![]() Foto: NALN
|
Sêgoed van Stella Blakemore “Inspirasie is oral en altyd beskikbaar. Ek het geen spesiale plek of stemming nodig om die tikmasjien te laat kletter nie. Dit kom sommer net.” (Vaderland, 28 Julie 1972) “Baie van die karakters in my boeke is op werklike mense gegrond wat ek ken – mense wat nog hier in Pretoria of elders in Suid-Afrika lees. Dit wil nie sê dat hulle altyd voorkom soos hulle in werklikheid is nie. Soms verander ’n karakter na mate die verhaal ontwikkel. Maar ai, dr Serfontein ...” (Hoofstad, 14 Junie 1974) “Ek voel baie verontwaardig omdat een van die Afrikaanse koerante na my as ’n Ierse vrou verwys, bloot net omdat ek in Ierland woon. Ek is ’n Suid-Afrikaner van geboorte, met sterk verbintenisse met hierdie land – ondanks die feit dat ek al in etlike Afrikastate – die destydse Ivoorkus (Ghana), Pogoland (waar daar nog mensvreters woon), Nigerië en Swaziland gewoon het – én tans in Ierland woon.” (Hoofstad, 14 Junie 1974) “Ek het my skryfwerk baie ernstig opgeneem. Ek skaam my nie om my werk aan die ernstige kant te beskou nie. Vir my is dit nie ‘slegs’ jeuglektuur nie; dit is, nieteenstaande my swakhede en tekortkominge, die beste waartoe ek persoonlik in staat is. Dit beteken vir my lesers ook iets.” (Insig, Julie 2001) |
Gebore en getoë
Stella Blakemore is op 13 April 1906 naby Lindley in die Oos-Vrystaat gebore – in ’n tent in ’n hensoppernedersetting (Uit: Crafting popular imaginaries). Haar oupa was Theunis Johannes Krogh, onderstaatsekretaris van Paul Kruger, president van die Zuid-Afrikaansche Republiek. Haar Ierse pa, Percy Blakemore, was ’n offisier tydens die Anglo-Boereoorlog en hy het in Suid-Afrika geveg, vertel Cornelia de Kock (Volksblad, 17 Julie 2010). In Suid-Afrika het hy verlief geraak op ’n Boeredogter, Amarentie Susanna Catharina Krogh. Hulle is in 1902 getroud en het ’n dogtertjie, Estella, gehad.
Dit was dan ook haar oupa se naam, Theunis Krogh, wat sy gekies het om later haar beroemde reeks oor Keurboslaan se skool te skryf.
Percy was egter ’n gewoontedobbelaar en toe hy tydens sy dogter se geboorte die dokter moes gaan haal, het hy begin kaartspeel saam met ander dobbelaars en sodoende heeltemal te laat met die dokter opgedaag by sy vrou in die tent. Estella is al gebore toe hy daar opgedaag het.
In Vaderland (28 Julie 1972) vertel Andre du Toit dat Percy Blakemore sy vrou en kind verlaat het toe Stella (soos sy genoem is) nog klein was. Stella het aan Du Toit vertel: “Hy het ons net so gelos ... maar baie mense dink hy moes ’n aangename, lekker ou gewees het.”
Stella se ma was ’n aktrise en sy was waarskynlik een van die eerste aktrises wat in ’n Suid-Afrikaanse film gespeel het. Sy was die heldin in The great Kimberley diamond robbery, wat deur RCE Nissen vir Rufe Naylor se Springbok Film Kie verfilm is. Hy was ook die regisseur. Dit is op 11 Desember 1911 in Johannesburg vertoon. (ESAT)
Emma en Percy is in 1914 geskei en daarna was Emma aan die bestuur van ’n musiek- en dramaskool in Pretoria.
Stella is van jongs af op kosskool, maar waar sy die wêreld van die kosskool later in haar boeke redelik rooskleurig ingekleur het, het sy dit nie self so ervaar nie: “Ek meen dat ek daaroor skryf soos ek dit graag sou wou belewe het.” (Die Burger, 26 Augustus 1975)
In ’n brief aan haar uitgewer, JL van Schaik, skryf sy dat haar kinderjare eintlik “dreary” was (Insig, Julie 2001): “Ek hou altyd daarvan om oor lekker kinderjare te skryf, waarskynlik omdat my eie so mistroostig was. My ma het alles op aarde vir my gedoen, behalwe om ’n tuiste vir my te gee. Sy het ’n ding gehad oor kosskole, en ’n meer skrikwekkende bestaan vir ’n kind is daar nie.”
Verdere studie en werk
Ná Stella haar skoolloopbaan voltooi het, is sy na Durban, Pretoria en Johannesburg waar sy in musiek verder studeer het. Sy het ’n klavier- en sanglisensiaat aan die London Royal Academy of Music verwerf. Sy het opera studeer aan die Dresden Operaskool in Duitsland onder leiding van Felix Petrenz, waar sy ook in verskeie operas opgetree het – onder andere in Faust, Fra Diavolo en Die Zauberflöte. Sy het ook onder Kluge aan die konservatorium vir musiek gestudeer.
In Januarie 1930 is sy terug na Suid-Afrika waar sy vir ses maande in ’n reeks konserte opgetree het.
