Steyn de Wet : "Ek probeer om myself te wees as ek skryf"

  • 0

Die sanger/liedjieskrywer Steyn de Wet se eerste album is pas vrygestel en maak reeds branders in die bedryf. Hy beantwoord enkele vrae.

Goeiedag, Steyn. Hoe’s dinge?

Dinge is kwaai! Ek voel soos ’n hond wat spring-spring en byt-byt na ’n straal water wat uit ’n tuinslang spuit – ek weet nie heeltemal wat ek doen nie, maar my magtig, dis lekker! Dis ’n heerlike chaos tussen die 9–5, swot, eggenoot wees, onderhoude en album launch reël!

Jou debuut-album, Kyk Maar Mooi, is pas vrygestel. Jy’t nog in Desember een aand op Vleesbaai se strand van die tunes aan my gespeel (jou vrou was darem ook daar, so dit was nie “só” nie). Hoe voel dit om ná jare van informeel jol ‘n album uit te hê?

Ai Henry, ek dog ons het ’n moment daar gehad, hahahahahaha ... Weet jy wat, hierdie is ’n groot ding vir my. Ek werk daagliks op projekte, maar hierdie is die eerste keer wat ek na ’n stuk werk kan kyk en regtig trots voel daarop. Ek voel dit is die eerste keer dat die vrug van my arbeid werklik die moeite werd is. Soos jy noem, ek het baie aande daar op Vleesbaai se strand langs ’n vuurtjie tussen pelle gesit en jam, en baie keer as die laaste manne klaar huiswaarts gestrompel het, het ek nog so bietjie aangehou en gewonder hoe dit sou voel om hierdie ding werklik aan te pak. Dit is ’n droom wat waar geword het, en die beste is, dit is nog net die begin. Ek sien baie uit om te sien waarnatoe hierdie paadjie gaan lei.

Met 15 snitte is dit nogal ‘n stewige debuut. Hoe het die siftingsproses gewerk om te bepaal wat op die album sou kom, of het jy enigsins tematies te werk gegaan en daarvolgens geskryf?

Hierdie songs is my gunstelinge van wat ek oor die afgelope tien jaar geskryf het – dit is so te sê ’n biografie van daardie tien jaar. As jy so daarna kyk, dan is die album tematies geskryf, want dit handel alles oor dinge, gebeure en mense wat deur my lewe geloop het in daardie tyd. Elke song het ’n persoon of ’n regte stukkie van my verhaal daarin. Maar ek het hierdie projek glad nie tematies aangedurf in die sin dat ek op ’n tema besluit het en toe geskryf en gekies het nie.

Jan Blohm, wat die album vervaardig het, was die sif. Dit is eintlik bitter snaaks as ek terugdink daaraan. Jan lyk dalk soos ’n rowwe rocker, maar hy is eintlik die nederigste, mees saggeaarde mens wat ek nog ontmoet het. Ek dink ek het altesaam so bietjie meer as 50 van my songs vir hom gespeel, waarvan ons seker vir so 30 demo’s opgeneem het. Ek het op Jan vertrou om die songs te kies, want my songs is my kinders – ek is selfs lief vir die dik een met die bak-ore en die tien moesies in die gevreet, soos my ouers was. Toe ons nou moes besluit op watter 15 op die album kom (en watter songs hy nie eens demo’s voor wou doen nie), kon ek sien dit was vir hom verskriklik moeilik om vir my te sê: "Sorry maat, daai is regtig net nie ’n goeie song nie ..." Shame, die ou het allerhande eufemismes traai uithaal. Op die ou end het hy volstaan met: "Kom ons los daai een vir die volgende album ..." 

In die eerste enkelsnit, “Kyk maar mooi”, se musiekvideo tree jy amper op soos Sweeny Todd op Prozac. Wat is die storie agter die musiekvideo en hoe het die proses verloop?

