Speurders, seks en skryf – Naomi Meyer gesels met Chanette Paul

  • 1

 

In Die Afrikaanse Skryfgids gee sy wenke oor die konstruksie van ’n roman. By ’n onlangse LAPA-boekkuier is sy deur Nanette van Rooyen beskryf as "ongeskik prolifiek". Chanette Paul is inderdaad ’n oorvloedige en gewilde skrywer en is veral bekend vir chick-lit en spanningsromans. Haar mees onlangse twee boeke is wel ’n familiedrama en verskyn in die vorm van ’n tweeluik (Jo & Sue het reeds verskyn en Jeanne & Nan verskyn in Oktober). Naomi Meyer het Chanette uitgevra oor skryf, lees, speurders en seks.

Chanette, jy sê in Die Afrikaanse Skryfgids “skryf” is ‘n werkwoord. Maar jy laat dit so maklik lyk. Nanette van Rooyen het dan nou die dag by die LAPA-boekkuier gesê sy’s skoon jaloers op jou produktiwiteit. Is dit vir jou maklik om te skryf? Is dit vir jou ‘n lekker werk?

Nee, skryf is nie maklik nie. Dis harde, bloedsweet-werk. Dis wel meesal lekker werk, maar nie altyd nie. Ek dink elke skrywer het ’n masochistiese streek êrens in hom. Michael Kanin het gesê: “I don’t like to write but I love to have written.” Ek stem nie heeltemal saam nie – ek hou van skryf ook, maar ek verstaan baie goed wat hy bedoel.

Daar is vir my drie stadiums in die skryf van ’n manuskrip en dit kom baie ooreen met die begin, middel en einde.

Die eerste derde is heerlik. Mens leer die karakters ken, voel-voel jou weg deur die storie. Jy is opgewonde en glo hierdie kan jou lekkerste boek tot dusver wees.

In die tweede derde begin die onrus toenemend knaag. Wat vang ek aan? Wat vang die ellendige karákters aan? Hoe gaan ek ooit hierdie goed alles aanmekaar geknoop kry? Waarheen is ek nou eintlik op pad?

Die laaste derde van ’n boek is vir my suiwer hel. Dis wanneer ek glo dis die grootste spul gemors wat ek nog geskryf het en ek gaan nooit sin kan maak van alles nie.

Eers met die herskrywing/afronding kom daar gewoonlik weer ’n bietjie orde in die gemoed namate daar orde in die storie kom. Jy begin hoop kry dis dalk nie heeltemal so vrot as wat jy gedink het nie en dat jy wel nog die storie gered gaan kry.

Op my blog is daar twee posts wat in meer besonderhede vertel van hierdie fases en dinge: Die lekkerste van skryf en Fases van vreugdes en vrese.

Jy het al op baie plekke gebly en op baie plekke studeer, noem jy in jou biografie. Sekerlik het dit vir jou as skrywer ‘n kykie gegee op baie verskillende streke en kon dit jou help prentjies vorm vir doeleindes van jou stories. Maar hoekom het jy op so baie plekke gebly? En wat het jy studeer by al die baie universiteite?

My pa het ‘n swerwersgeaardheid gehad. Hy was ’n dromer en ’n gefrustreerde kunstenaar. Hy was prakties met sy hande, maar nie in die besluite wat hy geneem het nie. Soms het dit vir rukke relatief goed gegaan, maar ons was meesal maar vrek arm. My pa het altyd geglo dit sal met ons beter gaan op ’n ander plek of in ’n ander huis.

Die verwisseling van skole (nege altesaam) het my in sekere opsigte geknou en in ander selfstandig en oopkop gemaak. Agterna beskou het dit my definitief ’n wyer perspektief op mense en die lewe gegee as wat sou gebeur het as ek op een dorp grootgeword het. Dit het sy voor- en nadele.