Terug in Engeland tree Stella en die Wallieser David Owen, ’n siviele ingenieur, in die huwelik. In 1934 het sy ’n miskraam en ná haar herstel is sy in Mei 1935 terug na Suid-Afrika en het daar gesamentlike beheer van haar moeder se musiekskool in Pretoria oorgeneem, wat bekend gestaan het as Blakemore Studios. Haar man het vir die Britse Koloniale Diens gewerk en het in Swaziland ’n pos aanvaar en in sy werk het hy kort-kort posisies regoor Afrika beklee.
Ná nog ’n miskraam het Stella en haar man besluit om in 1945 en in 1946 twee kinders van die Armstrong-Benin-tehuis in Pretoria aan te neem. Hulle is Peter en Salene genoem. In 1947 is die gesin na Kumasi in Ghana en daarna het hulle ook in Nigerië gewoon voordat hulle na Londen vertrek het.
In 1954 het hulle hul permanent in ’n ou huis in Warrenpoint in Noord-Ierland gevestig, hoewel David vanweë sy werk nog steeds baie gereis het. Hulle het ook in die Ivoorkus, Italië en Duitsland gewoon.
Sy was ’n lid van die Royal Commonwealth Society, asook van die Women’s Institute in Ierland wat katolieke en protestantse vroue as lede gehad het. In 1974, tydens ’n besoek aan Suid-Afrika, het Stella aan Chris Louw meer oor die onluste in Ierland vertel: “Ek bly in die Mourne Country naby ’n kusdorpie met die naam van Warrenpoint. Dié dorpie – poskantoor, banke en winkels inkluis – is onlangs deur een enkele bom platgevee. My gasstofie op ons kleinhoewe omtrent drie kilometer van die dorp af, het amper ’n voet in die lug in gespring weens die slag van die ontploffing.
“Ek is spyt dat beeldradio na Suid-Afrika toe kom. In Ierland sou dit beter sonder beeldradio’s gegaan het. Dit is hulle wat die onluste opstook. Daar is nie wrywing tussen ons lede van verskillende gelowe van die Women’s Institute nie. Dit is ’n klein minderheidsgroepie wat vir die bomaanvalle verantwoordelik is. ’n Mens kan nie meer sê dit is net die IRL (Ierse Republikeinse Leër) wat daarvoor verantwoordelik is nie.”
Oor haar verblyf in Afrikalande het Stella aan Hoofstad vertel: “As swart en wit moet saamwoon, kom hulle gewoonlik in die algemeen goed klaar. Ek het in Ghana onder ’n swart skoolhoof gewerk. Hy was baie goed vir my as personeellid. In Swaziland en Nigerië het ek presies dieselfde ondervinding gehad. Ek het onder meer met Kwame Nkrumah en koning Sobhuza kennis gemaak.”
En oor Suid-Afrika en Pretoria van 1974 het sy haar soos volg uitgelaat: “Die stad het geweldig verander. Ek voel so jammer dat so baie van die pragtige ou argitektoniese juweeltjies wat ek uit vroeëre besoeke onthou, nou vir sulke massiewe, lompe geboue moet plek maak. Maar dit is skynbaar wat ’n mens vir vooruitgang moet betaal. Suid-Afrika vind ek gejaagd, maar nie onrustig nie.”
Terwyl Stella in Duitsland was, het sy begin skryf aan haar eerste werk Die goue sleutel, ’n eenbedryf vir kinders, wat in 1931 deur Van Schaik uitgegee is. Ander toneelspele is deur Stella Blakemore geskryf, naamlik Die toweruur (1932), ’n Wedstryd in Droomland (1935) en Eerste April (1950).
’n Klompie titels wat nie gekoppel is aan reekse nie, het ook uit haar pen verskyn – Die familie Karelse (1938), Elfie, Apie en Carolus (1945), asook Stryd oor Peta (1946) en Vorm II op Delarey (1948) wat albei by die eksklusiewe meisieskool, Delareyskool, afspeel. ’n Engelse drama, Blind birds, het in 1932 die eerste dramakompetisie wat deur die Krugersdorp Munisipale Drama en Operavereniging uitgeskryf is, gewen.
En toe in 1932, toe Stella Blakemore 26 was, tref die eerste titel in die later baie gewilde Maasdorp-reeks die winkelrakke onder die titel Die meisies van Maasdorp: verhaal vir meisies en vind dit onmiddellike plek op die boekrakke van baie huishoudings. Nog 15 titels het gevolg. Later is dit in ’n nuwe reeks in 12 titels vervat
In 1940 verskyn die eerste boek in die Keurboslaan-reeks wat oorspronklik uit 20 titels bestaan het, en later ook verwerk is tot die Nuwe Keurboslaan-reeks tot 11 titels.
In ’n artikel in Insig van Julie 2001 vertel Jomarié Dick saam met die Booyens-susters, Susan en Hannelie, meer oor Stella Blakemore, haar verhouding met Van Schaik Uitgewers en haar skryfwerk. Stella Blakemore kan ’n “wêreldburger” genoem word met ’n baie interessante lewe wat self ’n storie op sy eie was. En dit is “betekenisvol dat ’n vrou wat só ’n impak op Afrikaanse lesers gehad het, die grootste deel van haar lewe in die buiteland gewoon het”.
Haar uitgewer het haar soms aangepraat oor haar Afrikaans, hoewel sy goed tweetalig was. Sy was egter redelik sensitief oor hierdie onderwerp. In 1968 het Jan van Schaik aan haar geskryf: “Your Afrikaans is not what it should be, but we always get someone to improve it according to the latest rules of the ‘Akademie’.”
