Standbeeld

  • 0

U is besienswaardig!
Merkwaardig.
Medaljes marsjeer in
gelid oor u hart.
U rang? Ten minste:
“Generaal”!
Waarskynlik:
“Veldmaarskalk”?
Wie weet? 
U stand, status en statuur
só statig verbrons!
U  serif-sierskrif-naamplaat
rigied gegiet.
Dit pronk hoogdrawend
op u vertoon-voetstuk
meesterlik gemessel uit
grys graniet.
Daar suig u stewels se
sole aan u sokkel vas,
maar u voete bly steeds
uittroon ver hoër as waar
lang mans durf dink hul
hoofde hemele skraag.
U, orent, pronk asof op parade.
U lyf styf op aandag;
vuurwapen teen
vyf-en-veertig grade.
U oë, ewe hoog, asof
gemeet met ’n waterpas,
tuur besitlik.
U maker het u wese
heel bedrewe verhewe met hebbe
en houe ten aanskoue, in sy
uitbeelding van u as veel groter
as die lewe self.
Die skewe, wrede meesmuil
om u mond speel mee met die
vorentoe hou van u stoere ken,
u woeste hangsnor en die effense
optrek van u fynbesnede neus,
tot die wilde wenkbroue en u
oorkonkelde ore verklaar prontuit –
u dink u is meer as merkwaardig –
u meen u is, meerderwaardig.
U maker het seker gemaak
u word gesien as ‘n persoon wat
sy hele wese verheerlik deur
aweregse arrogansie en boonop
aanvallende astrantheid –
iemand bo almal verhewe –
onaantasbaar!
Tog – tyd bedek die roem van
u naam en rang –
met slons en slyk van duiwedrek.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top