Spookradio 302 FM

  • 0

Lourens maak ’n laaste verstelling aan die mikrofoon. Wanneer die rooi lig teen die muur aangaan, begin hy praat.

“Goeienaand aan al die naguile. Dit is nou presies middernag op Klok Radio 302 FM en soos gewoonlik hierdie tyd van die nag is dit Lourens Maritz wat jou van hierdie kant van die mikrofoon groet. Ek gaan jou geselskap hou tot so vyfuur. Vanaand het ek ’n interessante onderwerp om oor te gesels. Heel gepas vir hierdie tyd van die nag, sou ek sê. En dit is ... Spoke! Persoonlik glo ek nie in spoke en bonatuurlike verskynsels nie, maar ek is oop vir oortuiging. Wat is jou gevoel daaroor? Dalk het jy al ’n persoonlike ontmoeting met ’n spook gehad, of dalk ken jy ’n goeie spookstorie? Hoe ook al, ek sal graag van jou wil hoor. Skakel gerus in en gesels saam. Ek wag vir jou oproep. Intussen skop ons die program af met ’n gepaste lied: Ray Parker jr met die temalied uit die rolprent Ghostbusters!”

Hy druk hy die nodige knoppies op die rekenaar en klankbord. Die rooi lig teen die muur verander na groen. Hy haal die oorfone van sy kop af en sit agteroor. Dít behoort die luisteraars aan die praat te kry. Goeie interaksie help om die alleenheid te verdryf.

Vanaand se onderwerp is inderdaad geslaagd. Die telefoon gons behoorlik. Spookstories van allerlei kleure en geure word vertel. Van ’n ou oom wat sweer dat sy oorlede vrou steeds snags by hom in die bed kom inkruip, tot ’n dominee wat nie kan preek as sy oorlede voorganger nie langs hom op die kansel kom sit nie.

Die tyd gaan vinnig verby, maar later raak die oproepe al minder. Teen drie-uur begin Lourens se ooglede ook swaar word. Dit is doodstil in die ateljee. Die enigste geluid is die musiek deur die oorfone langs hom op die lessenaar wat dofweg gehoor kan word en die koffiemasjien wat nou en dan slurpgeluide maak.

Dan begin die ligte in die ateljee skielik flikker, maar na ’n paar sekondes hou dit op. Lourens begin effens kriewelrig voel. Waarskynlik die effek van die spul spookstories waarna hy heelnag al sit en luister. ’n Beweging uit die hoek van sy oog trek sy aandag. Die deur van die ateljee wat na die gang uitloop, het ’n venster van geriffelde glas. Hy kan sweer daar was ’n beweging in die gang. Hy hou die deur stip dop. Het hy hom verbeel? Dan verskyn die silhoeët van ’n man skielik in die venster. Maar die gestalte verdwyn weer net so skielik as wat dit verskyn het.

Byna onmiddellik begin die rooi liggie op die telefoon flikker. Lourens probeer om die deur in die oog te hou terwyl hy die gehoorstuk optel. “Klok Radio 302 FM, goeienaand.”

Stilte.

“Klok Radio, goeienaand!”

Niks. Lourens begin nou erg ongemaklik voel. “Hallo ... Hallooo!”

Hy druk die foon dood en skakel onmiddellik die sekuriteitstoonbank in die voorportaal. Dit voel soos ’n ewigheid voordat hy die vakerige stem aan die anderkant hoor.

“Security ...”

“Bennie, Lourens hier. Hier was nou net iemand by die ateljee se deur.” Bennie beloof om te kom ondersoek instel.

Skielik begin die musiek kliphard oor die luidsprekers teen die muur speel. Die ligte in die ateljee flikker weer ’n paar keer.

“Wat de hel gaan hier aan?” Hy druk die knoppie op die klankbord om die luidsprekers te doof.

Nadat die twee sekuriteitswagte die gebou deeglik deursoek het, verskyn Bennie in die deur.

“Niks, Meneer. Ons het oral gekyk.”

Lourens is dadelik ergerlik. “Ek weet wat ek gesien het.”

