Sterk, ouer vroue al meer die norm in liefdesverhale

  • 0

Elmari Rautenbach, Sophia Kapp, Santie van der Merwe en Alta Cloete

Gedink alle heldinne in romantiese fiksie is “kraakvars en maagdelik”, soos Izak de Vries dit vroeër vanjaar gestel het tydens ‘n Woordfeesgesprek? Dink weer!

In die einste boekgesprek het Sophia Kapp, Alta Cloete en Santie van der Merwe gesels oor hoekom ouer, sterk vroue al hoe sterker figureer in Afrikaanse romantiese fiksie.

Elmari Rautenbach, die gespreksleier, het vertel hoe sy as tiener al die groot Afrikaanse liefdesverhaalskrywers van weleer (soos Tryna du Toit en Ena Murray) se boeke verslind het. Sy het ook geskerts dat daardie heldinne almal perfek gelyk het deur net ‘n borsel deur hul hare te trek en ‘n “vegie lipstiffie” aan te wend.

Gelukkig vir moderne lesers hoef ons selfbeelde nie meer mee te ding met sulke volmaakte skoonhede nie. Hedendaagse vroulike hoofkarakters in liefdesromans wêreldwyd is by uitsondering hulpelose, fraai meisietjies wat net wag dat ‘n held hulle van die rak af kom red. Daar is waarskynlik nog hier en daar sulke karakters in genrefiksie soos romanses (die dunner Millseb Boon-tipe boeke), en bloot ook maar net omdat lesers van die genre sekere verwagtings het rondom die hele held-heldin-scenario. (Daarmee kraak ek glad nie die genre af nie – ek wys bloot daarop dat sekere genres sekere verwagtings by lesers skep, nes lesers van ʼn speurverhaal byvoorbeeld verwag dat die boef/moordenaar/kroek lelik op sy neus moet kyk.)

Uitgewers wêreldwyd het besef hul lesers kan nie meer identifiseer met hulpelose wimper-fladderende vroue nie. Daar was ʼn tyd toe lesers tevrede was met jong, naïewe, onseker en dikwels bedorwe brokkies. Nie meer nie! Vandag se vroue is sterk, slim en dikwels snaaks. Boonop val hulle nie meer soos ryp appels in die wagtende held se arms nie, en is taamlik kieskeurig oor wie uiteindelik hul liefde werd is. Moderne fiksievroue het sterk menings en is nie bang om dit uit te spreek nie. Hulle weet beslis wat hulle uit die lewe wil hê!

Hulle is nie net ouer nie, maar is toenemend ook enkelma’s, soos in beide Sophia Kapp se Oorlewingsgids vir ‘n bedonnerde diva en Santie van der Merwe se Vandat jy weg is. Santie se hoofkarakter, Jessica, is ʼn weduwee wat boonop kort voor haar man se onverwagse dood besluit het om van hom te skei na sy affair, en Diva se Simoné moet weer die stukke van haar en haar tienerseun se lewe optel na ʼn tweede egskeiding.

In Alta Cloete se Opdrag van oorkant is die vroulike hoofkarakter bejaard. Theresa is 70, en boer al jare alleen op haar Karooplaas. Die boek is ‘n verhaal vol kinkels oor ‘n bekende skrywer wat vra dat die vier belangrikste vroue in sy lewe sy as saam gaan strooi en aan sy landswye boekbekendstellingstoer deelneem. (Hy was met twee van hulle getroud en het ‘n kind by ‘n derde.) Terloops, as jy dink dis ‘n vreemde scenario, mag jy dit interessant vind om te weet dat die prikkel vir hierdie verhaal ‘n internetberig was oor ‘n man wat versoek het dat al vyf sy eksvrouens sy as saam moet gaan strooi! Die waarheid is, soos altyd, dikwels baie vreemder as fiksie!

Nog ʼn skrywer wat bekend is vir sterk en deesdae ook dikwels ouer vroulike hoofkarakters, is Chanette Paul. In Offerlam, haar jongste roman, is die hoofkarakter, Caz Colijn, die enkelma van ʼn volwasse dogter. Hoewel daar ʼn liefdeselement in Offerlam is, is dit primêr ʼn spanningsverhaal. Paul is immers die afgelope paar jaar reeds die baanbreker op die gebied van die hedendaagse Afrikaanse spanningsromanse, ʼn mengsel tussen ʼn spannings- en liefdesroman. (Lees gerus die Gys Niemand-reeks, asook Raaiselspieël, Siende Blind, Labirint en die 2015 ATKV Woordveertjiewenner, Ewebeeld as jy wonder hoe lyk ʼn spanningsromanse.)

Liefdesverhale en feminisme

Die neiging om sterker vroulike hoofkarakters te skep, is natuurlik nie ʼn nuwe verskynsel nie. Internasionaal het die klemverskuiwing reeds in die 1980’s en 1990’s gebeur, skryf Jessica Luther in ʼn artikel in Maart 2013 in The Atlantic, ʼn Amerikaanse maandblad. Tog, skryf sy, is dit asof feministe en die lesers van liefdesromans steeds aan verskillende kante van die spektrum staan.