Sweeny Todd op Prozac! Mooi beskrywing! Michael van Zyl van VPH Films moet al die eer daarvoor (en vrae deur dié wat ontsteld is) kry. Om nou ’n lang storie mooi te maak: Baie mense vra my: “Wat wil jy hê moet die publiek se reaksie wees op jou musiek?” Ek hoop net vir een ding: ek hoop hulle sê dat hulle my glo. Die songs is eerlik, ek wil net myself wees. Ek het baie respek vir Jack Parow en Die Antwoord se vermoë om ’n front te speel en te leef, maar dit kan ek nie doen nie. So die storie van die video is iets eerlik oor myself. Ek het al baie keer in die verlede, as ’n vroumens in my belangstel, soos Myra in die barbier in die video belangstel, absurd gereageer daarop. In stede daarvan dat die barbier die tekens reg lees en haar vra om ’n koffietjie te gaan vat saam met hom, laat hy haar eerder sit vir ’n baardskeer – totaal onlogies, maar die ironie is dat hy steeds selfvoldaan vir haar sing: "Ek gaan jou verlei." So dis ’n humoristiese vervatting van my eienaardigheid.

Die proses was ’n lekker een. Ek en vroulief het 6.45 die oggend opgedaag by die venue, gewapen met kitare, amps, speakers, drade ... en natuurlik my getroue Weber. So vyf minute later het ons die outjie aangesteek, soos dit ’n gebore Swellendammer betaam, en lekker breakfast-braai gehou terwyl die troepe stuk-stuk opgedaag het. Die video is geskiet in die Bourbon Barber Shop en ek is baie dankbaar vir die eienares. Die band is eers verfilm waar hul vir so ‘n paar uur lank oor en oor “Kyk maar mooi” moes speel – ek is al so gatvol vir my eie song na dese, ek sal hom eers volgende jaar weer speel! Toe moes ek en Myra Jacqueline (die aktrise) ons ding doen. Dit was vir my ’n helse uitdaging, want ek het laas in die laerskool ge-act to ek st 2 was en ’n skaap gespeel het in ’n opvoering. Ons het nie eens gepraat nie, ons het net geme-me-me ... So ek het erg gesukkel om die sequences te onthou, te onthou om te sing, te dink daaraan dat die lig reg op my en haar moet val, waar die kamera is ... Maar op die ou end het ons darem die ding gedoen gekry en ek dink hy't baie naais uitgekom.

Die snitte op die album is nogal besonder divers – hier skiet ‘n Kramer-agtige draakstekerige opskoplied soos “Yda se lied” uit, daar ‘n nostalgiegedrewe, intense russnit soos “Steen by die leer”. Waaraan skryf jy dit toe dat jy duidelik gemaklik en tuis is in die verskeie inslae?

Dit sluit amper aan by die punt hier bo – ek probeer om myself te wees as ek skryf. Alle mense ervaar alle emosies op ’n gereelde basis. Ek het nog nooit probeer om net diep of net humor te skryf nie – die song moet maar kom soos hy lus het – maar dit is alles uit die hart en uit persoonlike ervaring uit en daarom is ek ewe gemaklik met al die style op die album. Ek het ook ’n baie wye belangstelling in musiek – ek is werklik ewe lief vir Kramer, Goosen, Blohm, Kerkorrel, Paul Simon, Bob Dylan, Zinkplaat, Mumford, Mozart en nog ’n klomp – dalk het dit ook ’n invloed op hoe mens skryf en vereenselwig.

Hoe beïnvloed en stuur gemoedstoestande, gedagtegange en dies meer jou liedjieskryfproses, of skryf jy doelmatig met ‘n “produk” in gedagte?

Wanneer ek vir ander kunstenaars skryf, dan skryf ek met ’n produk in gedagte, maar wanneer ek vir myself skryf, wil ek eerder die stuurwiel los en sien waarnatoe die proses my lei. Gemoedstoestand en gedagtegang is absoluut die oorsprong van die skryfproses vir my. Om te skryf is vir my ’n uitlaatklep vir die dinge wat ek nie so maklik oor praat nie. Interessant genoeg was van die lekkerste, happy-go-lucky songs op die album (soos “Yda”) my uiting van iets hartseer gewees – jy weet, jy lag eerder met ’n traan as wat jy grens met ’n smile ... Net so is ’n emosiebelaaide song soos “Maanligwandelaar” weer uit baie vreugde geskryf. “Vergeefs versteek” handel oor ’n tyd toe ek van die Here en geloof af wou weghardloop – daar was natuurlik intense gedagtegange en ’n oorvol gemoed betrokke.

Daar word dikwels negatiewe dinge gebrom oor die Afrikaanse hoofstroom-musiekbedryf, hoewel dit ook uiteraard baie verander het in die afgelope paar jaar. Hoe beskou jy die bedryf soos dit nou lyk en waar sien jy jouself daarin?