En hoewel sy besef het dat haar Afrikaans nie altyd goed genoeg was nie, het sy vasgestaan dat daar nie verander moet word aan die wyse waarop haar karakters gepraat het nie en in 1958 skryf sy: “In beide die Maasdorp- en Keurboslaan-reekse het ek mense probeer skep – dikwels het hulle hulself geskep – wat elkeen op ’n unieke manier praat en optree.”
Stella het altyd gemeen dat sy nooit die nodige erkenning en waardering van haar uitgewers gekry het nie en dit was juis hierdie kritiek wat die nodige impetus verskaf het om die Keurboslaan-reeks te begin skryf. In 1958 het sy aan Van Schaik geskryf: “Dit is tragies om te erken dat die reeks wat my soveel plesier gee, uit só ’n onwaardige motief gebore is.”
Resensies oor sommige van Stella Blakemore se boeke:
- Allegra op Maasdorp: “Maasdorp is seker een van die bekendste, geliefste en suksesvolste jeugreekse in Afrikaans. Allegra op Maasdorp is veral ’n treffer omdat dit vandag nog betrekking op die jeug het. Kobie-hulle se manewales maak dat oud en jonk weer na die sorglose skooldae terugverlang en leer ’n mens ook dat jou verlede nie in geluk se pad hoef te staan nie. Jy móét die ander elf titels in die Maasdorp-reeks lees, natuurlik!” (Naomi Joubert, Volksblad, 15 Augustus 2005)
- Juffrou Kobie en Kobie gaan verder: “My ma en haar maats het die Maasdorp-reeks in die 1970’s gelees. Sy vertel altyd hoe hulle moes beurte maak om die Maasdorp-reeks in Excelsior se dorpsbiblioteek uit te neem. My ma se opgewondenheid het my aangesteek en ek kon nie wag om my hande op die Maasdorp-boeke te kry nie. Koshuiskinders soos ek geniet Kobie en haar maats, broers en susters se avonture veral baie. (...) Die boeke is in suiwer Afrikaans, met geen Engelse woorde tussenin nie. Ek kan nie wag om die volgende aflewerings te verslind nie.” (Lena-Marié Botha, Volksblad, 12 Junie 2006)
- Kobie en die wonderkind: “Ek as volwasse leser het die taalgebruik baie outyds gevind. Dit lees stokkerig en vloei nie lekker nie. Die uitdrukkinge en gesprekke kom ook pretensieus voor, en het uiteindelik ’n gebrek aan geloofwaardigheid tot gevolg. Dit mag wees dat jonger kinders hierdie boek sal geniet, maar ek moet in alle eerlikheid sê dat ek van mening is dat tieners van vandag moeilik sal aanklank vind by die karakters en gebeure. (...) Andersins sal aanhangers van die Maasdorp-reeks baie tevrede wees met hierdie nuwe oplaag.” (Magdel Fourie, Volksblad, 22 November 2004)
- Kobie regeer: “Dit is ligte leesstof en soms is dit duidelik dié heruitgawe is in die 1930’s geskryf. Dit bied ’n nostalgiese terugblik vir ouer lesers wat die Maasdorp-boeke in hul jeug gelees het en kan jong lesers van tussen tien en dertien se leeslus aanwakker.” (Ilza Roggeband, Huisgenoot, 14 April 2005)
- Kobie regeer: “As jy hou van verhale oor die kattekwaad, streke en dinge van meisies op kosskool, is dié boek reg vir jou. Dis gesonde kattekwaad wat hulle aanvang en die skoollewe is prettig. Maasdorp word amper aangebied as ’n soort droomwêreld en kan dalk partykeer te onskuldig voorkom. Maar dit beteken nie die meisies het glad nie probleme en frustrasies nie, want hulle is ook maar tieners. Meisies wat hierdie boek lees, kan dus met die Maasdorp-meisies identifiseer al is dit dan ook net op ’n sekere manier. (...) As jy nie hou van ’n naïewe skryfstyl nie, is dié boek nie vir jou nie. Jong volwassenes wat hou van onskuldige ontspanningsverhale sal hierby aanklank vind.” (Enelle Steenkamp, Volksblad, 22 November 2004)
- Maasdorp se nuwe onderwyseres: “Dit was die eerste Maasdorp-boek wat ek gelees het. Nou wil ek sommer die hele reeks lees! Na my mening is dit regtig ’n goeie boek. Meisies van my ouderdom sal dit geniet. Dit is boeiend en soms baie snaaks. Al het jy dalk nie die vorige boeke gelees nie, kan jy dit steeds geniet.” (Sanet Steyn, Volksblad, 15 Augustus 2005)
- Maasdorp omnibus 1: “Daar’s dinge wat ek vir my vriende wegsteek. Soos dat ek onder die invloed van Callas se musiek in my kombuis ballet. En dat ek op veertig steeds my verslete Maasdorp-boeke verslind. In my week oomblikke lesende onder die duvet, is die talentvolle Kobie weer my rolmodel. Sy met die goue krullebol ‘dansend om haar rustelose kop’. Sy wat op haar tone dans soos ’n feëkoningin, wat eendag ’n wêreldbekende pianis gaan wees en wat boonop altyd gereed is vir kattekwaad.
