Spuug tydens sport

  • 0

Spoeg, spoe, spu, spuug. Vloeistof wat afgeskei word deur kliere in die mond, sê die HAT, die vuurspuwende berg spoeg soms lawa. Die see, rapporteer Dawie van Heerden, het al honderde Adidas-tekkies, afkomstig van ʼn gestrande skip, uitgespoeg – tot groot vreugde van die plaaslike gemeenskap. In Deens: “spytte”. Spaans: “excupier”, asof iets uit jou mond ontsnap. My gunsteling, omdat dit goed aansluit by die rigting waarin ek mik, is die Sweeds: “spotta”.

Baie navorsing oor spoeg in sport, geborg deur groot maatskappye in die sportwêreld, is die afgelope tyd gedoen en gepubliseer. Almal wil skielik weet hoekom sportmense so spuug. My riskante aanname gaan dus wees dat omtrent almal wat sport beoefen soms spuug en dat ons almal graag wil weet hoekom dit so is.  Ja, ek verkies “spuug”: dis sagter op die tong – en ons is in beskaafde geselskap.

Van beskaafdheid gepraat – ek sal my relaas oor spuug tydens sport by ons nasionale sport begin. Toe ek nog rugby gespeel het, het ek gereeld gespuug, moet ek bieg. Ag, dalk nie biég nie, want spuug is nie sonde nie - dalk wel wálglik, maar nie sónde nie. In elk geval, daar is baie gras en stof op ʼn rugbyveld, so mens moet jou keel skoonkry. Ek het al baie ander rugbyspelers sien spuug op rugbyvelde. Hulle spuug basies twee soorte vloeistowwe: speeksel of bloed.

In die hoogtepunte van vanjaar se wentoets teen die All Blacks, waarna ek nog byna daagliks kyk, snuit Jessie Kriel ʼn strepie helder vloeistof uit sy een neusgat uit – in stadige aksie. Dit gebeur net na Jordie Barrett se drie. Ek weet al presies wanneer dit gaan gebeur en sluit my oë vir ʼn paar sekondes tot die toneel verby is. Die Engelse het ʼn bykans onvertaalbare uitdrukking vir dié blitsige neusvog: “snot rocket”. Of nee wag: hoe klink “kwylpyl”?

Ek gaan my vir eers by die vloeistowwe uit die mond hou.

Om te spuug tydens rugby is heel eenvoudig. Die rugbyveld is groot en bedek met gras, so jy kan omtrent orals, en in enige rigting spuug. Ek sê “omtrent”, want as jy ná ʼn opponent spuug, of – die hemele behoed jou – óp hom spuug, sal jy, as die skeidsregter jou sien, waarskynlik ʼn rooi kaart kry. Sien hulle dit eers ná die wedstryd, sal jy uitgewys en verhoor word. Dit het al regtig gebeur: Stade Francais se skrumskakel, Jéróme Fillol, het in 2013 in Bath se skrumskakel, Peter Stringer, se gesig gespuug. Hy is vir 14 weke geskors. Sê Stringer na die tyd: “Dis omtrent so laag as wat enigiemand moontlik kan daal en ek is steeds ʼn bietjie rou nadat ek aan die ontvangkant was.”

Hoekom “rou”?

Ek wil aanbeweeg. Dis maklik om die kol te tref as jy op die rugbyveld spuug. Rugby – en ander balsporte – is redelik stadig. Of wag – krieket is vinnig, maar net die bal. Die kolwers moet wel baie akkuraat korrel as hulle deur die raamwerk van hulle kopskerms wil spuug. ’n Skewe korrel, en die gwelletjie hang tergend aan die raam.

Wanneer jy wil spoeg as jy fíétsry, sê my groot vriend Tiekie toe ons nou die dag ʼn paar biere drink in die pub en grill, verander die prentjie dramaties, het hy agtergekom.

Maklik om te sê: moenie dit doen nie, dis walglik, sê Tiekie. Vat ʼn sakdoek saam, jou walgie. Om egter jou handvatsels met een hand vas te hou terwyl jy met die ander hand jou neus met groot inspanning in ʼn sakdoek uitblaas, kan gevaarlik wees – dis nou volgens hóm. Ek ry nie fiets nie.

Dit kan ook gevaarlik wees om die speeksel – waarvan die samestelling natuurlik kan wissel – ín te sluk, want dit kan jou mos laat verstik en versmoor, beweer Tiekie. Uit, moet dit úít, dring hy aan: of jy dit nou uitbláás en of die wind dit in elk geval uitwáái.

En laat ek dit nou maar erken, sê hy en kyk rond (die naaste mense se tafel is ver van ons af), ek hóú daarvan om te spoeg as ek fietsy, want dit voeg ʼn bykomende sportiewe dimensie tot my ryery. Dis ʼn sport-binne-in-ʼn-sport, kan jy maar sê, sê Tiekie: “Ek mik vir goed soos stoptekens, plavei- en randstene, strepe op die pad en karre met bestuurders wat op hulle selfone kyk.”

Ek soek op sy gesig vir tekens dat hy besig is om die gek met my te skeer, maar hy is dodelik ernstig.

“Ek het dit al tot ʼn fyn kuns verhef. Ek lees baie op daaroor. Jy kan my al ʼn spoegkonsultant noem.”

“Hoe so?” vra ek impulsief, maar ek wil dadelik my tong afbyt, want ek weet wat kom.

“Daar is vyf goue reëls vir spoeg tydens fietsry,” val hy opgewonde weg en druk afgemete met sy een hand se wysvinger op die ander hand se vingers.

Ek gril, maar stop hom nie. Dit voel vir my ek’s onder narkose om ʼn tand te trek.

“Reël een: drink ʼn Red Bull voor jy ry. Die hoë suikerinhoud sal die samestelling van jou spoeg baie meer eenvormig en kompak maak. Gewone speeksel spat in alle rigtings uitmekaar. Red Bull-spoeg is vaartbelyn.”

Ek sluk benoud, maar sit tog gefassineerd en wag vir die ander vier reëls.

“Reël twee: hoe vinniger jy ry, hoe verder voor die teiken moet jy oorhaal en laat loop. Dis een van daai óú, logiese wette van Newton: jou akkuraatheid is direk eweredig aan die afstand tot by die teiken en omgekeerd eweredig aan die spoed waarteen jy ry.”

Ek verstaan nie lekker nie, maar ek vra om de dood nie verder uit nie. Ek sal dit later gaan google.

“Reël drie: die wind is jou grootste vyand, veral as hy direk van voor af kom, want dan druk hy jou projektiel op, af, of terug. Vermy dit dus om in die wind in te spoeg: mik vir teikens lings en regs van jou.”

“Maar onthou altyd reël twee!” vermaan hy my dringend.

Ek knik gedweë, want hy betaal vir die bier.

“Reël vier: dis nie lekker om aanmekaar mis te spoeg nie. Ons is sportmanne in murg en been en ons moet altyd die teiken tref. Mik dus aanvanklik vir groot of lang teikens: groot klippe, beddings, padpredikante en dik boomstamme. As jy húlle eers gereeld tref, kan jy na kleiner teikens begin mik: brakkies wat vir jou blaf, die wit strepe in die middel van die pad en wieldoppe. Randstene werk ook goed, want reël twee is nie so belangrik by húlle nie.”

Ek haal onwillekeurig my sakdoek uit.

“Reël vyf,’” sê Tiekie tot my groot verligting, “is eintlik logies.”

Ek wag.

“Moenie fietsry as jy sinus het nie. Dis sleg vir jou gesondheid.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top