Bennie se antwoord laat hom byna sprakeloos. “Miskien was dit hy, Meneer.”

“Watse ‘hy’?”

“Meneer weet tog van hom? Die een wat Klok Radio soms in die nagte besoek?”

“Watse snert is dit?” vra Lourens

“Almal weet van die een wat snags hier ronddwaal.”

“Trek jy my been, Bennie?”

“Vra vir oom Tok. Hy is die langste hier; hy sal vir Meneer die hele storie vertel.”

“Vertel jý vir my, Bennie.”

“Ek ken nie die storie so goed nie, maar dit was blykbaar ’n bekende konsertinaspeler wat jare gelede hier in die ateljee dood is. In die vroeë vyftigs. Hier was glo ’n jong omroepster wat soms saam met hom uitgesaai het. En toe raak hy verlief op haar.”

“Wat was sy naam?”

Bennie skud sy kop. “Ek weet nie. Boetie iemand, of so iets ... Hy het die meisie glo gevra om met hom te trou, maar sy het gedink hy maak ’n grap en toe lag sy vir hom in sy gesig. Toe storm hy hier uit en gaan aan die drink.”

Lourens glimlag. “Jy sal ’n beter storie moet uitdink as jy my wil bang praat.”

Bennie frons. “Dis die waarheid, Meneer.”

Lourens sug. “Ja toe nou maar, vertel verder.”

“Soos ek sê, hy het aan die drink gegaan. En ’n paar dae later, terwyl sy besig was om uit te saai, storm hy in sy dronkenskap hier in en begin op haar skree. Hy was woedend. Gesê sy het ’n gek van hom gemaak en dat hy haar ’n les gaan leer. Dáár, in die hoek, het ’n kas gestaan waarin die sender en ander toerusting was. Toe pluk hy die deur van die kas oop en begin die drade uittrek. Maar toe vat hy per ongeluk aan ’n lewendige draad en toe word hy hier op die plek doodgeskok. Oom Tok sê sy hy het glo vreeslik geskree. Sy lyk was halfpad verkool.”

“Magtag, Bennie!” Lourens ril oor die onverwagse wending.

Bennie vertel gretig verder. “Ja, dis verskriklik. Hulle sê die man se gees kan nie tot rus kom nie, hy dwaal nog al die jare soms snags hier in die gebou rond. Oom Tok sê mens kan hom partykeer nog hoor skree ook.”

“Ek vat dít maar met ’n knippie sout, Bennie,” is Lourens se reaksie. “In elk geval, dankie dat julle kom kyk het. Maak asseblief seker die deur is gesluit wanneer jy uitgaan.”

Nadat Bennie weg is, skink Lourens vir hom ’n koppie koffie. Hy voel nog nie gereed om dadelik op die lug te gaan nie en laai nog ’n paar musieksnitte op die rekenaar. Wat ’n interessante spookstorie. Waar of onwaar, dié storie moet gehoor word.

Sonder waarskuwing begin die musiek weer oorverdowend oor die luidsprekers speel. Die ligte flikker.

“Ag nee magtag. Wat is dit tog vanaand?” Hy druk ergerlik die knoppie om die luidsprekers te doof. Onmiddellik begin die rooi liggie op die telefoon flikker. Weer niks.

Dan vlieg die deur oop. ’n Blok van ’n man met ’n welige baard, geklee in kakieklere, staan die deur vol.

Lourens word yskoud.

“Wat de duiwel ...? Wie is jy en wat maak jy hier?”

Die man glimlag breed. “Ek is Ouboet van Zyl. Konsertinaspeler van formaat. En jy?”

Lourens ignoreer sy vraag. “Hoe de hel het jy hier ingekom?”

“By die deur natuurlik.”

Bennie moes vergeet het om die deur te sluit. Vervlaks! “Wel, jy mag nie hier wees nie, Ouboet van Zyl. Maak dat jy wegkom.”

Ouboet ignoreer die opdrag en stap eenvoudig die ateljee binne. Hy neem plaas op die stoel voor Lourens se lessenaar. “Nou toe, terwyl jy besig is met spookstories, ontmoet ’n regte spook.”