“’n Sin soos dié: ‘Soos ’n klein St Cecilia, byna asemloos onder die invloed van hierdie nuwe gevoel, sit sy voor die klavier met haar krulkoppie laag oor die note gebuig’ roer my tienergemoed mateloos diep. O, ek wil net soos sy wees! Dis my seuns se gebrul van honger wat my terug ruk. En laat besef ek is begaafd genoeg (met toebroodjies maak en so aan), al was ek nooit ’n Maasdorp-leerling nie. Gaan koop dié omnibus vir jou en jou dogter!” (Elna van der Merwe, Sarie, 5 Julie 1995)
- Maasdorp omnibus 2: “Dit is waar dat hierdie verhale nie in die moderne tyd afspeel nie, maar kinders bly maar kinders en dit is heerlike ontspanning vir almal. (...) Alle lesers van die Maasdorp-reeks sal hierdie splinternuwe uitgawe verwelkom.” (Servamus, Maart 1997)
- Maasdorp omnibus 3: “Die tipiese kosskoolstories is iets baie eie aan Engeland met prototipes wat reeds so vroeg soos 1749 hul verskyning gemaak het, soosLittle Female Academy deur Sarah Fielding. Die bekendstes is seker Carolyn Keene se Nancy Drew en Enid Blyton se kosskoolstories wat ’n definitiewe subgenre in kinderlektuur geskep het. Maar ons eie Stella Blakemore het nie nodig gehad om een tree terug te staan vir hierdie Engelse grand dames met haar Maasdorp- en Keurboslaan-stories nie.
“Stella Blakemore was ’n wêreldbelese en wêreldberese individu en dit het ook uitgekom in haar Maasdorp-verhale met interessante karakters soos Juffrou Dreyer wat aan groot oorsese universiteite studeer het, die wêreldberoemde kinderviolis, Olga Willowich, oftewel Carla Willemse, Dokter Jaap Malan wat pionierswerk gedoen het in breinchirurgie, Thelma, die swaksinnige buurkind en Juffrou Hartmann met haar hooggeagte sielkundige kennis (’n wetenskap wat in daardie tyd nog baie onbekend was). In die boeke vind ’n mens promovering van individualisme, met rebellies teen monargiese gesagsfigure, prominente verwysings na die onderbewussyn en die invloed daarvan op menslike gedrag en ’n amper Frans-aristokratiese sosiale ingesteldheid. ’n Mens kan dus sê dat Blakemore met hierdie subtemas haar tyd ver vooruit was, maar sy het daarin geslaag om die Afrikaanse kind van die relatief afgesonderde Suid-Afrika van die middeldekades van die 20ste eeu nie net te vermaak nie, maar ook op te voed en in te lig. Sy het die hele wêreld gebring na iets so eenvoudig soos ’n Afrikaanse meisieskool.
“Die Maasdorpstories is stories van heldeverering en idealisering met begaafde, perfekte karakters soos Kobie met haar ‘heuningblonde krulle en ferweelbruinoë, blosend en pragtig en die ene glimlaggies en kuiltjies’, en met stereotipes, tipiese kosskoolstoutigheid en voorspelbare intriges en baie kritici sal miskien meen Blakemore se stories is seksisties en patrioties. Dit is miskien dan ook juis hierdie eienskappe van Blakemore se verhale wat haar destydse teikengehoor vasgenael gehou het, wat nou faal om trefkrag te hê in die jare negentig en faal om op die moderne tiener van toepassing te wees. Die taal en storielyne is verouderd en ook die kleredrag- en milieubeskrywings laat die leser gou besef dat dit in die outyd afspeel en sal vandag se jongmens heel moontlik reeds na die eerste paar blaaie verveel. Dit is egter nie die fout van die leser of skrywer nie, maar wel die gevolg van die onstuitbare veranderinge wat deur die dekades ingetree het en daarom moet ’n mens versigtig wees om Blakemore se verhale volgens moderne maatstawwe te beoordeel en af te maak as minderwaardig sonder die inagneming daarvan dat die eerste Maasdorpboek reeds in 1933 gepubliseer is. Dit is dus vir ’n teikengehoor totaal verskillend van vandag s’n geskryf, want soos die tye verander het, het die jongmense se voorkeure en belangstellings ook verander en meer kompleks geword. Iets wat skynbaar egter nie veel verander het nie, en wat Blakemore haarfyn vaspen, is die rebelsheid en nukke wat maar tog te kenmerkend is van die adolessente ontwikkelingsfase, maar dit is tog ’n feit dat vandag se kinders vroeër volwasse en minder onskuldig is as destyds se Kobies. Dit is dus die einde van ’n leesera en dit het ongelukkig tyd geword dat die Maasdorpboeke saam met hul tydgenote soos Trompie, Saartjie, Soekie en ander geliefdes, (bekendes in die volksmond, maar stofopgaarders op die rak), weggepak word in die literatuur se oudedoos. (...)