Oor die negatiewe gebrom oor Afrikaanse hoofstroom-musiek: Weet jy, daar was op ’n tyd ’n Sjinese filosoof – ek dink sy naam was Confusions ...

Henry Cloete: Jy bedoel seker Confucius? (Dié reaksie is Steyn se spekulasie – Henry)

Confusions, Confucius – wat ook al. In elk geval, hy het gesê: "Mense hou maar baie van stront praat ..." Ek is van mening dat musiek vermaak is; en mense kies vir hulself wat hul sien as lekker vermaak.

Hoe beskou ek die bedryf soos dit nou lyk? Ek reken daar is ’n magdom kunstenaars op die oomblik wat heerlike, kwaliteit-vermaak bied vir die gemiddelde (Suid-) Afrikaners wat in hul massas ons land se hoofstroom-feeste geniet. Ek was by die Kirkwood Wildsfees nou die ander naweek, wat ’n datum deel met ander groot feeste soos Innibos en die Grahamstad-fees, en daar was vir drie aande en twee volle dae wragtigwaar in elke slot ’n vertoning wat jy kon sien die feesgangers terdeë geniet het. Dit beteken dat die Afrikaanse hoofstroom-luisteraar vandag bederf is met vermaak, maar dat die mark uit die aard van die saak uiters versadig is vanuit die kunstenaar se blik. Dit is fantasties om te sien dat groepe soos Dr Victor en sy makkers, Emo Adams en Take Note en Chris Chameleon ongelooflike aanhang geniet by ’n fees soos die Wildsfees, waar seker 80% van die feesgangers wit, Afrikaansprekendes is en ’n mooi klompie van hulle sou deurgaan as stoere boere. Ek dink die mark is ryp vir uitdaging en grensverskuiwing.

Waar sien ek dan myself in die bedryf? Dit is ’n baie belangrike vraag. Ek sien myself in die eerste plek as deel van die hoofstroom eerder as die alternatiewe scene – die songs is almal saamsing-songs en die vervaardiging is van so ‘n aard dat die meeste mense dit sal kan geniet. Hopelik is daar niks te walglik in my lirieke nie – ek gebruik woorde soos “klimeidjie” en “donder” hier en daar, maar ek glo darem met baie liefde en in goeie smaak – wees jy die jurie! My gaping, glo ek, in hierdie mark, wat ek reeds genoem het versadig is, is dat dit vergeleke met die deursnee huidige pop-musiek ’n gesonde klap rou eerlikheid weg het en dat die humoristiese songs net so effentjies die grense toets – voorbeeldige mense gaan so bietjie stout voel as hulle daarna luister. So ek glo daar is ’n uniekheid aan die musiek wat ek hoop sal lei tot ’n lewensvatbare ondersteunersbasis. Ek hoop en bid dat daar net so een of twee fans sal wees wat sal vertel: "Het jy daai verwysing na teoretiese fisika in die middel van daai song gehoor?", of: "Daai is nogal ’n interessante chord progression!", maar ek besef ook baie goed daai is nie wat ’n plaat by die dosyne gaan laat verkoop nie!

Dis nou wel jou eerste amptelike CD, maar jy maak al lank en wyd musiek. Enige staaltjies om te vertel in dié verband – plekke waar jy nie meer welkom is nie of waarheen jy nie sal terugkeer nie?

Jong jong jong! Een van my medewerkers aan die album se vrou wou vir so ‘n paar maande nie met my praat nie, as gevolg van wat ons aangevang het ... jislaaikit – maar ek kan dit nie hier blootlê nie.

