günter grass
die digter-skrywer ets sy kykers
stip gefokus op klein-burgerlike kleinsieligheid
eties drywend op drolle van magsbeheptheid
die rewolusie kap die adel weg
ook die roem van digters en denkers
al wat tel is pantsers, edikte, blitzkrieg
selfs seuns en oumanne as laastes vir die loopgraaf
die rewolusie vreet alles, nie net sy kinders
al wat oorbly is as en verwoesting
die poorte van “arbeid maak vry”
word ontgrendel: die gevangenes strompel uit
geraamtes in gestreepte kz-klere
die smet lê in die dubbel-s
waaroor hy swyg, amper sestig jaar
terwyl die nuwe naoorlogse politieke moralisme
hom beitel, met sy woorde, met sy blik
iemand om na op te sien, op ’n voetstuk
inspirasie vir ’n nuwe generasie
met ouderdom dan die vrees oor die val
die beitel kap en kap, woord vir woord
aan die lobbe van die ui van waarheid
tot die beeltenis kantel: stille self-ontmagting
die ui se trane loop uit die etsende oë
die hart gelouterd en skoon, selfs vredig


