
Foto: Canva
Stamboom, die koppie en altyd God
Gelaat in die middel van wat ek dink ek reg gedoen het,
sukkelend besig om ’n beeld te bedek
van die gebreekte koppie.
Dis my koppie. Die een van jare terug.
Dit was nie ’n stryd vir winter alleen nie,
elke seisoen was omhels deur my angs.
Stemloos in die worsteling
van die harde weerkaatsing van geluide.
Donkerte voor my sig!
Ontasbare, ware liefde –
die hoop beskaam nie.
Die krake is daar. Ek weet daarvan.
Wat is my persona?
Sien ek alleen die krake?
Onherstelbare stamboom.
Die wortel is diep.
Dit steel die sonskyn en sagte windjie wat vrede bring.
Voorwaar voel ek aangetref deur die koue
wat ’n storm laat ...
een direk uit die see
wat skeiding bring
tussen diep geankerde wortels van seer.
Die beeld wat ek uitsit vir die wêreld om te sien.
Om te beweeg is belangrik.
Dit roer nuwe paaie,
kronkel oor hobbels
en steil opdraandes.
Ver weg hoor ek, in die oggendlig,
’n vreedsame, lieflike fluit.
Die dag het gebreek.
Nuwe hoop is in sig.
Is die pad nuut?
Of net ’n doodloopstraat?
Praat tog, middagson.
Roep die vrede.
Die geloof, soos ’n mosterdsaad.
Die wete dat God sorg vir mossies en die diere!
’n Nuwe oproep tot hernuwing
in my gekraakte persepsie, in my denke.
Voor die maan uit sy skuilplek kom
en die nag aankondig,
vind ek vertroosting in my Skepper.
My God wat hemel en aarde gemaak het.

