Spieëlbeeld deur Franz Marx: ’n resensie

  • 0

Foto van Franz Marx: verskaf

 Spieëlbeeld
Franz Marx
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485303992

Hierdie boek belowe, soos die alternatiewe titel aandui, ’n misdaadstorie oor ’n huurmoord en wie dit kon gedoen het. Spieëlbeeld in die titel is ook ’n leidraad in die intrige.

Die skrywer, Franz Marx van Egoli-faam, is ’n opwindende vonds vir die leserspubliek met hierdie boek wat hy ná sy aftrede geskryf het.

Die spannende verhaal speel af teen ’n eietydse Suid-Afrikaanse milieu. Die karakters is hoofsaaklik Afrikaanssprekend. Dit ontbloot die wêreld van dwelms, konkelaars, paaldansers en nagklubs, wat verweef raak met welaf Afrikaanse sakelui en taalpuriste.

Joe Minnie is die hoofkarakter en hy vertel sy eie storie in loslit Afrikaans. Hy is ’n gimnasiuminstrukteur wat ’n lyfwag word van ’n bekende sakeman, Dolf Eksteen, die ander hoofkarakter in die boek. Eksteen kry doodsdreigemente en benodig beskerming vir hom en sy jong aktrisevrou, Belinda. Sy kant van die storie blyk uit grepe uit sy dagboek.

Spanning word behou deur byvoorbeeld toekomsflitse by die vertelling in te voeg, asook deur forensiese verslae en koerantberigte.

Die leser word speurder en kry leidrade uit die teks. Ons weet gou wie die slagoffer is. Wie die moordenaar is, is nie so maklik nie. Mens wonder of Joe Minnie in staat om ’n moord te pleeg. Hy is effens naïef, eerlik, bloos maklik en hou nie van vuurwapens nie.

Joe en Dolf se paaie kruis nie net by die werkplek nie. Dit is ook die kruising van twee persone uit verskillende lae van die samelewing. Ironies is Dolf ’n taalstryder, een van die dinge waarvoor Joe geen begrip het nie.

Dolf ignoreer die lyfwagte gewoonlik, tog gebeur dit dat Joe vir die eerste keer ’n uitvoering van ’n klassieke simfonie saam met sy baas beleef: “Dan hang daar eenkant ’n stukkie song. Daai stukkie song, voor dit weer in silence disappear, vee-vee gently oor jou gesig, en jou hele lyf word koud, ...”

Die musiek raak ’n snaar in Joe aan. Dit voer hom terug na ’n traumatiese gebeurtenis in sy verlede. Hierdie beskrywing werp lig op sy verhouding met sy familie en op sy selfbeeld.

Dit is ook ’n keerpunt in sy lewe. Sal dit sy optrede beïnvloed?

’n Kenmerk van die boek is oortuigende dialoog. Net so goed is die uitbeelding van sekere situasies. ’n Voorbeeld is die woedende Elaine wat in die woonstelgebou lawaaierig dinge en woorde rondslinger. Haar skoen breek ’n vensterruit.

Die leser kan ook sterkgekerriede sekstonele en gewelddadige konfrontasie verwag.

Die vroue in die boek help die verhaal aan. Daar is Anel, ’n paaldanser, met wie Joe en sy vriend Louis ’n verbintenis het. Haar ma, Elaine, is Eksteen se nuwe aktrisevrou se agent en bly in die rykman se huis. Sy is ’n karakter om mee rekening te hou.

In die woonstelgebou waar Joe-hulle woon, is die feeks Mavis, wat groot moeilikheid veroorsaak. Eksteen se eksvrou en dogters kom ook baie later in die prentjie.

Joe se ma sukkel om haar wassery aan die gang te hou. Sy is ’n bondgenoot teen sy pa wat bossies geraak het na die grensoorlog en sy afdanking by die werk. Haar welsyn speel groot rol in die keuses wat Joe maak. Is hy regtig soos sy pa?

Die brose verhoudings tussen mense. Morele waardes en die gebrek daaraan. Verraad en lojaliteit. Die gevolge van swak keuses. Eensaamheid. Hierdie dinge strek oor die sosiale skeiding van die karakters in die boek.

Ek voorspel dat wanneer hierdie boeiende storie jou eers beetgepak het, sit jy die boek nie neer voor die laaste bladsy nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top