“Boeke, veral dié vir die ontvanklike jeug, die opkomende geslag, het tog ’n groter verantwoordelikheid as om net oppervlakkige vermaak en ontvlugting te bied – dit het tog ook ’n opvoedingstaak. ’n Mens is dankbaar vir die Afrikaanse skrywers wat dit waag om hierdie moeilike genre aan te durf en hulle goed van hulle taak kwyt, maar ’n mens wonder tog: waar is die Stella Blakemore van die negentigerjare wat die Afrikaanse kind (en veral die Afrikaanse tiener) weer aan die lees kan kry? Ek herinner my aan ’n slim iemand wat eendag gesê het: ‘You have to write for children in the same way you do for adults – only better.’” (Tilana du Plooy, Ons Angeltjie, Julie 1998)
- Die Meisies van Maasdorp en Nuwe meisie op Maasdorp: “Die eerste twee van die nuutste heruitgawes van die byna 100 jaar oue Maasdorp-reeks van genoemde boeke het op my lessenaar beland,” het Maritha Snyman (Beeld, 9 Augustus 2004) geskryf. “Die kleurvolle prettige retro-omslag laat my lekkerkry. Daar’s darem niks so mooi soos ’n mooi boek nie. ‘Die vere maak nie die voël nie,’ betig ek myself, want ek weet van baie mense wat bedenkinge het oor Human & Rousseau se besluit om die boeke weer uit te gee.”
Snyman vertel hoe sy aantekeninge by die eerste twee hoofstukke gemaak het, “en toe staan daar niks verder nie. Die potlood se werk is op, want ek is ingesluk deur die sjarme van die verhaal en die karakters van Maasdorpskool. Ek lees verby die besware tot by die laaste woord. Met die genoegdoening wat net ’n lekker leeservaring kan bied, maak ek die boek toe.
Ek gee die boeke en ’n evalueringsvorm vir die kinders wat veronderstel is om dit te lees – meisies van graad 4 tot 7 en ook vir my matriekkind wat die Maasdorp-reeks nog nooit gelees het nie.
“Op die vraag ‘Waarvan het jy gehou’ skryf die lesers: ‘Van alles’; ‘Toe Elsabe en Kobie vriendinne geword het’; en ‘Toe Elsabe Kobie gaan help het in die dorp’. En op die vraag ‘Vir wie sal jy die boek aanbeveel?’ skryf een leser entoesiasties: ‘Vir al die meisies in die wêreld!’ ‘Dis regtig oulik,’ sê my gesofistikeerde, kritiese matriekdogter. ‘Ek kon dit nie neersit nie.’
“Sela, sê ek vir die twyfelaars.”
- Nukke op Maasdorp (sestiende en laaste boek in die reeks): “Hier ontmoet ons Bennie, dogter van oud-Maasdorper, Marie Dempers. Sy sukkel om aan te pas, maar Jacomina Venter help haar om aan te pas. Die bekende Kobie Malan se dogters, Jessamie en Madie, gee met ’n goeie skoot dwarskoppigheid ’n bietjie kleur aan die hele spul. Dit is ’n lekkerleesboek vir lesers tussen elf en veertien, maar nie heeltemal so vermaaklik soos die eerste boeke in die reeks nie.” (Edna Isaacs, Huisgenoot, 2 November 2006)
- Keurboslaan omnibus 1: “Hierdie omnibus bevat die eerste drie boeke van die Keurboslaan-reeks en, hoewel tye en modes verander het, is karakters soos Krynauw en Wienand nog volkome tuis onder die tieners vandag. Hierdie omnibus lees lekker in gemaklike taal en prikkel ’n mens se nuuskierigheid om die ander boeke in die reeks ook te lees. As jy van spanning en avontuur hou, is Keurboslaan vir jou.” (Susan Engelbrecht, Servamus, Maart 1997)
Die hoofkarakter in die Keurboslaan-reeks is doktor Serfontein en hy kan beskou word as een van die mees enigmatiese karakters in haar boeke en Stella het geskryf dat hy gedeeltelik gebaseer is op haar Engelse onderwyser in matriek, Paul Zorn: “Ek het werklik oopmond na hom gestaar en wou al blosend omval as hy vir my kyk. Maar Paul sou ligweg geamuseerd wees by die gedagte dat hy my soveel boeke gegee het and that I myself get such a kick out of them.” (Insig, Julie 2001)
En as iemand dalk ’n verhandeling sou wou skryf oor vroue wat verlief raak op ’n fiktiewe karakter, is daar oorgenoeg materiaal in die persoon van doktor Serfontein. “Dit is moeilik om aan ’n ander karakter in Afrikaanse fiksie te dink wat soveel intense bewondering ontlok het. Eleanor Baker noem hom die Mr Darcy van Afrikaanse letterkunde, ’n man wat vir haar tienersiel die laaste woord in romantiese held was. En Baker het erken dat sy ook die karakter Charles Ashton in haar boek Weerkaatsings op doktor Serfontein gegrond het. ‘Nie doelbewus so geskryf nie, maar onbewustelik tog hy, juis omdat doktor Serfontein vir my die argetipiese donker smeulende held was’.”
Ander uitsprake oor die immer gewilde doktor Serfontein:
- Acáma Fick, Stellenbosse koorleier en musiekdosent: “Ek was sonder twyfel verlief op die hoof van Keurboslaan. Vir jare lank en steeds met tussenposes! Dit was dalk nie goed nie. Watter lewende man kan by hom kers vashou?” (Insig, Julie 2001)
- Rita Gilfillan, skrywer: “Doktor Serfontein is elke meisie se droom. Ek het hom kritiekloos bewonder, al het ek toe al geraai hy is, soos James Bond, darem te goed om waar te wees.” (Insig, Julie 2001)
- Louise Viljoen, professor in Afrikaans aan die US: “Ek was ook erg verlief op doktor Serfontein. Nadat ek hom moes afstaan aan daardie vrou met die groen oë, die geel hare en wit rokke was sy seun Richard ’n tweede beste. Die toneel waarin die weinig spraaksame doktor Serfontein sy liefde verklaar aan die vrou met wie hy sou trou, beskou ek steeds as een van die groot erotiese tonele in die Afrikaanse literatuur.” (Insig, Julie 2001)
- Maritha Snyman, kinderboekkenner: “Ek bewonder Kobie vandag nog vir haar daadkragtigheid en is baie bly ek is toe nie met doktor Serfontein getroud nie.” (Insig, Julie 2001)
- Solet Scheeres, joernalis en skrywer: “Vandag weet ek dat daar lank nie meer sulke mense bestaan nie – maar ’n mens kan seker maar bly hoop?” (Insig, Julie 2001)
Stella Blakemore is teen die einde van Mei 1991 in Ierland in die ouderdom van 85 jaar oorlede. Sy was ’n geruime tyd baie siek. Sy is op 26 Mei 1991 in Noord-Ierland begrawe en word oorleef deur haar twee kinders, Salene en Peter, en ses kleinkinders.
