iewers ver hiervandaan
word ’n sluimerende digter
wakker vanuit ’n winterslaap
gekrulde lyf onder die grond,
skimmelswamme aan die hande,
plantmuf en mos om die mond
bo haar is die aarde ’n roof,
die dun kors van ’n wond
sy breek uit die stilte en tree na buite –
oral waar haar oog ronddwaal
word die taallandskap kaal uitgekap
“ek het gedroom om my spoor hier agter te laat”
bieg sy en vryf die sand uit haar oë.
sy skryf in die lug waar die voordigters kan hoor:
s is ’n slang se snelskrif in ’n stroom
p die pratende perd slaan op vlug
o die oë van poësie brand my rug
o die siklus, die ronde son,
die sirkel wat my uit die skemer laat kom
r word ’n ros sonder ruiter of toom
wat digby die sleepsel van verskuns woon
iewers kom ’n digter stadig tot haar sinne –
sy skud die sampioene van haar skoene af
en begin om weer stringe woorde
uit water en asem en saad te kweek
sy weet alle slange en perde kan praat
sy wil haar voetmerk hier agterlaat
Lees al die Mondig-gedigte hier:
Kommentaar
Die fee verdien haar spore. 👣
Pragtig, Carina, jy weet net hoe.