Hierdie trekvoëlpatroon het voortgeduur nadat ek uit die huis uit is, veral toe ek boonop met ’n man trou wat ook nie vir lank op een plek kon bly nie. Tussen hom en my pa het ek in stede gebly en op dorpe, in koshuise en kommunes, in woonstelle en huise en karavane, op kleinhoewes, op plase en in woonwaparke. Elke plek het sy eie gevoel en dinamika. Dis moontlik hoekom ruimte vir my so ’n belangrike element in my stories is.

Die aantal universiteite is maar toe te skryf aan omstandighede. My BA het ek op Potch gedoen omdat ek daar plek in die koshuis kon kry. Daarna is ek Bloem toe agter ’n man aan met wie ek gedink het ek gaan trou, en het my HOD op Kovsies behaal, maar nie die gebeier van kerkklokke nie. Toe trou ek ’n paar jaar later met die ander man en beland danksy sy beroep in ’n woonwa onder ’n rosyntjiebos in Vendaland. Dis toe dat ek by Unisa ingeskryf het. Eers het ek ’n paar vakke vir niegraad-doeleindes gedoen, net vir die lekker. Die jaar daarna het ek vir ’n honneurs in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde ingeskryf. Jare later het ons in Benoni beland en het ek my MA in dieselfde vakke by die destydse RAU, nou UJ, gedoen. Nog ’n paar jaar later is die Human & Rousseau-beurs aan my toegeken om ’n MA in skeppende skryfwerk aan die UK te doen onder leiding van Etienne van Heerden. Dié het ek hoofsaaklik deur die pos gedoen, aangesien ek in daardie stadium by Hartbeespoortdam gewoon het.

Ek woon nou al amper tien jaar op Stanford. Vir die eerste keer het ek my eie huis en neem ek die besluite oor waar ek wil bly. Dit voel eienaardig om so lank op een plek te bly en soms ek kry die kriewels, maar ek hou ook van die geborgenheid.

Die dorpsbiblioteek hier in Stellenbosch het ‘n hele rak vol van jou boeke en nog meer. Hulle almal word dikwels uitgeneem. Mense léés jou. Kan jy vir aspirantskrywers ‘n paar wenke gee? Hoe skryf mens boeke wat so toeganklik is?

Ai, as ons hier Suid Afrika ook maar gesubsidieerde tantieme op die uitneem van biblioteekboeke kon gekry het soos in ander lande!

Wenke sou wees: skryf opreg uit jou hart en uit jou menswees uit. Moenie probeer slimmer of ouliker klink as wat jy is nie. Moet nooit jou leser onderskat nie – die meeste is slimmer en wyser as jy. Moenie mense probeer bekeer tot jou denkwyse of hulle ’n les probeer leer of opvoed nie; jou taak is bloot om hulle te vermaak. Moenie óór jou karakters skryf nie, wórd hulle.

Jou boeke word slegs by LAPA uitgegee – is ek reg? Hoe het dit gebeur? Wie’t vir wie gekies?

Ek gee die afgelope sewe jaar hoofsaaklik by LAPA uit. Ek werk ook vir hulle as manuskripontwikkelaar en doen vir hulle van tyd tot tyd navorsing oor genres en dies meer. Hulle is baie goed vir my en skep vir my geleenthede om my inkomste aan te vul. Ek het egter voorheen, asook tussendeur, by ’n verskeidenheid uitgewers uitgegee, soos Perskor, Kagiso, Human & Rousseau en Tafelberg. En later vanjaar verskyn Labirint, ’n spanningsroman, by die herrese Queillerie, wat nou deel is van die NB-stal.

