Stap in die spoor van ’n leeu

  • 0

Ek onthou die reuk van olifantmis en geknakte riet, van sweetvel, sweethare maar bowenal die walms van Zero se neusflanke onder my trillende vingers. Die Jeep wat hoes en proes en dan diep vasval in die riviersand en dieselfde bosgeluide wat in Noag se tyd al gehoor is, wat my kop inbars.

 En die lawaai van Timo en sy oupa wat steierend uit sitplekgordels wriemel en ’n visarend wat beier of tydloos talm oor ’n watergat en die wanhopige gebrul van ’n vuilbaard om vrylating.

 En die twaalfjarige Timo se lippe wat oor en oor in Engels pleit: “I am too young to die, I am too young to die!” Maar van die ganse adrenalienreis onthou ek veral die kwyl uit die bek van die koning wat platgetrek is en die sandkorrels wat daarin swem en die geel stokoë wat staar na niks.

leeu1

 Ons reis gereeld na Mafunyane. ’n Bosveldplaas teen die R36 in die Limpopostreek wat deel van ’n privaatwildreservaat uitmaak, met ’n uitkyk oor die majestueuse Drakensberge. Hier vleg die Makhutswerivier ’n groen streep deur ’n Eden waarin die Groot Vyf rondwoel en ’n wateraar is vir dier en mens. ’n Plek waar jy jouself uit stadskettings kan loswikkel.

 Vroegoggend sny ons spoor agter die koning van Karongwe aan. Die afgemete spuitstof talmend op die Jeep se radiator waarop dit louwarm gehou word. Klokslag herinner die radio dat die koning gewaar is en rivier se kant toe mik. Ek hoor weer die toets-klik van die pylgeweer en weet: niks mag verkeerd loop nie. Minwetend!

 leeu2Timo glimlag breed. Vir ‘n wyle smaak hy die kilheid van die pylgeweer in sy hand. Oupa stoot trots bors uit en kiek aanmekaar.

Ek ruik die reuk van katpiepie en renostermis en voel hoe my maag draai. Hierdie is 'n ander speelveld en definitief nie vir sissies nie.

Daar is baie glimlaggies en die opgewondenheid rimpel deur die geselskap. Ons voel soos uitverkorenes om hierdie ekspedisie mee te maak. Tot vandag ril ek steeds aan die herinnering van die radiowoorde: “Julle kan versigtig inbeweeg.”

 Die Jeep se neus stoot rivier se kant toe.

 Ek voel die wind deur my hare sliert en koets te laat vir ‘n geniepsige doringtak wat oor die soom van die pad groei. ‘n Bietjie bloed loop. Oorkant die oewer stamp ’n lam aan sy ma se tiet om die laaste strepie melk uit te suig.  

 Timo sit sy voet op oupa se stewel en rits sy baadjie tot onder die nek toe. Dan verskyn ons stoet op die horison en die eerste visueel van Zero is sigbaar.

 “Daars hy,” fluister iemand en ek staar na die welbekende swart maanhaardos wat net aan één alfamannetjie behoort: Zero – die grootste karnivoor op hierdie wilde stuk oerwoud. Sy krag en statuur dwing veel respek af by dier en mens.

leeu3

 Agter hom stap ‘n goue beeld.

“Mpho? Sy seun?” Dié het sy kinderskoene ontgroei en toon alreeds klosse swartbaard wat van dieselfde formidabelheid as sy pa spreek. Mens- en katoë ontmoet en ek swymel in eenwording met dier-en-ruimte.

Ek vergaap my aan slap magtige pote wat ritmies vorentoe skop terwyl ons hingel agter vreedsame stappers, wagtend dat hulle moet uitskiet rivier toe. Daar sal die bedding ’n oopte bied wat die pylskietproses vergemaklik.

 Soos een man swaai die katte uit die grondpad en die agtervolgers swaai saam. Die ruwe terrein se geskommel herinner my daaraan dat agter elke bos onheil mag skuil en omdraai ’n nagmerrie is.

 Soos ’n rooiperdeby skiet die pylveer op Zero se boud af. Ek hoor ’n ontploffende gromgeluid en Mpho spat eenkant toe. Zero hap na die stekende ding en spoeg dit op die sand uit. Die spuitnaald het egter reeds sy towerwerk gedoen.

 Terwyl ons inbeweeg sien ek hoe oë wasig word, logheid intree en bultende spiere gestroop word tot net ’n ligte rimpeling van die blink vel oorbly. Bewussyn ontmoet droomland.

leeu4

 Die rivierbedding is warm en droog. ‘n Salfie teen uitdroog word in Zero se star oë gesmeer en ’n pers handoekkappie teen die wit son omgewikkel.

Mpho word ’n monster. Getrou waak hy langs sy pa en moet gereeld deur die veearts met ’n stok of klip verwilder word. Digby krul hy onder riete in vanwaar hy alles dophou.

My vingers woel in Zero se maanhare en my hartshuis ontdek koperdraadgrein. Ongemerk pluk ek ’n paar uit en glip dit in my hempsak. Vir later: ‘n soewenier.

Sou ons die Jeep te laat opgeklouter het of was die teenmiddel se werkverrigting gesny? Terwyl Zero opswoeg kiek ek my laaste foto voordat die kamera langs my been afknetter en my vingers gryp na ’n groot coolerbox om agter weg te koets. ’n Skamele buffer tussen ‘n kwesbare mens en aanstormende leeu.

leeu5

In Zero se strak blik lees ek: “Nou is dit my beurt!”

Tollend trek ons weg en ek voel die Jeep onder my boude vasval en Timo se irriterende kermwoorde: “I am too young to die, I am too young to die!” Ek hoor die kletter van klippies onder wielflappe en suig die stof op wat in my neusflanke warrel. Waar is Mpho?

Ek besef ’n halwe klap van ‘n jeukende leeu kan jou maklik bokveld toe stuur. Ek ruk om. Betyds om te sien hoe die koning oor ’n dooie boomstomp trip en sy strompelende figuur weer in die sand neerploeg. Wow!

Die Jeep vind vastigheid en deur mopanieblare sien ons die blink van die VHF-nekband terugflits. Trots pronk dit om die nek van die vors van hierdie koninkryk. Ek ruik sweetvel onder my vingers en voel die tekstuur van maanhare terwyl ek weet hierdie ondervindingsreis sal nie maklik weer gesmaak word nie. leeu6Golwe spoel oor my wese. Ons operasie was suksesvol. Die koning is weer vir 'n termyn gekroon. Sy heerskappy hier gewortel sodat menige reisiger sy skoonheid kan herkou.

Behalwe as Mpho met 'n oorverdowende gebrul en aggressie besluit om die troon deur ’n geveg tot die dood syne te maak. 'n Xenogamie-reis wat die sirkelreis van oorlewing deur brutaliteit voltooi.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top