Philip Nel het lank onderrig gegee in Afrikaans Tweede Taal en was jare lank Hoofeksaminator vir die Letterkunde in die TOD. Sy entoesiasme en liefde vir die digkuns het hom gehelp om gedigte saam met sy leerders soos granate oop te breek om by die bittersoet pitte te kom!
In 1994 het hy die boekie Gedigte van nader beskou, HAUM de Jager, die lig laat sien - 30 gedigte bespreek en toegelig.
As musikant en komponis het hy in Februarie 2003 `n besondere CD vrygestel met die titel Philip Nel: Soos goeie wyn, waarin hy 15 gedigte getoonset en gesing het. Hierdie kulminasie van sy passie vir die digkuns en musiek is baie goed deur die media en RSG ontvang.
Sedert 2004 het hy sowat 78 gedigte getoonset, verwerk en opgeneem in sy tuisateljee vir die Breek Oop CD-reeks vir skole: kyk en luister gerus by philipnel.co.za. Die CD's word ook gebruik in sy aanbieding van letterkunde die afgelope vyf jaar by ATKV Slypskole vir Afrikaans in al die provinsies.
`n Stel van 13 CD's is op pad na Gent waar dit in `n soort "Skatkamer" saam met `n besondere versameling van Afrikaanse digbundels gehou sal word. Twee van die CD's bevat voorlesings en voordrag van 12 Afrikaanse lekkerlees kinderverhale en 40 lekkerlees versies deur bekendes soos Lochner de Kock, Magda van Biljon, Jannie du Toit en Lucas Maree en andere - met klank.
Ou en nuwe verse uit Philip se onderste laai kry deesdae `n lêplek op LitNet.
Opgedateer/Updated: 2009-11-03
Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za
Bio-info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za