wik en weeg hy. Daar is ’n stalletjie wat presente toedraai. Sal hy? Hy lig die sakke met die speelgoed daarin tot op die toonbank. Die meisie wat hom help, verduidelik dat die geld vir ’n goeie doel sal gaan.
Hy is verlig as hy die Hilux ’n halfuur later oor die pas stuur en die Karoo soos ’n vlakte in die Vrystaat voor die viertrek se neus uitspan.
Anderkant Aberdeen draai hy links om die N9 na Graaff-Reinet te volg en by Middelburg regs om die R56 te vind. Sy uitsig verander van groen berge na ’n nimmereindige, dor kliplandskap. By Steynsburg draai hy die slinger om die ruit te laat sak. Die binneruim van die viertrek ruik na warm plastiek en ou rubber. Hy loer na die brandstofnaald. Met die radio wat speel, vlieg Dordrecht en Kaalfontein verby hom. Nou raak die dorpname vreemd. Maqwatini. Xonya. Dulwane. In Lubisini vergaap hy hom aan die loodgrys wolke wat nou soos ’n kombers oor die groen heuwellandskap neersak. Sover as wat sy oog kan sien, is daar hutte, gehuggies en klipkrale gestrooi. Kinders in flenterklere speel tussen die rommel en bokke langs die pad. Maer honde draf al snuffelend hulle agterna.
Dit begin reën. Harde vlae wat op die Hilux se enjinkap neersla’t. Hy rol die vensterruit toe as hy hoendervleis oor sy voorarms voel kruip. Met tye sukkel hy om deur die gietende waters te sien. Hy beweeg al hoe stadiger. Uiteindelik is hy een van ’n dosyn karre wat hortend tussendeur die dorpies en oor die dalinge klim en kruip, terwyl die reën harder en harder neersuis en dik strome modder en klippe oor die pad vloei.
Hy skakel die kinders. Hy ís op pad, stel hy hulle gerus. Dan sny die oproep uit.
’n Ent buitekant Matatiele gebeur die ondenkbare: wanneer hy deur ’n uitermatige diep groef ploeg, klink ’n kraakgeluid van onder die Hilux op. Eers dink hy dat dit dalk net ’n groterige klip teen die bakwerk kon wees, maar binnekort gloei die olieliggie rooi.
Hy trek van die pad af. Soek na sy foon. Daar is geen sein nie. Verdwaas kyk hy om hom rond. Die sinkdakke van die hutte verdwyn in die mistige reën wat steeds teen sy voorruit piets. Hy oorweeg sy opsies. Hy kan Matatiele probeer bereik. Hy skat dit 30 kilometer. Maar dan sink die ooglopende by hom in: dit is ’n langnaweek. Sou die Hilux iets erger oorkom, is hy hier gestrand tot ná Kersdag. Hy sal moet oornag en die motor self môreoggend deurkyk.
In die verte is ’n naambord. Hy ontsyfer die skrif. Dumasini. Daar moet tog slaapplek en ’n foon iewers wees?
Die Hilux kruie oor die paadjies wat spoedig van teer na gruis verander. Sy oë soek verby die slap heinings, ylgesaaide stroke mielies en skape wat bedremmeld in die koue saambondel. Dof skyn die ligte vanuit die hutte. Dieper en dieper beweeg hy van die snelweg af weg totdat hy die viertrek se 4x4-skakeling moet kies. Die enjin mor met ’n dieper gegrom wanneer hy die buitewyke van die aangelapte dorpie bereik. Hy is verlig as hy die windverwaaide, geroeste teken sien: ’n naambord in Xhosa. Kamers te huur. Per nag. Per week. Per maand.
Hy stop voor die hek. Dit is niks meer as ’n stuk heining wat met ’n stok in ’n loep van draad insteek nie. Die werf is kleiner as die ander waarby hy verby is. Hier is ook geen mielies of ’n boord versuipte boontjies nie. ’n Handvol hoenders staan en bewe onder ’n sinkplaat wat op twee omgedopte bierkratte balanseer. In die middel van die modderige werf verrys twee hutte. Witgekalkte ronddawels wat só styf teenaan mekaar gebou is, dat hulle as een gebou vertoon. Die vensterruite is vuil, maar hy is dankbaar om ’n lig agter een van die verslonde gordyne te sien flikker.
Hy druk die toeter en verwag dat iemand na buite sal kom, maar die hutte en die werf bly eensaam verlate. Hy klim uit. Die hek bied min weerstand. Hy draai sy kraag na bo en drafstap deur die reën. As hy op die stoep staan, is sy skoene, enkels en kuite vol modderspatsels. Hy klop aan die deur. Niks gebeur nie.
“Hallo!” roep hy in geraadbraakte Xhosa. “Is daar iemand tuis? Ek kort slaapplek. Ek wil ’n kamer huur.”
