Stellenbosch wynkelders spreek boekdele tydens 2012 Woordfees

  • 0

Simonsberg Wynroete Markdag – Sondag, 11 Maart 2012

Woordkuns deel die kollig met wynlegendes wanneer die Stellenbosch American Express® Wynroetes talente snoer saam met die 2012 Stellenbosch Universiteit Woordfees tydens unieke ‘Woord-en-Wyn’ ervarings by deelnemende wynplase op sy Groter Simonsberg sub-roete vanaf 9 tot 11 Maart.

Van Neil Ellis Wyne en Sandra Prinsloo tot Muratie en Kerneels Breytenbach ... op Vrydag, 9 Maart, verleen Suid-Afrika se oudste wynroete ’n vars nuwe blaadjie aan dié jaarlikse kunsfees deur van die land se beste skrywers en ikone in die hartlike geselskap van gesogte kelders, geleë langs die voet van die Simonsberg, met literêre kunsaanhangers te deel.

Hierdie unieke ‘Woord-en-Wyn’ program sluit in eksklusiewe, intieme ‘woord- en-wynwisselinge’ soos ’n ete by Morgenhof saam met die bekroonde skrywer Annelie Botes en haar guitige staaltjies of ’n inspirerende kos-en-wyn-samesyn by Uitkyk saam met sakereus Jannie Mouton, wat sy opspraakwekkende lewensverhaal sal deel. Delheim se kelderskatte sal ‘nuus maak’ saam met Riaan Cruywagen terwyl die bekende skrywer-broers, Johan en Christiaan Bakkes, tydens ’n gesellige snoekbraai by Kanonkop, stories sal vertel dat dit gons.

Saterdag, 10 Maart, hou Muratie wynlandgoed ’n bo-baas oesfees makietie en kan jy jou eie piekniekmandjie bring en kom uitstrek onder die eikebome. Daar sal landgoedwyne te koop wees, asook druiwetrap-pret en musiekvermaak deur die Kitchen Jammin Blues Band. Ingangsfooi vir die musiek is R80 per persoon. Belangstellendes sal ook ’n historiese uitstappie deur die wingerde kan onderneem om meer oor die geskiedenis van hierdie gesogte wynplaas oor ’n glasie goeie wyn te leer. (Voorafbesprekings is noodsaaklik, R30 per persoon.)  

Hierdie weeklange viering van die kuns van letterkunde en wynkunde sluit op ’n hoogtepunt af met ’n Simonsberg Wynroete Markdag wat by Delvera op Sondag, 11 Maart 2012 plaasvind. Oud en jonk …boekwurm al dan nie …sal kan deel in ’n pretbelaaide dag met die beste wyne vanaf die roete, kontreikos, stalletjies met unieke plaaslike produkte, oestydvermaak asook perderitte.

Die kleinspan sal hulle gate uit geniet in die speelhoekie en daar sal ook pret-karretjies, ’n trampolien, ‘jungle gym’, en ’n Kinderteater (vanaf 12h00 teen R40 per kind) wees.

Besoekers sal ook met musiekvermaak getrakteer word deur die unieke Stellenbosch musiekgroep, Manouche, wat bekend is vir hulle polsende jazzvertonings. Die Vine Hopper pendelbussie is ook tot gaste se diens met ritte na en vanaf Stellenbosch.

Die Simonsberg Wynroete Markdag begin 10vm en toegang is gratis.

Kaartjies vir die onderskeie ‘Woord-en-Wyn’ ervarings op die verskillende wynplase is beskikbaar by Computicket. Sitplek by elk van hierdie unieke geleenthede is beperk so maak seker jy bespreek nou jou kaartjies.

Vir meer inligting oor die Simonsberg Wynroete Markdag en die US Woordfees ‘Woord-en-Wyn’ program, skakel die Stellenbosch American Express® Wynroetes by Tel: (021) 886 8275 of besoek www.wineroute.co.za. Besoek http://www.woordfees.co.za/program-2012-2/ vir die 2012 Woordfees program.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top