 

 

Jy is ‘n prominente bydraer in Die Afrikaanse Skryfgids en skryf onder andere oor die stylelemente van prosa (beplanning, karakterisering, perspektief, tyd, ruimte en dialoog).Die Maanschijnbaai-tweeluik, skryf jy in Jo & Sue (die eerste boek), is geïnspireer deur Hawestraat in Kleinmond. Dis nie vreeslik ver van waar jy op die oomblik bly, in Stanford, nie. Die tekstuur van die omgewing het raakpunte, hoewel mense natuurlik heftig reageer dat plekke soos Bettysbaai en Pringlebaai en Hermanus en Kleinmond en Onrus almal verskil. Hoekom toe Kleinmond, hoekom daar? Of het die plek jou gekies, soos Sue jou gekies het, met haar “f”-woord en al?

Ek het Hawestraat in Kleinmond so ’n paar jaar gelede ontdek. Dié straatjie, met sy bont versameling winkeltjies, tesame met die pragtige omgewing, het my aangegryp. Dit het intussen baie verander, maar daardie unieke atmosfeer wat ek destyds aangevoel het, het in my hart onveranderd gebly. Ek kan nie sê Hawestraat in Kleinmond het die tweeluik geïnspireer nie, maar dit was wel die inspirasie vir my Hawestraat in Maanschijnbaai, die denkbeeldige dorpie waar die verhaal afspeel. Dis baie moeilik om te bepaal wat die hoender en wat die eier is. Dis eintlik meer soos kruisbestuiwing.

 

 

Wat en wie lees jy graag?

Vir ontspanning verkies ek fiksie. Ek lees redelik wyd. Ek hou baie van spanningsromans in alle gedaantes, maar geniet ook nou en dan ernstiger boeke. Net nie te swaarwigtig nie. Ek hou van toeganklike leesstof waarin daar nie te veel gewroeg word nie, en ás daar gewroeg word, dit ten minste vermaaklik of verteerbaar aangebied word. Ek lees liefs nie van kinders wat gemolesteer is of andersins ly nie. Ek verkies positiewe eindes – nie noodwendig sprokieseindes nie, maar ek wil goed voel nadat ek ’n boek klaargelees het. Daar is genoeg dinge in die werklike lewe wat mens neerslagtig laat voel. Ek begryp nooit waarom mense, wanneer hulle ’n fiksieboek aanprys, sê dis goed want dis so na aan die werklikheid nie. ’n Storie moet natuurlik binne die konteks geloofwaardig wees, maar fiksie is per definisie die produk van iemand se verbeelding. ’n Boek moet my juis meevoer na ’n ander wêreld.  As ek oor die werklikheid wil lees, lees ek niefiksie of faction, maar dit doen ek vir navorsingsdoeleindes, nie ontspanning nie.

Hoe ervaar jy die Afrikaanse literêre wêreld: as snobisties of as ontvanklik vir alle genres?

Dis ’n baie gevaarlike vraag om te beantwoord as mens in Afrikaans skryf. Ons visdammetjie is baie klein en ’n mens se opinie kan maklik aanstoot gee – selfs wanneer dit nie noodwendig as kritiek bedoel word nie.

My subjektiewe waarneming is dat ’n literati-element nog steeds die septer swaai. Daar word steeds neergesien op ontspanningsfiksie. Boekeblaaie staan steeds te min spasie aan nieliterêre boeke af. Dit dra daartoe by dat daar steeds ’n snobistiese element, onder meer in leeskringe, bestaan. Dis hartseer, want dis juis ontspanningsfiksie wat gewone mense aan die lees kan kry en kan hou. Wat lesers kan teruglok Afrikaans toe.

Daarby moet ek egter ook sê, dit gaan nou al veel, veel beter as toe ek sewentien jaar gelede begin skryf het. Daar is selfs by akademici al ’n groter begrip vir ontspanningsfiksie. Resensente begin darem al onderskeid tref tussen genres.

Briewe waarin leesliefhebbers bieg dat hulle nog altyd, of vir baie lank, net Engels gelees het en nou vir die eerste keer agterkom watse lekker boeke daar ook in Afrikaans uitgegee word, is ’n ligpunt in my lewe.