Luther argumenteer tereg dat dit lankal nie meer nodig is nie, want moderne vroueskrywers is juis vroue wat die voordele geniet wat die hele feministebeweging teweeg gebring het. Sy haal dr Jackie C Horne, ʼn skrywer en bydraer tot die webwerf Romance Novels for Feminists, aan wat meen hedendaagse vroueskrywers “aanvaar feministiese idees wat eens nuut en uitdagend was, dalk selfs ondenkbaar, as vanselfsprekend”. Deesdae se vroulike hoofkarakters het skynbaar alles: langtermynverhoudings waarin hulle self die voorwaardes beding én mans wat hulle as gelykes behandel.

En boonop, anders as die heldinne wat ek onthou van al my gelukkige ure op hoërskool met Ettie Bierman en andere se liefdesverhale, hou hierdie vroue van seks. Hulle is allesbehalwe tevrede met ʼn soentjie op die wang, en die skrywers volstaan ook nie met drie suggestiewe kolletjies aan die einde van ʼn paragraaf nie. Soos die Amerikaanse historiese liefdesromanskrywer Cecilia Grant dit stel: “Romance is one of the few places where a woman is a subject in sex, rather than an object."

Dis belangrik om vir die doeleindes van hierdie artikel te onderskei tussen liefdesromans (soos dié waarna ek hier bo verwys) en romanses, die dunner liefdesverhale (soos LAPA se Romanzas). Romanselesers het spesifieke verwagtings waaraan die skrywers binne ongeveer 44 000 woorde moet voldoen, maar al is dit meer ʼn geval van “boy meets girl en marries girl”, is ook hierdie heldinne nie meer hulpelose poppies nie.

Dis egter in die dikker liefdesromans en die verskeie subgenres dat die vroulike hoofkarakters toenemend ouer en sterker word. Ook in die chicklit wat Kristel Loots skryf is die hoofkarakters dikwels nader aan 40, en selfs 50!

Hoewel die liefdesverhouding sentraal staan in al hierdie verhale, is die dae verby dat die vroulike hoofkarakters uitgelewer is aan die held en sy buie en luste. Inteendeel. In Diva byvoorbeeld kruip die arme held byna sy knieë deur voordat Simoné uiteindelik in sy arms (en bed) beland.

Jessica, die hoofkarakter in Vandat jy weg is, het my nie dadelik oortuig dat sy eintlik ʼn sterk vrou is nie, maar mettertyd dwing sy respek af as iemand wat nie net op ʼn bondeltjie sit en treur nie, maar ʼn nuwe lewe vir haar en haar kinders probeer skep. Een wat boonop, teen die samelewing se konvensie in, ook ʼn kans op ʼn nuwe liefde waag, maar natuurlik op haar eie voorwaardes.

Hoewel Opdrag van oorkant nie as ʼn tipiese liefdesroman beskou kan word nie, is liefdesverhoudings en ʼn man wat deur drie vroue begeer is, steeds die sentrale tema. Dat die held hulle steeds uit die graf uit probeer regeer, is beslis nie toevallig nie. Hy was immers gewoond daaraan dat elkeen van hulle op ʼn stadium enigiets vir hom sou doen. Nie net die drie vroue wat hy om die beurt die hof gemaak het nie, maar ook die huishulp wat daaraan gewoond was om hom te help en beskerm waar sy kan. Dat die vroue uiteindelik besluit om te doen wat reg is en nie wat hy hulle via sy testament as’t ware probeer dwing om te doen nie, is net nog ʼn bewys dat moderne vroue selfs in fiksie selfgeldend en onafhanklik is.

In Chanette Paul se boeke is die heldinne feitlik altyd ouer, onafhanklike vroue. Natuurlik het moderne vroulike hoofkarakters feitlik altyd hul eie kwota emosionele bagasie, wat hulle des te meer geloofbaar maak vir hul lesers. Hulle daaglikse oorlewingstryd is iets waarmee lesers kan identifiseer. Net soos ons, moet hulle werk om aan die lewe te bly, en beleef hulle frustrasie, of dit nou te doen het met kinders, mans of base. Maar hulle is proaktief, in skerp teenstelling met die vroeëre heldinne wat dikwels gelate sit en wag het vir iets of iemand wat hul lot kan verander. Hierdie vroue kan sonder uitsondering almal hul man (of vrou) staan teen wie ook al hul vrede of welsyn bedreig.

Hierdie vroue is ook nie bang vir verandering nie, selfs al beteken dit ontwrigting, soos Simoné in Diva aan eie lyf voel wanneer sy vir die tweede maal uitstap uit ʼn huwelik wat nie werk nie. Ook Jessica (in Vandat jy weg is) kry die kans om haar huwelik te herstel, maar besluit dat sy nooit weer haar man sal kan vertrou nadat hy eenmaal ʼn affair gehad het nie. Niemand hou van konflik nie, en hierdie heldinne ook nie. Maar hulle bly nie stil nie, selfs al kom die praat teen ʼn prys. ʼn Vrou soos hierdie een “laat niemand namens haar praat nie, en laat ook nie mense toe om woorde in haar mond te lê nie,” om aan te haal uit die oorlewingsgidsgedeelte van Diva.