Kom ek dink! O jitte ja! Verskriklike storie. Ek het ’n vriendin. Ek is verskriklik lief vir haar en ons het nogals ’n pad gestap. Ek het “Dwarsdeur” oor haar geskryf. Ek moes vir maande lank troos na haar idioot van ’n ou haar oor ’n e-mail gelos het nadat hy haar verneuk het – en sy't gereken hulle sou eendag trou. Toe begin hy kort daarna haar BFF date. Kind was stukkend. Op die ou end kom sy en ’n fantastiese ou bymekaar en hulle gaan trou en vra my ek moet musiek maak by hul troue. Ek sê nee kwaai, dit sal my grootste voorreg wees! Nou woon ek daai tyd in Engeland en ek en Saartjie (die kitaar) pak toe af Suid-Afrika toe. Die aand voor ek vlieg, werk ek deurnag om ’n deadline te eer en die nag op die vliegtuig slaap ek niks, want ’n Anglikaanse priester wat nou net van retreat af terugkom (wie moet al die pad Engeland toe om te retreat?) is so vol gees hy wil die heelaand deur gesels en hoe meer ek traai verduidelik ek moet slaap, want ek moet môre sang lei by ’n troue en musiek maak, hoe meer wil hy my verduidelik van wat worship is. So met twee nagte se slaap agter kom ek bra uitgeput by hierdie party aan. Ek en ’n ou vriendin gaan saam sing en ons gel lekker soos ons rehearse, totdat daar so ‘n ander ou tannie opdaag wat reken sy moet keyboard speel saam met ons. En daar is dit skielik ’n nagmerrie! Ek en daai tannie en Saartjie en haar keyboard vind mekaar GLAD NIE. En dit is nie juis asof “How great is our God” ’n ingewikkelde song is nie! So ‘n halfuur voor die troue begin is die tannie daar weg om die neus te poeier en ek en my vriendin hardloop toe weer deur die songs en dit werk perfek. Ek sê toe vir haar: Hoor hier, dit gaan nie oor my of jou nie, dit gaan oor ons vriendin, haar troue moet perfek wees – ek gaan nou die keyboard wegpak! En daar gaan die keyboard en ek gaan stort. Ek is skaars lekker aan die sing in die stort toe die seremoniemeester daar inbars en skreeu: "Wat het jy met die keyboard gemaak? Die troumars moet daarop gespeel word!" My hart was in my keel en my moed in my skoene. Ek hardloop halfkaal daar uit ... en sien dan hoe baie mense sit al daar en wag dat die seremonie begin. Maar nou het hul my klaar gesien, so nou moet ek maar gou help om die keyboard weer op te stel. En die keyboard tannie kom daar aan. Sy vermoed wat gebeur het en sy gee my so ‘n vuil kyk wat vir die res van die aand aan haar bakkies bly sit het. Ek is toe terug stort toe om die seep af te spoel en aan te trek en toe speel ons almal maar saam, want ek het nie kans gesien vir ’n fight voor die kansel nie. En die musiek was terrible. Ergste van alles vir my was, twee van my helde, Bertie en Beitel van Zinkplaat, was daar om dit alles gade te slaan.

Wat hou die nabye en verre toekoms vir Steyn de Wet in?

Alhoewel daai Somaliese perde besig is om my romantisering baie vinnig te kelder, wil ek nog altyd eendag ’n seerower word. Maar ingeval dit nie werk nie, wil ek die nabye, verder en verre toekoms so hê:

Die nabye toekoms hou ’n hele paar dinge in: ek wil trek na ’n huis met ’n dubbel-garage, sodat ek en my band, TABO, nie altyd so hoef te sukkel met plek om te oefen nie. Dan wil ek oor die volgende paar jaar minstens ’n duisend gigs saam met TABO speel – Piet Botha sê altyd jy is eers ’n band as jy ’n duisend gigs saam gespeel het. 

Êrens tussen die nabye en verder toekoms is daar ’n klompie pienk voete op pad, trek ons terug plaas toe, verken ons die wêreld, geniet ons baie avonture en raak ek verantwoordelik.

In die verder toekoms is ek dr De Wet met ’n lang baard, wat pyp rook, in ’n berghut bly, akademiese artikels oor teoretiese fisika skryf en nog steeds saam met TABO speel, wat intussen gegroei het na ’n big-band bluegrass folk-rock outfit. My vrou en kinders skaam hul dood vir die ou-toppie wat nog steeds op die stage wil wees en weirder lyk as Bono met geel nightvision-brille.

In die verre toekoms woon ek in ’n ander dimensie, want teen daardie tyd het die wetenskap dit moontlik gemaak om tussen dimensies te beweeg. Indien die wetenskap dit nog nie moontlik gemaak het nie, dalk verskiet ons na ’n ander dimensie wanneer ons heengaan. En daar sal ek vroeg genoeg my debuut-album op die planke bring sodat ek minstens een keer saam met Zinkplaat kan toer.

Wat is die sin van die lewe?

Deksels broer, ek is houtnugter soos ek hier sit! 

OK: lekker mense, mooi plekke, avontuurlustige dade, goeie wyn. 

Die kwaai ding van hierdie generiese antwoord is dat hy werk soos ’n Latynse sin – jy kan die woorde mix, dan werk hy nog steeds: goeie dade, avontuurlustige plekke, lekker wyn, mooi mense.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top