Speedy (Bokslagter) Gonzales

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Dit is opvallend hoe baie sake in ons hofverslae gerapporteer word oor onmin tussen bure wat deur diere veroorsaak word. Neem nou maar die geval van twee bure, mnre Speedy en Scholtz.

Speedy was ’n beesboer op die plaas Zoetvlei in die Vryburg-distrik. Langer as 23 jaar het hy ’n doring in die vlees gehad: sy buurman, Scholtz, se klompie skape en boerbokke. Of die naam van Speedy se plaas iets daarmee te doen gehad het, weet ons nie, maar om een of ander rede kon niks Scholtz se skape en boerbokke weghou van Zoetvlei se weivelde nie – nie Scholtz se veewagter nie, en ook nie die grensdraad tussen die twee plase nie. En Scholtz het volstrek geweier om die draad te help verbeter en só sy diere tuis te hou. Hulle kon eerder geskut word – wat ook twee maal gebeur het, totdat die skut só ver verskuif is dat dit nie lonend was om hulle soontoe te jaag nie.

Praat het ook nie gehelp nie. Telkens wanneer Scholtz aangespreek is oor sy halsstarrige vee, was hy vol verskonings en beloftes. Sy vee sou hy verkoop, het hy gesê, maar daarvan het dadels gekom – hulle het gebly en hulle strooptogte op Zoetvlei het voortgeduur.

Uiteindelik het Speedy op ’n keer twee van Scholtz se skape laat slag en hom gewaarsku dat die "boete" – ek skryf dit met opset tussen aanhalingstekens – by ’n volgende oortreding vier skape sou wees.

Vir ’n rukkie het Speedy se eiegeregtigheid die gewenste uitwerking gehad, maar dit was van korte duur.

So het dit van seisoen tot seisoen aangegaan. Speedy het gekla en Scholtz het belowe, maar niks het verder gebeur nie. Tot op ’n mooi lentedag in 1982. Daardie dag is 108 bokke weer deur die draad na Zoetvlei se weelderige weivelde toe. Speedy het op hulle afgekom – én ... hy is ’n man van sy woord. Gedagtig aan sy vorige waarskuwing, het hy vier van sy werknemers aangesê om elkeen ’n bok te slag en die vleis vir hulle te neem. Nou soos jy weet, sal geen plaaswerker hom twee maal laat nooi nie; Speedy se werkslui ook nie.

En toe wip Scholtz hom. Hy stel die polisie in kennis en Speedy en sy vier werknemers is oplaas aangekla van diefstal van die vier bokke. Die werknemers is vrygespreek, maar Speedy is skuldig bevind. Hy het na die hooggeregshof in Kimberley geappelleer en toe hy dáár nie suksesvol was nie, het hy hom na die appèlhof in Bloemfontein gewend.

Speedy se saak was dat hy nie bedoel het om enige misdaad te pleeg nie en dat hy, in die lig van vorige gebeure, vas geglo het dat hy daarop geregtig was om die bokke te laat slag. Ná die eerste keer, toe hy twee skape laat slag het, het hy en Scholtz immers die aangeleentheid bespreek en toe het hy vir Scholtz duidelik gewaarsku dat die "boete" die volgende keer vier diere sou wees. Daar was dus, wat Speedy betref, ’n duidelike verstandhouding tussen hom en Scholtz oor wat sou gebeur indien die vee wéér sou oortree, en hy was vas van voorneme om sy dreigement uit te voer – anders sou Scholtz nooit leer nie.

Die appèl is deur appèlregter Hefer en nog vier ander appèlregters aangehoor en op 12 Maart 19851 het die appèlhof goeie nuus vir mnr Speedy gehad. Die hof het beslis dat die werklike basis van sy verweer was dat hy onbewus was van die wederregtelikheid van sy optrede en dat hy, inteendeel, geglo het in die regmatigheid daarvan. Appèlregter Hefer het beslis dat die swak plek in die Staat se saak teen Speedy die feit was dat die landdros geen nadelige geloofwaardigheidsbevinding teen hom gemaak het nie. Hy het, met ander woorde, nie bevind dat Speedy nie die waarheid gepraat het toe hy sy getuienis gelewer het nie.

Regter Hefer het bevind dat mnr Speedy dit werklik ernstig bedoel het die eerste keer toe hy die twee skape geslag het, dat dit die volgende keer vier van Scholtz se diere sou wees. Die hof het geen twyfel gehad dat hierdie boodskap hard en duidelik aan Scholtz oorgedra is nie. Of Speedy daarop geregtig was om Scholtz voor só ’n keuse te stel, is natuurlik ’n ander vraag, maar die hof was van mening dat dit nie onredelik was dat Speedy onder die indruk verkeer het dat hy ’n ooreenkoms met Scholtz gehad het dat hy voortaan daarop geregtig sou wees om ’n "boete" op te lê nie. Die hof het dus tot die gevolgtrekking gekom dat die Staat nie daarin geslaag het om te bewys dat Speedy bewus was van die wederregtelikheid van sy daad nie. Wederregtelikheidsbewussyn is immers een van die elemente van ’n misdaad wat die Staat moet bewys ten einde ’n skuldigbevinding te kan verseker.

Speedy se appèl het dus geslaag en sy skuldigbevinding en vonnis is tersyde gestel.


1 S v Speedy 1985(2) 782 (A)

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top