Standbeeld-gedig: Oom Paul se Nuwe Jaar

  • 0

Oom Paul se Nuwe Jaar

Die duiwe kak nog altyd op Oom Paul se kop
Die wino’s kies nog altyd meths oor goedkoop dop
Proklamasieheuwel glim
In die intens Noord se son
Die ou Seer Duim ril
Op Meintjies se Top
En ek hoor ’n dun stem fluister: pasop.

Dis ’n nuwe jaar
Ek is deurmekaar
Dis ’n nuwe jaar

Die Groot Gebou se glorie dans nog deur die vure
Terwyl haar groot groen tuine wemel met die miere
Die guano is meedoënloos
Soos ’n somer acid rain
Kenny Rogers verloor sy features
Miskien een dag verdwyn
En ek hoor ’n dik stem fluister: ek pyn.

Dis ’n nuwe jaar
Ons is by mekaar
Dis ’n nuwe jaar

Die ongenadige son en sy droogte
Verseng in Voortrekkerhoogte
Ek stap uit die SAWI met my mieliemeel
En sien my nuwe bicycle’s gesteel

Dis ’n nuwe jaar
Ek is in die war
Dis ’n nuwe jaar

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top