Huldeblyke:
- Jan van Schaik, haar uitgewer: “Sy het sowat 50 kinderverhale geskryf wat baie gewild was en verskeie kere herdruk is. Dit was lekker leesboeke en die karakters was dikwels op werklike mense gegrond.” (Die Burger, 5 Junie 1991)
- Chris Louw, destydse uitvoerende regisseur van Monitor by RSG: “Blakemore se boeke het my vir ewig met ’n onhaalbare nostalgie vir Afrikaans besmet. Ek het as kind só lank en aanhoudend gelees dat ’n dokter my moes afboek weens uitputting.” (Insig, Julie 2001)
- Irma du Plessis: “Blakemore se boeke het ’n wêreld van filosofie, groot skrywers, opera, wêreldliteratuur, navorsing en doktorate aan my voorgestel.” (Insig, Julie 2001)
- Cora de Swardt, peetkind van Stella Blakemore: “Ek onthou haar as ’n innemende, dinamiese mens wat baie lief was vir kinders. Sy was avontuurlik en onverskrokke. Op ’n goeie dag sou sy besluit die kinders moet ’n musiekspel opvoer en dan het sy sommer Hansie en Grietjie uit Duits vertaal en ons dit laat opvoer. As musiekonderwyser was sy streng en sy het geglo in dissipline, maar sy was nooit onvriendelik nie.” (Insig, Julie 2001)
- ’n Joernalis (naam nie genoem nie): “As ek soms wonder wie of wat ek nou eintlik wou word toe en jonk was, dan keer ek altyd terug na Maasdorp en Keurboslaan, en dan verskyn my groot lewensideale en drome glashelder voor my – en skielik weet ek weer waarheen.” (Insig, Julie 2001)
- Martie Meiring, veteraan-joernalis: “Vir my is dit eenvoudig. Dit was die enigste aspirational lektuur, buiten die Bybel, wat ons jeugdige Afrikaners gehad het.” (Insig, Julie 2001)
- Madeleine van Biljon, joernalis: “Die ambivalensie rondom Blakemore se reekse is ’n half ongesonde beheptheid wat deur hierdie leser gedeel word.” (Insig, Julie 2001)
- Erika Murray-Theron: “Hoe groot sou die invloed van doktor Serfontein se onbevraagtekende ‘meerdere’ wees wat die patriargale benadering van jong Suid-Afrikaners teenoor swart mense gevoed het. Om van Kobie en haar sussies se benadering teenoor die ‘meid’ nie eens te praat nie...” (Insig, Julie 2001)
En ons gee die laaste woord oor Stella Blakemore, die vrou wat so baie Afrikaanse lesers vasgenael gehou het met haar boeke, aan die kinderboekkenner Marina le Roux. Sy gee in Beeld van 22 Junie 1991 ’n kort oorsig oor en waardering van haar werk: “Stella Blakemore se skool- en kosskoolverhale is gegrond op die tradisionele Engelse kosskoolverhale van die 19de en vroeg 20ste eeu.” (En dan noem Le Roux enkele voorbeelde soos The governess, or The little female academy van 1749; Thomas Hughes se Tom Brown’s schooldays in 1857; FW Farrar se Eric, or Little by little in 1858; The fortunes of Philippa deur Angela Brazil in 1906 tot die Nancy Drew-verhale en Enid Blyton se stories gedurende 1940 en 1950.)
“Geoffrey Trease, bekende skrywer en kritikus, het hom soos volg uitgelaat oor hierdie genre: The school story is a thing peculiar to England. So far as I know there are extremely few school series in foreign languages.
“Trease was onbewus van Stella Blakemore se bydrae tot hierdie gewilde en soms omstrede genre. Dit was juis in die dertiger- en veertigerjare dat sy begin het met die twee onvergeetlikste reekse kosskoolverhale in Afrikaans: Die Maasdorp-reeks en die Keurboslaan-reeks onder die skuilnaam Theunis Krogh, inderwaarheid die naam van haar oupa.
“Die Maasdorp-reeks begin met Die meisies van Maasdorp en word afgesluit met die twaalfde titel in die reeks, Lalage op Maasdorp. So gewild was en is hierdie reeks dat dit verskeie herdrukke beleef het. Die derde hersiene en gemoderniseerde druk het so onlangs as 1986 verskyn. (Dan was daar ook verdere uitgawes in 2004 en 2005 deur Human & Rousseau.)
