Stellembossie

  • 1

Ek gaan toe terug
na baie jare
mense sien my nie
tussen hulle stap
lank gelede se inwoners
deur nuwe geboue
se onvanpaste mure

in ou stegies
waar smaller strate
vroeër was
snork ou motors
uit die 50’s
chroomblink verby
met lang vinne
en white wall tyres

die nuwe mense sien of hoor dit nie
ook nie die swart
dikwiel Humber-fietse nie
en wragtig
niemand koop vars groente
by Canaris nie
want hulle sien nie meer
die winkel in Andriengastraat nie

In Birdstraat kreun
druiwelorries verby
terwyl seuns op fietse skelm
trosse uit die bakke gryp
die dorp ruik suur
van vrot korrels wat reeds
in die slootjies muggies lok

In Victoriastraat kom
`n ou professor grys
op sy swart fiets
langs Wilgenhof verby
en uit die boonste venster
van die personeelwoonstel
staar Dok Craven
na sy Coetzenburgse rugbydrome
maar niemand sien hom nie

Anakronies kom ou Herre
ewe ongesiens verbygeseil
oor die Eersterivier
in sy antieke blou seildakmotor
waar ronde klippe stamp en rol
in die bergwaters se vloed
terwyl studente in die verte
swart slagkrete uitspoeg

Bo Paul Roos
se Japie Krige-saal
pronk die grysblou Pieke
langs ou Stellenboschberg
se bietjie spierwit Eerste Sneeu
van Van Wyk Louw

Tussen studente
stap onsigbare arm omies
uit die Transkei
weer met flenterklere
in die motreën
Kayamandi toe
verby `n groep lawaaieriges
wat net in Engels wil klasdraf

en bo in Dorpstraat
voor die wegdraai na die Laan
sing `n koor in die Moederkerk
`n heilige wals
begelei deur tortelduiwe
in `n stokou gebroke akkerboom
fuck your church
skree iemand buite

Ek gaan toe maar terug
na die Ou Transvaal
daar waar my Sarie woon
want
niks is meer dieselfde nie

sintuiglik suur
my Akkerdorp

  • 1

Kommentaar

  • En ons wat Griekwas, ons sê:
    "Duusmanners, ons het jul gepier!"
    en ons hou raad en ons oorlê:
    "Kom jul ooit in ons land weer hier,
    dan vrek jul almal hier!"

    Die Duusvolk skree, hul maak lawaai;
    Ons trek, hul steek vuur agter aan;
    die koper hoes ... die derms waai ...
    en in die lug die laaste man!
    Wat leef, die hardloop wat hy kan.

    SJ du Toit

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top