Lourens kan nie verhelp om ongemaklik te voel nie, maar hy wil dit nie laat blyk nie. “O, so jy is ’n spook? Wat is dit wat jy van my wil hê, meneer Spook?”

Ouboet bly ernstig. “Ek soek ’n geleentheid om op die lug te verduidelik wat destyds hier gebeur het. Ek was seergemaak en het nie geweet wat ek doen nie.”

“Op die lug nogal?” Die vermetelheid van die man darem. “Luister Ouboet, ek gaan nie vir jou lugtyd gee nie. Ek glo nie die ‘spook’-storie nie. Jy hoort nie hier nie.”

Ouboet vlieg woedend op. “Met wie dink jy praat jy? Ek is nie jou gek nie.”

“Aag man, kyk hoe skrik ek. Probeer ’n ander storie, ek het jou gesê, die spookding gaan nie met my werk nie.”

Dit laat Ouboet woedend word. “Ek sê jou, ek ís Ouboet van Zyl!”

Lourens grinnik. “Ja, ja ek weet. Jy is die dronklap wat met elektriese drade kom speel het. Almal ken die storie, jy beïndruk my nie. As jy nie nou loop nie, bel ek sekuriteit.” Hy tel die gehoorstuk van die telefoon op.

Ouboet is buite homself van woede. “Hou jou bek! Wat weet jy? Weet jy hoe dit voel om doodgeskok te word?”

Lourens is nou self ergerlik. “Ek skrik nie vir jou nie. Uit hier!”

Ouboet storm om die lessenaar en pyl reguit op Lourens af. “Ek sal jou laat vóél as jy my nie wil glo nie!”

Lourens probeer desperaat wegkom, maar dis te laat. Ouboet kry hom aan die kraag beet en sleep hom na die ander kant van die lessenaar. Hy probeer homself teësit, maar die man is so sterk soos ’n bees. Ouboet ruk die kragdraad se prop met sy ander hand agter uit die klankbord en begin om die prop met sy tande af te byt om die kopergedeelte te ontbloot.

Lourens besef wat die man wil doen en gil so hard as wat hy kan. “Oukei, ek glo jou! Ek glo jou! Los my!”

Maar Ouboet is vasbeslote. “Jy sal voel wat ek gevoel het! Ek is nie jou gek nie.”

Hy neem die draad se twee koperpunte en druk dit teen Lourens se kaal nek. Lourens voel hoe die elektrisiteit deur sy liggaam skiet. Sy tande kners op mekaar en sy liggaam ruk onbedaarlik. Dan word dit donker.

 

Stadig maak Lourens sy oë oop. Hy lê vooroor met sy kop op die lessenaar. Dit is doodstil in die ateljee. Hy lig sy kop stadig op en kyk om hom rond. Die lig teen die muur is groen, die muurhorlosie wys dis byna vieruur. Alles is netjies op hulle plek soos dit hoort. Die musiek is saggies hoorbaar vanuit die oorfone wat eenkant op die lessenaar lê. Langs hom staan ’n halfgedrinkte koppie koue koffie. Dit neem hom ’n paar sekondes om tot verhaal te kom. Hy moes aan die slaap geraak het. ’n Ongekende verligting spoel deur hom. Dankie tog, alles was net ’n nare droom.

’n Effense brandgevoel in sy nek laat hom ingedagte daaraan voel. Beslis ’n stukkende plekkie. Dan merk hy skielik op dat die boonste laai van sy lessenaar halfpad oop staan. En dié? Dit was nie vroeër hier nie? Hy trek die omslag van ’n ou langspeelplaat uit die laai, maar hy laat val dit byna van skok wanneer hy die omslag van nader beskou. Dit is tog nie moontlik nie ... Die swart-en-wit foto op die omslag is effens onduidelik, maar hy herken onmiddellik die konsertinaspeler met die baard en kakieklere. Die bewoording bokant die foto lui: Konsertinaklanke met Ouboet van Zyl. 1939.

Lees ook:

LitNet-slypskool Om te skryf: Die tweede verslae

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top