Wanneer hy na die steeds luierende viertrek terugkyk, glinster ’n donkernat strepie van onder die enjinkap teen die helling af. Dit blink in die kopligte van die kar.
“Hallo!” roep hy nou meer indringend. Die deur van sink vibreer onder sy vuiste. “Help my, asseblief? Ek het geld. Ek sal kontant betaal. Asseblief?”
’n Geskarrel klink van agter die deur op. Kinders se stemme. Dan ’n vrou s’n. Sy praat in ’n kwaai stemtoon. Hy kan nie die presiese opdrag uitmaak nie, maar hy verstaan dat sy iemand aansê om te gaan sit en hul monde te hou.
Dit is ’n ronde, ou gesig wat om die rand van die deur loer.
“Goeienaand, mevrou,” groet hy.
“Wat soek jy?” vra sy hom skepties.
“Die bord.” Hy wys daarna. “Dit adverteer blyplek.”
Sy staar hom stom aan.
“Ek het regtig blyplek nodig. My kar het gebreek. As ek net vanaand hier kan slaap?”
Stééds staar sy hom net aan. Van agter haar loer twee gesiggies nuuskierig oor haar skouer. Hy skat die kinders dalk vier, dalk vyf jaar oud.
“Ek het geld.” Hy frommel geldnote vanuit sy beursie en hou dit na haar uit. “Kyk. Ek sal betaal. Hoeveel vra jy? Ek sal dubbeld betaal. Die bakkie gaan dit nie tot in Matatiele maak nie en met die weer is daar geen selfoon opvangs nie.”
“R200,” antwoord sy hom bot.
Hy tel vier pers note af. Sy neem dit by hom. Dan druk sy die deur in sy gesig toe. Hy wil eers weer daarteen hammer, maar dan hoor hy ’n ketting ransel. Die deur swaai oop. Agter die vrou in die bont kopdoek is die binnekant van die ronddawel nou ontbloot.
Daar is vier kinders. Néé, vyf. Drie meisies en twee seuns. Almal onder die ouderdom van agt, as hy moes raai. Hulle sit grootoog op die beddens, wat niks meer as dun matrasse op die kaal sementvloer is nie. Die vertrek is skaars vier meter wyd. Daar is ’n aantal ingeklinkte kastrolle en ’n primusstofie teen die muur. Daarnaas ’n sak meel en ’n halwe pampoen.
Kom in, nooi sy. Hy verduidelik dat hy eers sy tas uit die motor moet haal. Hy is dankbaar om daarna uit die reën te ontsnap. Sy hemp kleef teen sy rug en water drup teen sy baard af.
“Dit is hierheen.” Sy beduie na die oorkant van die vertrek.
Hy trap versigtig oor die vodde matrasse, plastiese sakke, uitgetrapte sandale, verweerde poppe en speelgoedkarretjies sonder wiele. Die kinders se donker oë volg hom nuuskierig. Die lug ruik na kaneel en kamferroom.
“Hier is die kamer.” Sy trek die seil weg wat twee hutte skei.
Die vertrek is donker. Haar groterige lyf verdwyn in die skadu’s. Dan hoor hy hoe iets oor die vloer gesleep word. Die grrts-grrts van ’n vuurhoutjie wat nie wil vlamvat nie. Uiteindelik val ’n vaal kol lig teen die muur.
Sy staan langs ’n dubbelbed. Rondom die bed is sakke tot teen die dak gestapel. Die swaar reuk van gedroogde tabak en iets skerper, skiet in sy neus op. Hy nies.
“Ek bring vir jou water,” verskoon sy haarself.
As sy hom verlaat, lig hy sy tas tot op die bed. Hy bekyk sy slaapplek. ’n Enkele, growwe kombers en kussing. Dit sal doen.
Nes hy sy klere vanuit sy tas lig, praat ’n stem agter hom.
“Mhlekazi?” vra ’n seunstem deur die seil wat hom van die familie skei.
Die seun het vir hom water gebring. ’n Emmer waaraan hy swaar dra. Hy neem dit by hom af, bedank hom en trek die seil weer dig.
Hy was die ergste modder van hom af. Dan sy gesig. Hy verklee nadat hy die vlam van die lamp laer stel. Daarna maak hy homself op die bed tuis. In die vertrek langsaan hoor hy die vrou beweeg. Die kinders fluister opgewonde. Met tye lag een uitbundig. Sy maak hulle stil.
Nes hy indiep, is daar ’n ander stem by die seil. Hierdie keer een van die meisies.
“Utitshala?” fluister sy. “Yiza Utye.”
Eet? Hy het nooit eers daaraan gedink nie.