Die dae dat vroulike hoofkarakters soos Raponsel in wanhopige hopies in die spreekwoordelike torings sit en wag het vir die prins om hulle te kom red, is duidelik vir goed verby. Tog, al laat hulle die held swoeg en sweet terwyl hulle lekker met hul eie lewens aangaan, beteken dit nie hierdie vroue glo nie meer in die liefde nie. Hulle begeer presies dit wat die meeste van ons begeer: “happily ever after”, maar lesers is nou meer kieskeurig oor hoe hulle daarby gaan uitkom en wat dit presies behels.

ʼn Baie belangrike faktor (maar dit geld natuurlik nie net vir hierdie genre nie) is dat hierdie karakters ook praat soos hulle lesers praat. Moet dus nie ʼn “allamapstieks” verwag wanneer “verdomp” (of selfs “bliksem”) die situasie net soveel beter sal beskryf nie. Soos Kapp dit in Diva stel: die moderne heldin “vloek vlot” as die situasie dit vereis.

Sou mens kon sê hulle is feministe? Waarskynlik, ja, hoewel dit ʼn argument vir ʼn ander dag is. Maar herkou tog bietjie aan die woorde van Maya Rodale, ʼn bekroonde New Yorkse skrywer van liefdesromans. “Romance novels may actually be the most pro-feminist books you're not reading. Romance novels – unlike most other literature – always put women in a starring role, reward their rule-breaking, and guarantee their sexual pleasure.”

Bemagtig hierdie heldinne hul lesers? Beslis! Kapp vertel graag die storie van haar besoek (op uitnodiging) aan twee vrouegroepe by onderskeidelik die Bonteheuwel- en Valhalla Park-biblioteke op die Kaapse Vlakte. Met haar eerste besoek was sy gereed met ʼn lang voordrag oor hoekom lesers hulle nie moet skaam omdat hulle romantiese fiksie bo ander genres verkies nie, totdat die vroue (deur die bank arm vroue wat in haglike omstandighede moet oorleef) opgestaan het en een-een vertel het hoe baie haar boeke vir hulle beteken. Nie net om hulle te help om van hulle harde realiteit – wat dikwels ook gesinsgeweld insluit – te ontsnap nie, maar ook omdat dit die soort verhale is wat hulle vir hul dogters kan gee om te lees sodat hulle kan besef moderne vroue het keuses, ook wanneer dit by die liefde kom. Dus: die sterk fiksievroue sorg vir ontspanning, ontsnapping én bemagtiging.

Wanneer mens oor die heldinne praat, moet jy ook na die lesers verwys. Dis lankal nie meer “treurige oujongnooiens wat alle hoop op liefde begrawe het en nou maar ’n genadige einde met nege katte inwag nie,” skryf Cliffordene Norton van LAPA in ʼn blog oor romantiese fiksie. “Dié genre se heldinne is sterk vroue: besigheidsvroue, onderwysers, joernaliste, prokureurs – noem maar op. En so is die lesers, want die heldin is die leser se alter ego.”

Norton meen die romansegenre is “onlosmaaklik verbind aan die evolusie van die vrouebeweging”.

“Vroue is weer vroue sonder om hulle identiteit prys te gee en te probeer om soos mans te dink en te doen. Die moderne vrou voel sy is geregtig op haar eie tyd met ontvlugting soos romantiese fiksie wat haar emosioneel versorg. Want hoewel die kontemporêre vrou in teorie meer voordele het as haar susters van lank gelede, is sy steeds hoofsaaklik verantwoordelik vir die hele gesin se emosionele versorging terwyl sy op haar eie reserwes aangewese is vir haar eie versorging,” skryf sy.

Waar ek ook al in boekgesprekke betrokke is, is dit opmerklik dat vrouefiksielesers van die lojaalste ondersteuners van die Afrikaanse boekbedryf is. En moet ook nie die fout maak om te dink hulle lees net romantiese fiksie nie – hulle lees en koop alles wat in Afrikaans verskyn, en ʼn naïewe jong dingetjie as heldin gaan hulle doodgewoon nie tevrede stel nie.

(Naskrif: Vir dié wat dalk steeds neersien op romantiese fiksie: onthou maar dat dit die topverkopers is wat dit vir uitgewerye moontlik maak om die letterkundige werke – wat ongelukkig nie altyd goed verkoop nie – te publiseer.)

  • Ilse Salzwedel is ʼn bekroonde joernalis en skrywer, en aanbieder van Skrywers en boeke op RSG. Die program word Woensdagaande om 20h00 uitgesaai, en is ook op potgooi beskikbaar.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top