“Die manlike teenhanger van Maasdorp is die ewe bekende Keurboslaan-reeks wat uit twintig titels bestaan, beginnende by Jong dokter [sic] Serfontein. Keurboslaan se stories was ewe gewild onder seuns en meisies, miskien vanweë die charismatiese skoolhoof, ’n aantreklike, gesofistikeerde macho-figuur waarmee beide geslagte kon identifiseer. Só sien die leerlinge die eerste keer vir dokter Serfontein: Vanaand is die eetsaal stiller as gewoonlik omdat almal so nuuskierig na die nuwe onderwyser kyk. ‘Jy’t dit nie mis nie!’ sê Roussouw vir Wienand. ‘Dit is die gesig van ’n Griekse god!’
“Heldeverering, hetsy vir leerkragte, medeleerlinge of prefekte is maar een van die bindende en herhalende temas in Blakemore se reekse. (...) Stereotipes word oor en oor in die Blakemore-boeke herhaal en die intriges is resepmatig voorspelbaar. ’n Buitestaander word deur ’n weldoener na Maasdorp / Keurboslaan gestuur. Aanvanklik word op hom / haar neergesien, maar danksy ’n besondere talent, hetsy op die gebied van akademie, sport of musiek word die nuweling aanvaar en opgeneem in die eksklusiewe geledere van die skool.
“Die reekse is onbeskaamd seksisties-patrioties. Keurboslaan word juis ontwikkel omdat die seuns nie wil hê die Engelse moet ons spot nie. (...) Ondanks irriterende seksisme, paternalisme en stereotipe karakters, bly Blakemore se reekse nog steeds gewild. Miskien juis omdat die verhale so goed aansluit by die psigiese ontwikkelingsfases van die kind in die laat kinderjare en vroeg-puberteit. Miskien vanweë die verromantiseerde, geïdealiseerde subkultuur wat geskep word, en wat in die werklikheid maar saai en neerdrukkend kan wees. (...)
“Dit is maklik om vanuit die veilige hoek van die moderne realistiese kosskoolverhale dié van Blakemore af te maak as moralisties, didakties en minderwaardig. Dit was en is ontvlugtingsleesstof, maar dit dan by uitnemendheid. Sy het die Afrikaanse kind aan die lees gekry en aan die lees gehou. Saam met die seuns van Keurboslaan en meisies van Maasdorp sê hul getroue bewonderaars, baie al middeljarig, vaarwel aan Stella Blakemore:
En die beste skool in werk en speel
Is die skool met die band van blou en geel
En kyk jy noord, suid, oos of wes
Word die palm gewen deur MMS!”
Publikasies:
Publikasie |
Die meisies van Maasdorp: verhaal vir meisies |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Die jongste meisie in Maasdorpskool |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0798143924 (sb) |
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Kobie regeer |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Kobie en die wonderkind |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0798144467 (sb) |
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Nederlands uitgegee deur Bosch & Keuning Kobie en het wonderkind |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Allegra op Maasdorp |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Maasdorp se drie musketiers |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Maasdorp se nuwe onderwyseres |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Hoofmeisie Kobie |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Kobie gaan verder |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0798145323 (sb) |
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Juffrou Kobie |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0798145331 (sb) |
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Jongspan op Maasdorp |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0798146133 (sb) |
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Niggies op Maasdorp |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0798146141 (sb) |
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Maasdorp se redaktrises |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0798146591 (sb) |
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Maltrappe op Maasdorp |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0798146958 (sb) |
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Maters op Maasdorp |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0798146605 (sb) |
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Nukke op Maasdorp |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0798146958 (sb) |
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Lalage op Maasdorp |
Publikasiedatum |
1974 |
ISBN |
062700296X (hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Ontgroening op Maasdorp |
Publikasiedatum |
1977 |
ISBN |
0627000959 (hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Maasdorp omnibus 1 (Die meisies van Maasdorp, Die jongste meisie in Maasdorpskool en Kobie regeer) |
Publikasiedatum |
1995 |
ISBN |
|
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Maasdorp omnibus 2 (Kobie en die wonderkind, Allegra op Maasdorp en Maasdorp se drie musketiers) |
Publikasiedatum |
1996 |
ISBN |
9780627021954 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Maasdorp omnibus 3 (Maasdorp se nuwe onderwyseres, Hoofmeisie Kobie en Kobie gaan verder) |
Publikasiedatum |
1997 |
ISBN |
0627022936 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
As Theunis Krogh: Keurboslaan-reeks
Publikasie |
Die hoof van Keurboslaan |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Avonture op Keurboslaan |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Keurboslaan se peetvaders |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die kroon van die skool |
Publikasiedatum |
1944 |
ISBN |
Johannesburg |
Uitgewer |
Afrikaanse Persboekhandel |
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Twee nuwe seuns op Keurboslaan |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die skool stuur speurders (Lente-serie) |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die Serfontein-kinders |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Raaisels op Keurboslaan |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Spanning op Keurboslaan |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Keurboslaan se eerste kaptein |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Keurboslaan se struikrower |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0627002609 (hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Moleste op Keurboslaan |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Rugby op Keurboslaan |
Publikasiedatum |
1956 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Kaptein Richard |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
9780627002328 (sb) |
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Gevare op Keurboslaan (16) |
Publikasiedatum |
1957 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Keurboslaan stuur speurders |
Publikasiedatum |
