GA Maqula 1869
By die veepos is haar graf, tussen bos en Karooprag lê sy sag
Tussen Perdebos en Mooipleisterbos het hulle jou gelos
Onder Spitskop net agter Goliat se Ghoen staan die veepos
Dag vir dag onder merinopoot in diep sloot lê jy sag en wag
Jou broodkniehande op bors gevou vroeg in die môredou
Oor die vlaktes blom die geelbietou asof hulle jou onthou
Onder ’n spits kop in die veld het jy jou laaste rus gevind
Stil en sag en alleen lê jy hier dag vir dag onder ’n koue Karoowind
Die mure val al om en die mure trek krom in en om jou huisie
Ek sien jou sit langs ’n berg-aar terwyl jy oor die vlaktes staar
Het jy ook drome gedroom of het jy aanvaar maar
GA Maqula wat was jou naam, sou ek dit verstaan
Jou veepos tussen Spekbos en Pienksaffraan
Was jy gelukkig met jou bestaan
of het jou man gereeld vermaan
as jy so sit en droom en huil
onder ’n Karoo-volmaan.