Moeisaam kom hy orent. Wanneer hy die seil wegtrek, sit die kinders weer in gelid op hul matrasse. Die ou vrou kruisbeen langs die primus waarop een van die kastrolle prut. In haar hand hou sy ’n blikbord en in die ander ’n houtlepel vol krapmerke. Sy skep stomende pampoen op die pap voordat sy dit na hom uithou.
“Naku ukutya kwakho.”
Die kinders se oë bly stip op hom gerig. Onderlangs fluister hulle onder mekaar. Dan giggel die meisies terwyl hulle met kort vingertjies na sy spierwit baard wys. Hul gesiggies verlig as hy die bord kos by hul voog neem en homself langs hulle tuismaak.
“Gaan julle nie eet nie?” vra hy as hy die tweede balletjie pap deur die souserige, soet pampoen trek.
Ons het, antwoord sy, maar hy kan nie verhelp om te sien hoe sorgvuldig sy die oorskiet pap en pampoen uitkrap en in ’n houer verseël nie.
Hy voltooi sy maal in stilte. Die vrou ruim op. Langsaam maak sy die speelgoed, gefrommelde tydskrifte, skerpgemaakte takkies en ’n aantal blinkgespeelde spoelklippe bymekaar. Dit word in ’n emmer gebêre. As hy orent kom, die leë bord vir haar gee en haar bedank, let hy die kersbome teen die muur op. Dit is doodgewoon uitknipsels van gedrukte kersbome op blink papier. Foto’s wat in ’n winkel se brosjure verskyn het. Van die soort wat hierdie tyd van die jaar in grootmaat saam met koerante versprei word. Van die kinders dut al in wanneer hy na sy kamer terugdraai.
Hy sukkel om te slaap. Buitekant sous dit steeds. Die ritmiese getrommel op die sinkdak is nie genoeg om die klanke te verbloem nie. Die kinders slaap almal, maar die vrou beweeg steeds rusteloos in die vertrek langsaan.
Die seil wat hulle skei, wapper met tye in die ligte bries. Hy hou sy gasvrou dop. Een vir een, besoek sy die kinders op hul matrasse. Verseker dat hulle slaap, soek haar hand deur die meelsak teen die muur. ’n Geritsel, dan bring sy ’n plastiese sak te voorskyn.
Met die sak in haar hand, gaan maak sy haar sagte lyf weer voor die primus tuis. Langs haar flikker ’n kers. Sugtend leun sy sywaarts. Sy trek ’n koerant van onder die matras naaste aan haar. In die dowwe lig trek sy die koerant uitmekaar totdat daar vyf uitgespreide bladsye om haar lê. Sy grou in die sak en dan begin sy hopies op elkeen pak: ’n pakkie skyfies. Van die goedkoop soort. ’n Suigstokkie. ’n Handvol sagte lekkers. ’n Fluitjie vir die seuns. Klein haarknippies vir die meisies. Sy weeg die skamele hopies. Asof daar nóg in die sak moet wees, diep sy haar hand in en soek rond. Kopskuddend, sit sy die sak eenkant en begin die hopies toevou. As sy klaar is, plaas sy die bondeltjies in ’n sirkel voor die kersbome teen die muur. Dan gaan sit sy langs die hut se deur en staar vir die donker wat oor die kinders se koppe hang.
Iets aan hoe sy oor hulle waak, herinner hom aan Engela. Sy eie kinders toe hulle klein was. Die groot afwagting voor Kersoggend.
Hy skat dit lank ná middernag toe sy gasvrou ook op een van die matrasse gaan lê en die kers uitknikker. Vir lank lê hy en luister na haar gesnik. ’n Gedempte, jammerlike klank wat sy met haar hand voor haar mond versmoor.
As sy aan die slaap raak, neem die nag sy stilswye volkome op.
Hy het voor dagbreek vertrek. Terwyl die vrou en die kinders nog slaap, is hy daar weg. Op Matatiele laat hy die viertrek versien. Dit was doodgewoon ’n olieprop wat losgekom het. Hy behoort vóór 10 in Howick te wees. In Underberg lui sy foon.
“Pa, waar is pa? Is pa orraait?”
“Ek is op pad. Die kar het moeilikheid gegee. Ek moes iewers oorslaap.”
“Ai, pa.” Sy seun klink bekommerd. “Hoe kan ons help, is daar iets wat ek vir pa kan doen?”
Vir ’n oomblik dink hy aan die uitgeknipte kersbome teen die muur van die hut. En die geskenke daaronder.
“Jy kan my by die inkoopsentrum ontmoet. Ek het nog nie geskenke vir die kinders gekoop nie en daar was nie tyd om van die lammers te slag nie. Dis net ek, my tas en jou ma se goed.”
Kommentaar
💛 Mooi storie...
Pragtig, Sidney!