1958 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Misverstand op Keurboslaan |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
’n Sukkelaar op Keurboslaan (18 ou reeks) |
Publikasiedatum |
1959 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Oorwinning vir Keurboslaan (20 ou reeks) |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Geheime op Keurboslaan (8 nuwe en ou reeks) |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Nuwelinge op Keurboslaan (Die nuwe Keurboslaan-reeks 3) |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Ongenooide gaste op Keurboslaan (11 nuwe reeks) |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Keurboslaan omnibus 1 (Jong doktor Serfontein, Die hoof van Keurboslaan, Nuwelinge op Keurboslaan) |
Publikasiedatum |
1996 |
ISBN |
0627023126 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Keurboslaan omnibus 2 (Die kroon van Keurboslaan, Raaisels op Keurboslaan, Die Serfontein-kinders) |
Publikasiedatum |
1997 |
ISBN |
0627020860 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Hoofseun Richard (7) |
Publikasiedatum |
2009 |
ISBN |
9780798150200 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
As Stella Owen:
Publikasie |
Katrientjie: ’n grappige roman |
Publikasiedatum |
1939 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Nasionale Pers |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Zoeloe |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Verpleegsters is altyd die ergstes |
Publikasiedatum |
1941 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
As Annelise Bierman:
Publikasie |
Die swaard |
Publikasiedatum |
1947 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
As Dien Grimbeek:
Publikasie |
Die Rissies in die stad (Die Rissie-reeks 1) |
Publikasiedatum |
1960 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Kinderverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die Rissies en die kersboom (Die Rissie-reeks 2) |
Publikasiedatum |
1960 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Kinderverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die Rissies en die bure (Die Rissie-reeks 3) |
Publikasiedatum |
1960 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Kinderverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die Rissies en die masels (Die Rissie-reeks 4) |
Publikasiedatum |
1960 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Kinderverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Ander jeug- en kinderboeke
Publikasie |
Die goue sleutel: ’n blyspel vir kinders in eenbedryf |
Publikasiedatum |
1931 |
ISBN |
(sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Eenbedrywe |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die toweruur: operette in een bedryf vir kinders |
Publikasiedatum |
1932 |
ISBN |
(sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Operette vir kinders |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
’n Wedstryd in Droomland: oorspronklike toneelstuk |
Publikasiedatum |
1935 |
ISBN |
(sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Kindertoneelstuk |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Eerste April: toneelstukkie in eenbedryf |
Publikasiedatum |
1937 |
ISBN |
(sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Kindertoneelstuk |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die familie Karelse |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
(sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Nasionale Pers Beperk |
Literêre vorm |
Kinderverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Ses kamermaats op Blourand |
Publikasiedatum |
1944 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel |
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Judith op Blourand |
Publikasiedatum |
1945 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel |
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Elfie, Apie en Carolus |
Publikasiedatum |
1946 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel |
Literêre vorm |
Kinderverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Stryd oor Peta |
Publikasiedatum |
1946 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Unie-Boekhandel |
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Vorm II op Delarey |
Publikasiedatum |
1948 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Drie klontjies op Blourand |
Publikasiedatum |
1950 |
ISBN |
(sb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel |
Literêre vorm |
Kinderverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
As Theunis Krogh
Publikasie |
Die kuns van Janse Cloete |
Publikasiedatum |
1945 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die wilde Raubenheimers |
Publikasiedatum |
1948 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die erfporsie van Janse Cloete |
Publikasiedatum |
1949 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Kosskoolverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Artikels oor Stella Blakemore:
- De Kock, Cornelia: Afrikaners het mos net vir hul doop, troue en begrafnis gebad ... Volksblad, 17 Julie 2010
- Dick, Jomarié, Susan Booyens en Hannelie Booyens: Maasdorp se ma. Insig, Julie 2001
- Du Toit, Andre: [Onderhoud met Stella Blakemore]. Vaderland, 28 Julie 1972
- Emma Krogh
- Keurboslaan se skryfster in Ierland oorlede. Oosterlig, 5 Junie 1991
- Le Roux, Marina: Sy het die Afrikaanse kind laat lees. Beeld, 22 Junie 1991
- Malan, Riana: Skrywer van jeugreekse op 85 dood. Beeld, 5 Junie 1991
- Nieuwoudt, Stephanie: Boeke kry tweede lewe: gesprek met Carina Diedericks-Hugo. Beeld, 30 April 2004
- Skryfwerk en musiek hou Stella besig. Hoofstad, 14 Junie 1974
- Stella Blakemore
- Stella Blakemore
- Stella Blakemore
- Stella Blakemore: biografie: NALN se knipselversameling
- Stella Blakemore oorlede. Die Burger, 5 Junie 1991
Enkele aantekeninge oor die bibliografie van publikasies:
- Die titels in die bibliografie is chronologies gerangskik en nie volgens die reeksnommer wat op die buiteblaaie verskyn het nie, aangesien daar ’n ou en ’n nuwe reeks is en die reeksnommers van die titels in die twee reekse nie altyd ooreenstem nie.
- Wat betref die publikasiedatums van die titels, is die opsteller aangewese op NALN se katalogus en die internet. So daar mag uitgawes wees wat nie in die bibliografie voorkom nie.
Bronne:
- Dick, J., S. Booyens en H. Booyens. 2001. Maasdorp se ma. Insig, Julie, bl. 61–63.
- Du Plessis, I. 2002. Crafting popular imaginaries: Stella Blakemore and Afrikaner nationalism. MA-verhandeling, Universiteit van Pretoria
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)
Stella Blakemore se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2024-09-26 gepubliseer.
Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.