Dis tans ’n bloeityd vir Afrikaanse ontspanningsfiksie. Dit sal gaaf wees as dit erkenning kry in die ivoortorings. En dit sal nog gawer wees as ontspanningsfiksie dieselfde soort ondersteuning kry as literêre fiksie. Daar is byvoorbeeld feitlik geen pryse vir ontspanningsfiksie nie. Dis eintlik net die Veertjies wat nou afdelings vir ontspanningsfiksie insluit. Vergelyk dit met hoeveel literêre pryse daar is.

 

 

 

Op jou webwerf word Jaybee Roux in Beeld aangehaal waar hy oor jou skryf: “Al is Paul se spanningsromans eerder op emosie as intrige gebou, is daar op bykans elke bladsy verwikkelinge.” Deon Meyer het al in 2006 met jou gesels oor jou spanningsromans – duidelik wérk dit. Maar mens hoef nie jou siel hoef te verkoop ter wille van ‘n genre nie. Jy kan spanning skryf, maar alles hoef nie skop skiet en donner te wees nie. Menseverhoudinge kan dalk nog meer intrige en spanning skep as ‘n naelbyt-plot. Of hoe dink jy? Hoe het jy die skuif gemaak van chick-lit se helde en heldinne na bloed en derms?

Ek het voorheen reeds baie oor genres uitgewei. Simplisties gestel is daar drie oorhoofse prosagenres, naamlik literêre fiksie, algemene fiksie en ontspanningsfiksie.

Ontspanningsfiksie word ook genrefiksie genoem, omdat verskeie herkenbare genres in ontspanningsfiksie geïdentifiseer kan word. Die enigste genre wat werklik streng begrens is, is romanses (boeke soos dié wat verskyn onder die Romanza-drukkersnaam). Die rede daarvoor is dat lesers baie spesifieke verwagtinge van die romanse het. Ander genres word hoofsaaklik ingedeel volgens waar die klem merendeels val. Dit gaan nie daaroor dat stories in boksies gedruk word of dat dit resepmatig is nie. Boekhandelaars wil bloot boeke volgens soort kan katalogiseer, sodat die leser wat van sekere soorte stories hou, dit makliker kan opspoor. Daarom moet uitgewers vir boekhandelaars kan sê in watter genre ’n boek val.

Mens verkoop dus nie jou siel vir ’n genre nie. As skrywer kan jy kies watter een se oorhoofse kenmerke jou die beste pas, en druk dan meestal jou eie stempel daarop af.

Wat my genre-skuif betref: Ek het nie chick-lit geskryf nie; dis ’n genre waarvoor ek nie aanleg het nie. Ek het grotendeels romantiese fiksie geskryf, en in die begin van my loopbaan spesifiek romanses. Ek het egter ook twee ernstiger boeke geskryf, sowel as ’n spanningsroman wat so half oorhel na ’n sielkundige riller. Nadat ek die Davelvroue-reeks voltooi het, ’n reeks van sewe historiese romanses, het ek egter besluit dis tyd vir ’n koersverandering. Omdat ek so lief is daarvoor om spanningsromans te lees, was dit ’n natuurlike keuse.

Spanningsroman/misdaadfiksie is egter ‘n baie wye term. Daar is geweldig baie soorte stories wat onder dié sambreel skuil. Die soort storie wat ek met inagneming van my destydse leserskorps gekies het, word in Engels “romantic suspense” genoem. Dis ’n genre wat met een voet in romantiese fiksie en die ander in misdaadfiksie staan. Die klem val ewe sterk op die ontwikkeling van ’n liefdesverhouding as op die identifisering van die moordenaar/skurk. Daar was destyds nie sulke boeke in Afrikaans nie, alhoewel speurromans ’n groot deurbraak gemaak en baie gewild geraak het. (Meer oor die verskille hier.)

Die koersverandering  was ’n baie stywe leerkurwe en ek het Springgety, die eerste in die Gys Niemand-reeks, minstens drie keer in sy geheel oorgeskryf. Die vier wat daarop gevolg het, het ook nie alte maklik gekom nie, maar dit was ’n lekker uitdaging.

