
By die herlees van “Spookradio” besef ek dat die vertelling – oor ’n radio-omroeper in sy ateljee – juis goed gaan werk as ’n radioverhaal. Pienaar het dan ook die potensiaal van die verhaal verhoog met deeglike hersiening.
Die verhaal is nou meer gelaagd met die vertelling aan Lourens Maritz van die ateljeespook én die besoek van “’n blok van ’n man, Ouboet van Zyl”. Die flikkerende ligte en wisselende volume van die musiek intensiveer die onheil van die verhaal.
Ek hou veral van Pienaar se nuwe slot. Die lig teen die muur is op normaal-groen, dis vieruur in die oggend, die plek is netjies en die musiek speel saggies. Dan die stil-dramatiese sin: Langs hom staan ’n halfgedrinkte koppie koue koffie. Met die skets van die kalm, vroegoggendse ateljee suggereer hy aan die leser dat Lourens Maritz hom dalk alles wat voorafgegaan het, verbeel het, insluitende die besoek van die blokman, dat dit ’n droomstorie was wat gedurende sy dutjie afgespeel het.
Dan die gegewe van daardie boonste laai van die lessenaar wat halfpad oopstaan, en wat daarop volg. Met die slotparagraaf slaag Pienaar daarin om die deursigtigheid van sy eerste verhaal in ’n verrassing te omskep. En ek sou veral die betrokke paragraaf verdig.
Pienaar kan sy goeie werk aan die verhaal voortsit deur verdere afronding en verdigting (my raad aan al die skrywers), en wegdoen met die clichés. Oor laasgenoemde: Onthou, jy is ’n skrywer. Jy gebruik taal wat vars en anders wil wees, sonder vertoon of té hard probeer, juis om jou leser weg te voer na ’n sfeer wat hulle tot nog toe nie ken nie.
Ek gee enkele voorbeelde van afronding, verdigting, suggestie eerder as óórvertel, en die wegdoen met clichés.
Pienaar se weergawe:
Nadat die twee sekuriteitswagte die gebou deeglik deursoek het, verskyn Bennie in die deur.
“Hier is niemand nie, meneer. Ons het oral gekyk.”
Lourens is dadelik ergerlik. “Hoe kan daar niemand wees nie? Ek weet wat ek gesien het.”
Bennie se antwoord laat hom byna sprakeloos. “Miskien was dit die spook, meneer.”
“Watter spook?”
“Meneer weet tog seker van die spook van Klok Radio?”
Dit neem die wind effens uit Lourens se seile. “Nee, Bennie, ek weet nié van enige spook nie. Watse snert is dit?”
Bennie se oë rek. “Dis oor meneer nog nie lank genoeg hier werk nie. Almal weet van die spook wat snags hier ronddwaal.”
Lourens is dadelik agterdogtig. “Trek jy my been, Bennie? Ek dink nie dis baie snaaks nie, hoor jy?”
My voorstel:
Nadat die sekuriteitswagte die gebou deeglik deursoek het, verskyn Bennie in die deur: "Ons het oral gekyk."
Lourens is dadelik ergerlik: "Ek weet wat ek gesien het."
"Miskien was dit hy, meneer," sê Bennie.
"Watse hy?"
"Meneer weet tog van hom? Die een wat Klok Radio een nag besoek het?"
"Watse snert is dit? sê Lourens.
"Dis oor meneer nog nie lang genoeg hier werk nie. Almal weet van hom. Snags. Hy kom hier ronddwaal."
"Trek jy my been, Bennie?"
"Oom Tok is die langste hier, hy sal meneer die hele storie vertel"
En so aan.
Noudat ek bostaande herskryf het, digter en meer gelade, reken ek die woord “spook” kan byna heeltemal weggelaat word in die verhaal. Of dan net heel aan die begin genoem word as Lourens Maritz sy onderwerp bekendstel.
Hier volg ’n paar voorbeelde van clichés wat hinder:
- ... hom op hol jaag
- sy nekhare begin stadig rys en hoendervleis ...
- Iets is duidelik nie pluis nie
- ... ruk van die skrik
- ergerlik (gebruik net een maal)
- vlieg die deur oop
- kyk hom vierkantig in die oë
Ensovoorts.
Pienaar kan sy spookstorie slyp en afrond om verder te fassineer en te boei.
Lees ook:
LitNet-slypskool Om te skryf: Die tweede weergawe van ons deelnemers se verhale

