
In die nuwe weergawe van die storie maak die skrywer meer van dialoog gebruik. Die sintuie van die leser word meer ingespan om spanning te skep; dit werk al beter as die eerste weergawe. Maar ek stel voor dat die skrywer dit weer deurgaan en elke sin heroorweeg.
Lourens kom deur sy gesprek met die sekuriteitswag en Ouboet van Zyl as ’n minder aangename karakter voor. Dele waar Bennie, die sekuriteitswag, hom herhaalde kere as “Meneer” aanspreek, maak die sinne lomp.
Die gesprek tussen Bennie en Lourens verklap ook hopeloos te veel van die geskiedenis met Van Zyl. Hier kan die dialoog meer effektief aangewend word sodat die leser self begin raai.
Om te skryf 4–37 waar Dana Snyman se De Hel se poort is oop ontleed word:
Dialoog kan karakteriseer. Kyk hoe lak Snyman daardie vent in paragraaf 30 deur hom onbeskof met tant Sannie te laat praat.
Wat is die beeld wat die skrywer van Lourens wil uitdra as hy sê: “Ja, ek weet, jy is die vark wat met jou dronkgat met elektriese drade kom speel het.”?
Daar is geen motief vir Lourens se argwaan met Oubaas van Zyl nie. Die spook soek hier ’n geleentheid om sy saak te kom stel en om enige wanidees wat daar oor hom bestaan, uit die weg te ruim, maar hierdie gegewe kom ook nie tot sy volle reg nie.
Om te skryf 4–37:
Kort sinne en kort paragrawe werk meestal beter as lang saamgeflanste sinne.
Onder “Verbeter jou styl” verder op dieselfde bladsy lees ons:
Dink sorgvuldig voor jy sinne aanmekaar sit. Die meeste sinne kan met minder woorde dieselfde trefkrag hê, selfs groter. Werk spaarsaam met woorde.
My voorstel hiermee is dat die skrywer vanaf die oproep na sekuriteit elke sin noukeurig nagaan en die trefkrag daarvan heroorweeg.
Lourens se reaksie na elke gebeure, soos direk na “Behalwe vir die sagte krapgeluide is daar niks nie”, dan ook: “Lourens ruk van die skrik”, “Sy stem klink nou bewerig”, “Lourens is dadelik ergerlik” kom totaal oorbodig voor.
Die leser se meelewing van die gebeure word ondermyn deur te veel op Lourens se reaksies te let. Die leser sou self wou raai hoekom Lourens heftig reageer, is hy bang of ongemaklik, maar ergerlik? Is hy ongemanierd met Oubaas van Zyl? Hierdie optrede van Lourens sal die skrywer deeglik moet oorweeg.
Lees gerus in Om te skryf 10–41, “Die skryf van ’n kortverhaal, deur Flannery O’ Connor”. Hy sluit dit af met: As jy nie iets ontdek nie, gaan niemand anders dit doen nie.
Die skrywer kan aan die hand van O’Connor se wenke die vraag vra: Wat moet die leser oor Lourens en ontdek en Lourens oor homself? Tot watter gewaarwording en insig kan die leser en die hoofkarakter kom nadat lg deur Oubaas van Zyl gekonfronteer is.
Sterkte met die herskryf.
Lees ook:
LitNet-slypskool Om te skryf: Die tweede weergawe van ons deelnemers se verhale