Ná die Gys-reeks wou ek asemskep, weg van lyke en moordenaars af. Ek het toe die Maanschijnbaai-tweeluik geskryf. Dit kan as ’n familiedrama gekategoriseer word, alhoewel dit eiesoortig is, en nie net omdat dit oor twee vet boeke afspeel nie. Dit was weer eens baie moeilik, omdat ek skielik nie meer ’n moord-spanningslyn (of vir Gys) gehad het om op te steun nie. Daar was net die vier Calitze en hulle dinge. Jo & Sue het in Julie verskyn en Nan & Jeannie behoort in September/Oktober op die rakke te wees. Ek sal nog moet sien hoe lesers daarop reageer.

Die spanningsgenre het egter intussen weer begin roep en die gevolg was Labirint. Daar is weer ’n liefdeslyn, maar dié kry minder klem en is minder romanties as byvoorbeeld in die Gys Niemand-reeks. Sover ek weet, verskyn Labirint hier in November rond.

Hoe doen jy navorsing vir spanningsromans? Het jy ‘n vriendelike oom in ‘n meubelwinkel – of anders gestel: Ken jy ‘n speurder?

Ek wou nooit ’n speurder in my spanningsromans hê nie, maar Gys Niemand het hom nou eenmaal in my stories ingewurm en my baie geld, tyd en ellende gekos. Toe ek besef hy is daar om te bly, het ek ’n hele klomp boeke gekoop wat spesifiek vir skrywers geskryf is om te verduidelik hoe forensiese, speur- en ander dinge werk. Uiteraard is almal op die Amerikaanse regstelsel en prosedures toegespits en verwys na die Amerikaanse forensiese arena. Dis egter waar ek ’n basiese agtergrond gekry het. Ek het ook vir omtrent twee jaar lank saans feitlik net Crime and Investigation Channel en soortgelyke programme gekyk en misdaadfiksie in al sy gedaantes gelees tot dit by my ore uitloop.

Om te probeer verstaan hoe dinge in Suid-Afrika werk, het ek hier op die dorp gaan kers opsteek by kaptein Sarena Hugo. Sy het my ’n goeie gevoel gegee van hoe dinge op die platteland inmekaar steek en ’n paar goeie wenke gegee oor prosedures en dies meer. Toe kom ek agter Daleen Cronjé, ook ’n inwoner en ’n voormalige kaptein in die SAPD, is ’n entoesiastiese leser. Sy was bereid om my manuskrip te lees om blapse uit te wys en te help red wat daar te redde is. Sy lees steeds my manuskripte vir my, of, as daar nie genoeg tyd is nie, minstens die toepaslike dele. Sy is haar gewig in goud werd.

In Dryfhout het ek egter met forensiese kwessies gesit. Ek moes byvoorbeeld êrens probeer uitvind hoe lyk ’n liggaam na soveel ure in die water as dit of dat gebeur het en die temperatuur sus of so was. En daar ontdek ek toe vir DP Lyle. Ek het sy boeke geken waarin hy vir skrywers oor forensiese aangeleenthede antwoord, maar my vrae is nie daarin aangespreek nie. Toe e-pos ek hom, maar verwag nie regtig ’n antwoord nie.  Twee dae later kom daar toe egter wel ’n antwoord – en in ongelooflike besonderhede boonop. My vrae en sy antwoorde, so terloops, is opgeneem in sy jongste boek, More Forensics and Fiction: Crime Writers’ Morbidly Curious Questions Expertly Answered.

Met die Maanschijnbaai-tweeluik het ek nou weer vasgebrand met regsaangeleenthede. Nog ’n engel het op die horison verskyn, naamlik Mariki Chin, ’n prokureur, en sy het my nou weer voorgestel aan ons staatsaanklaer in Hermanus, Christa Nortjé. Die twee van hulle het my van groot verleentheid en onnoembaar baie blapse gered.

