In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.
Dalk het dit jou ook al oorgekom. Jy ry nog so ewe rustig op jou fiets rond wanneer jy uit die bloute deur 'n verpeste steekhaarbrak aangeval word – so asof jy een of ander misdadiger is. En wat maak jy? Jy probeer óf vir die keffertjie wegjaag óf jy skop-skop so na sy oopgesperde bek in die hoop dat hy die aftog sal blaas. Maar dit maak hom gewoonlik net kwater, en so gaan julle twee die straat af totdat al die ander honde in die buurt – én hul skellende base – ook aan die sirkus begin deelneem.
Dit is min of meer ook wat op 17 Mei 1948 – net mooi 65 jaar gelede - met mnr Double van Pietermaritzburg gebeur het. Hy het in Francisstraat gery toe ene mnr Delport se foksterriër hom geskraap het. Met die skopslag na die brakkie het mnr Double sy balans verloor en geval. Hy het sy skouer en arm beseer en sy fiets se pedale was daarmee heen.
Toe prosedeer hy teen mnr Delport in die plaaslike landdroshof. Hy het aangevoer dat mnr Delport nalatig was deurdat hy toegelaat het dat sy hond sonder toesig op straat rondgeloop het. Hy het 91 pond en 9 pennies geëis vir sy hospitaalonkoste, sy verlies aan inkomste vir die drie weke wat hy nie kon gaan werk nie, sy pyn en lyding en die skade aan sy fiets. Destyds was £91 0s 9d (R182,09) nogal 'n aansienlike eisbedrag.
Mnr Delport se verweer was dat mnr Double se skade suiwer deur sy eie nalatigheid veroorsaak is. As hy nie na die hond geskop het nie, sou hy nie sy balans verloor en neergeslaan het nie, was sy teenargument.
Nadat die getuienis gelewer is, het die landdros gevra dat die partye se prokureurs hom moet toespreek oor die vraag of mnr Double se eis op mnr Delport se beweerde nalatigheid gegrond was of op die sogenaamde actio pauperie, waaroor ek aanstons iets meer sal vertel.
Die prokureurs was dit eens dat mnr Double se eis sou staan of val by die vraag of mnr Delport nalatig was. Die landdros het daarna beslis dat bloot die feit dat mnr Delport se brakkie sonder toesig op straat was, nie beteken het dat sy baas nalatig was nie. Omdat daar geen ander getuienis was dat mnr Delport nalatig was nie, het die landdros die eis met koste van die hand gewys.
As mnr Double sy aksie op die actio pauperie gegrond het, sou hy bes moontlik geslaag het. Die actio pauperie kom direk uit die Romeinse reg. Die vernaamste kenmerk daarvan is dat 'n mens nie skuld aan die kant van die eienaar van die dier hoef te bewys ten einde hom aanspreeklik te hou vir die skade wat sy dier aangerig het nie. Dit is een van die min vorme van skuldlose aanspreeklikheid in ons reg. Al wat die eiser moet bewys, is (i) dat die verweerder die eienaar van die dier is; (ii) dat die dier sogenaamd contra naturam sui generis opgetree het, met ander woorde, dat dit anders opgetree het as wat dit 'n ordentlike huisdier van sy soort betaam; en (iii) dat die dier sponte feritate opgetree het: dat dit dus uit eie beweging opgetree het en nie deur iemand aangehits is nie.
Mnr Double het teen die uitspraak geappelleer, maar die hooggeregshof in Pietermaritzburg het bevestig dat die landdros heeltemal suiwer en in die kol was.
Gelukkig het mnr Double se aksie teen daardie tyd nog nie verjaar nie, en hopelik het sy prokureur hom geadviseer om wéér 'n eis teen mnr Delport in te stel - dié keer nie gegrond op laasgenoemde se nalatigheid nie, maar op die actio pauperie, direk uit die Romeinse reg, wat een van die bewyse is van hoe diep ons regstelsel se wortels strek.


Kommentaar
Was daar geen munisipale wet/verordening dat geen hond buite sy werf mag wees sonder 'n leiband nie?
Of daar 65 jaar gelede so 'n Munisipale verordening in Pietermaritzburg was, sal ek nie weet nie. Maar: watter effek sou so 'n verordening op Mnr Double se eis gehad het? Sou dit "outomaties" beteken dat die eienaar van die brakkie, Mnr Delport, dan nalatig was as sy brakkie - in stryd met die verordening - op straat was? Sekerlik nie. Byvoorbeeld: iemand anders as Mnr Delport kon sy hek oopgelaat het. Die punt is dat die Romeinsregtelike actio pauperie dit juis onnodig maak dat nalatigheid aan die kant van die dier se eienaar bewys hoef te word ...
Groete - Gustaf