Spoke die perfekte allegorie vir Op ’n mooi dag deur Irna van Zyl

  • 0

Titel: Op ’n mooi dag
Skrywer: Irna van Zyl
Uitgewer: Penguin
ISBN: 978-1-4859-0443-4 (Druk)
ISBN: 978-1-4859-0492-2 (ePub)

Kom ons begin by Uniondale. Dié dorp maak ’n gasteverskyning in Op ’n mooi dag. In 1968 sterf ’n jong vrou van dié dorp, Maria Roux, in ’n motorongeluk. Tot vandag toe nog verskyn sy aan mense langs die Uniondale-pad en wanneer sy opgelaai word, verdwyn sy spoorloos uit die motor.

Spoke is die perfekte allegorie vir Op ’n mooi dag. Spoke wat nie regtig spoke is nie. Ongelukkige kinderjare en verledes wat by die karakters spook en mense wat soos saamgeflanste spoke ronddwaal … beskadig deur verkragting en mishandeling.

Rol jou oë vir die titel. Want daar is nie één mooi dag in die boek nie. Geel, het ek dan ook gevind toe ek onlangs navorsing gedoen het oor verdrinking, is soms een van die kleure wat mens sien wanneer jy ’n waterdood sterf. Waarna die skrywer dan ook verwys in haar boek. Geel is hier die kleur van die dood. En dood is beslis ’n karakter in die boek.

Die lees van Op ’n mooi dag was vir my ’n meesleurende maar donker, angstige ervaring. Wat ’n kompliment is dit vir die boek. Dis nie ’n boek wat “heppie heppie” skreeu nie. En dit behoort ook nie. Dis immers ’n riller.

Die boek voer jou weg na ’n plek van beklemming waar niks – maar net mooi niks – goeds gebeur met die karakters nie. Daar is ’n wreedaardige pa, ’n hartverskeurende verjaarsdagoggend, verkragting, mans wat voortdurend jag maak op vroue, en selfs ’n vermoorde sywurm.  Daar is ’n vreesvolle verlatenheid wat spreek deur die landskap en die verslete, verskeurde gestel van die karakters.

Van daar af was die veld droog en dor met net ’n verslete turksvyplant of drie, en elders, langs die grensdrade, rye klippe wat lyk asof hulle met ’n doel daar gepak is. Hulle enigste ander geselskap op die smal teerpad met sy geel strepe, was die dampspoor van ’n vliegtuig wat hulle van dorp tot dorp agtervolg het. Die enigste teken dat ander mense op reis is.

Maar meer oor die tekstuele leeservaring.

Die boek word beskryf as ’n sielkundige riller. Dit lees vir my egter meer soos ’n kombinasie tussen ’n roman, ’n speurverhaal en ’n riller.

Maar wat maak genres tog saak! Dis ’n storie waaraan jy heel lekker gaan lees. Die hoofkarakter, Louw Roodt, beskryf die landskap (maar eintlik ook die boek as jy my vra) soos volg: “Die skaduwees wys die ravine, die kranse en die dieptes af. Dis asof die berg meer karakter kry soos dit later word. Nes ons ook interessanter word soos wanneer ’n mens se voue meer ontbloot word …”

Die spanningslyn werk so: Daar is ’n “back story”, dus spring die storie tussen hede en verlede. Enige spanningsverhaal is ’n doolhof waardeur jy moet wandel (met ’n hygende Jack Nicholson van The shining in jou nek) en dan moet jy stukke van die legkaart optel wat op die ou einde in mekaar sal pas.

’n Ervare skrywer is egter skelmer en wreder as ou Jack. En Van Zyl stel nie teleur nie. Sy plaas haar lesers dikwels op ’n dwaalspoor en net as jy dink jy weet waarheen die storie op pad is, gooi sy ’n paar vieslike verrassings oor jou pad.

Basies gaan die boek oor ’n vrou, Louw Roodt, wat verdwyn en baie vrae sowel as die lyk van ’n bekende motiveringspreker in ’n spoghotel agterlaat. Wat volg, is haar lewensverhaal wat sentreer om haar ma wat gekaap is en ’n afwesige vadersfiguur wat nog steeds by haar spook.

Daar is baie stories, baie verduidelikings en ’n hele paar karakters om mee kop te hou soos wat alles ontvou om te ontbloot presies hoe Louw in haar huidige benarde situasie beland het. Dit alles bereik ’n hoogtepunt met ’n paar wilde jaagtogte met die gereg en allerlei skelms wat op haar spoor is.

Ek kan nou nog nie die vlotstorie lekker kleinkry nie, maar dis iets vir die leser se persoonlike smaak. En dis tog ’n storie. Alles is moontlik.

Waarvan ek gehou het van die boek is dat wanneer als klaar afgestof en weer netjies teruggepak is, jy besef dat die moord nog nie opgelos is nie.

Wie het Carl Tromp Boksom Smith in sy hotelkamer vermoor?

Dus kan jy hier teen die naaseinde van die boek weer lekker speurder speel en probeer raai wie dit is terwyl Van Zyl jou vir oulaas op ’n hele paar dwaalspore lei.

’n Lekkerlees-vakansieboek. Goed geskryf. Om so ’n bietjie met die skrywer se woorde te speel: Van Zyl skil jou vel af soos ’n mens ’n lemoen afdop en los jou lewend tussen die spanningsvolle blaaie van haar boek. Totdat die einde genadiglik opdaag. Net om jou te laat met die verlangende gevoel dat jy eintlik nog meer wou lees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top