In die afgelope paar jaar het ek dus ’n hele span kundiges versamel sonder wie se bereidwilligheid om my te help ek nooit sou kon klaargekom het nie.

Omdat almal se tyd beperk is, probeer ek so min as moontlik op my engele se knoppies druk en doen ek die basiese navorsing sover as moontlik self deur middel van allerlei bronne wat mens maar moet uitsnuffel. Maar hierdie engele is my vangnet.

En kom ons gesels seks – “catching lightning in a bottle”. In Brittanje is die Bad Sex Awards wat deur die Guardian toegeken word aan skrywers wat verleentheidwekkende sekstonele skryf, bekend. Hoe kry jy dit reg om die slaggate te vermy en om seks te skryf wat smaakvol is? En: Hoeveel seks is nodig in ‘n boek en hoe grafies moet dit raak?

Die karakters en hulle geaardhede bepaal of daar seks in die storie sal wees of nie, en indien wel, hoeveel. Die genre bepaal dikwels watse soort seks en hoe grafies dit sal wees. Erotika kan nie sonder eksplisietheid nie; misdaadfiksie byvoorbeeld wel, maar dit hoef nie. Seks in romantiese fiksie is nou weer nie grafies nie, omdat dit gaan oor emosie en nie soseer die fisieke nie.

Ek skryf dus streng gesproke nie seks nie. Ek skryf emosie. En dis emosie waarna Leslie Wainger verwys het toe sy gesê het “it’s like catching lightning in a bottle”. Dis baie, baie moeilik om emosie op papier te sit sonder dat dit te stroperig of banaal klink, of purple prose word.

Dis net so moeilik om nie in ’n mens se eie clichés te verval nie, en ek skram toenemend weg van liefdestonele. Ek glo nie mens hoef die besonderhede van die daad te gee nie, maar ek probeer wel om die passie (’n emosie) tussen twee mense weer te gee.

Die doel van die Bad Sex Awards is klaarblyklik om kru, onsmaaklike en oorbodige  sekstonele te ontmoedig. Dis goed en wel, maar daar is vir my iets venynigs aan die toekenning. ’n Stuk teks word buite konteks uitgestal. So ’n toneel kan moontlik juis karakteriserend bedoel of binne konteks funksioneel wees, maar word nou uit verband geruk en belaglik gemaak. Wat bereik die toekenning werklik?

By die LAPA-kuier het ek aan tafel gesit saam met lede van jou aanlyn-boekklub – hulle het die naam genoem ook – iets van “Lekkerlees-boeke” – maar nou kry ek aanlyn niks van julle opgespoor nie. Dis wel vir my duidelik dat julle oor baie dinge gesels: van boeke, seks, ens. Vertel my nog van julle groep, asseblief?

Die Lekkerlees Boekrak is ’n heerlike, jolige Facebook-groep. Almal het een ding gemeen, naamlik dat ieder en elk gek is oor lees. Ons uitgangspunt is dat smaak verskil en dis elkeen se goeie reg om van sekere boeke te hou en nie van ander nie – dit sluit skrywers wat lede is se boeke in. Ons hou nie van mense wat goor is met mekaar of ander lede se opinies afkraak nie. Ons respekteer mekaar se voorkeure en dit wat hulle  mag afkeur.

Dit is heerlik om mede-Rakkers by boekbekendstellings te ontmoet, en ek waardeer dit geweldig dat twee van hulle LAPA se Leeskringseminaar bygewoon het. Boeke en ons liefde vir lees bring ons bymekaar en ek het al wonderlike skrywers op die Rak ontdek van wie ek andersins nie sou geweet het nie.

 

 

 

  • 1

Kommentaar

  • Dankie! Chanette se boeke is almal 'n plesier, soveel te meer hierdie een wat op my "voorstoep" afspeel!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top